HOU JOU HART OOP

Gary Wilkerson

“Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ‘n stad inneem” (Spreuke 16:32).

Is dit nie interessant nie? Ons wil ons lewens vir die Evangelie gee en na die sendingveld gaan, maar as ons nie volwasse word en groei en ons eie hart en siel voed nie, dan sal om ‘n stad in te neem eenvoudig net dit wees – ‘n stad inneem. En daar sal ‘n stad vol ellendige, gefrustreerde, moedelose, depressiewe mense wees.

Om ‘n stad in te neem vir die koninkryk van God beteken eintlik om ‘n hart so vol van die blydskap van die Here te hê, dat ons gedring word die volgende rigting in te slaan. Dit beteken ons moet aandag gee aan ons eie hart, waak en “ons eie stad” bewaar.

“Bewaar jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23).

Begryp jy wat hier gesê word? Al die dinge van die lewe vloei uit die hart. Die meeste van ons as gelowiges streef om hierdie dinge te verkry, maar dit is reeds vir ons gegee in Christus Jesus.

Ons leer dat die Nuwe Verbond van die kruis van Jesus Christus ‘n voltooide werk is. Al die vrede en blydskap wat Hy ooit vir jou gaan gee, is reeds vir jou gegee.

Wanneer jy pyn ly en depressief en moedeloos voel, sê jy dat jy nie hierdie dinge wil voel nie. Maar wanneer jy die slegte gedeeltes in jou hart afskakel, gaan die pyn weg, maar jy skakel ook die goeie gedeeltes af.

So, hou jou hart oop en vra die Heilige Gees om jou te help om die pyn in jou lewe te hanteer. Moenie daarvan af wegvlug nie. Moenie daarvoor wegkruip nie. Versorg jou eie wingerd – hanteer die kwessies. Maar onthou, dit alles neem tyd, so moenie ongeduldig word terwyl jy die Heilige Gees toelaat om sy werk te doen nie.