HONGER VIR GOD SE WOORD

David Wilkerson

“Die blydskap in die Here - dit is jul beskutting” (Nehemía 8:11). Toe hierdie woorde aangekondig is, het die Israeliete pas uit Babel teruggekeer waar hulle in ballingskap was. Onder die leierskap van Esra en Nehemía het die volk die bouvallige mure van Jerusalem herbou. Nou het hulle beplan om ook die tempel te herbou en die volk te hervestig.

Nehemía het ‘n spesiale vergadering by die stad se Waterpoort, binne Jerusalem se herboude mure, byeengeroep (sien Nehemía 8:2). Die eerste ding wat gebeur het, was die verkondiging van God se Woord. ‘n Honger na die Woord het ontwikkel onder die volk, so, dit was nie nodig om hulle aan te por om te luister nie. En hulle was ten volle bereid om hulleself aan die gesag van God se Woord te onderwerp, want hulle wou daardeur regeer word en aan die waarheid daarvan voldoen.

Dit was verstommend dat Esra vir vyf of ses uur vir die volk gepreek het. Wat ‘n ontsaglike toneel. Ek glo dit sal moeilik wees om so ‘n gebeurtenis in die moderne kerk te sien. Ware herlewing kan egter nooit sonder hierdie tipe alles-verterende honger na God se Woord plaasvind nie.

Moenie ‘n fout maak nie, by die Waterpoort in Jerusalem was daar geen welsprekende prediking nie. Esra het ook nie ‘n opspraakwekkende preek gelewer nie. Liewer, hy het direk uit die Skrif gepreek, terwyl hy vir ure aaneen gelees en die betekenis daarvan verduidelik het. En terwyl die mense geluister het, het hulle opgewonde geword.

Soms was Esra so oorweldig deur dit wat hy gelees het, dat hy eers moes ophou lees om “die grote God te loof” (Nehemía 8:7). Die heerlikheid van die Here het magtig neergedaal en almal het hul hande in lofprysing na die Here opgehef. Met berou en gebrokenheid “het hulle gebuig en die Here aanbid met hul aangesig aarde toe” (Nehemía 8:7). Daarna het hulle opgestaan om meer te beleef.

Daar was geen manipulering vanuit die preekstoel nie, geen dramatiese getuienis nie. Daar was nie eens musiek nie. Hierdie mense het slegs ‘n oor gehad om alles te hoor wat God vir hulle gesê het.

Geliefde, ek glo dat die Here begeer om steeds op dieselfde wyse onder sy kinders te werk vandag. As ons hierdie soort herlewing en herstel gaan sien, moet ons ‘n honger en opgewondenheid hê oor die Skrif, net soos Esra!