HOOP VIR HULLE WAT SPYT IS

David Wilkerson (1931-2011)

“Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtigheid gepynig is” (Psalm 107:17).

Volgens die woordeboek, is ‘n dwaas iemand wat oordeel of goeie verstand kortkom – een wat dom foute maak. Hy doen sy eie ding sonder om aan die gevolge te dink.

Wat kan meer dwaas en onnadenkend wees as om in seksuele aktiwiteit betrokke te raak met ‘n onbekende persoon. Die hele wêreld weet dat seksueel oordraagbare siektes (SOSe) ‘n internasionale probleem is, maar mense dwarsdeur die wêreld kry dit steeds. Mense weier bloot om waaksaam te wees. En nou ly talle die gevolge van hulle totaal irrasionele dade.

‘n Toenemende aantal Christene betaal ‘n hoë prys vir dwase dade van die verlede. Sommige sak weg in ‘n finansiële gat as gevolg van dwase spandering. Ander is vasgevang in ‘n verskriklike huwelik omdat hulle roekeloos daarin gejaag het.

Jy mag dalk spyt wees oor een of ander ding, maar ek wil jou gerusstel dat jy nie sonder hoop hoef te lewe nie! Moenie tou opgee nie! God het vir jou sy Woord gegee dat Hy nie die dwase in die steek sal laat nie. “Toe het hulle die HERE aangeroep in hulle benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red” (Psalm 107:19-20).

Die Here weet daar is dinge wat ons nie kan verander nie, woorde wat ons gesê het wat ons nie kan terugneem nie. Hy vra ons egter nie om boetedoening of om beloftes te maak nie. Al wat Hy vra, is dat ons na Hom sal uitroep in ons moedeloosheid en Hy sal genees, ons lewe verleng en bonatuurlike genade voorsien.

Skep moed! God kan dalk iemand stuur met sy Woord of miskien sal jou herder ‘n boodskap bring wat net vir jou bedoel is. Die Heilige Gees kan jou lei na ‘n spesifieke genesende gedeelte in jou daaglikse Bybelstudie. Maar jy kan verseker wees dat wanneer jy tot God uitroep, sal Hy ‘n uitweg stuur.