HONGER NA DIE WOORD VAN GOD

Jim Cymbala

Soos ons reeds weet, is die Christelike kerk gebore toe die Heilige Gees uitgestort was.
In die ure daarna, het duisende mense wonderbaarlik hulle tot die geloof bekeer en die nuwe gelowiges het tot 'n geïnspireerde nuwe ritme van gemeentelewe gekom. “En hulle het volhard in die leer van apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in gebed” (Handelinge 2:42).

In die begin is Christelike leerstellings mondelings oorgedra, omdat daar geen geskrewe Nuwe Testament was nie. Die apostels het die evangelie en die meegaande leerstellings, wat hulle by Jesus gehoor het, verkondig. Dit was die Woord van God waarin die vroeë gelowiges “volhard het.”

Daardie soort toewyding en volharding in die Woord is altyd 'n belangrike teken dat die Heilige Gees werksaam is in 'n mens of in 'n kerk. Gelowiges het 'n honger om die Woord van God te hoor, te lees, te bestudeer en in die besonder, te verstaan.

Dit maak natuurlik sin, omdat die Heilige Gees die Een was wat die Bybel geïnspireer het. Hy was die outeur wat die skrywers geïnspireer het. Geesbeheerde Christene hoef gewoonlik nie hulself te forseer om te Bybel te lees nie; die Gees gee vir hulle 'n heilige aptyt daarvoor.

Die Heilige Gees is die Gees van Waarheid en daarom sal Hy ons altyd lei na God se waarheid. Wanneer 'n mens min belangstelling toon in die Woord, of as die Skrif oninteressant en vervelig lyk vir ' n kerkliggaam, is dit 'n bewys dat iets ernstig verkeerd is. As ons geen eerbied vir die Woord en ontsag vir sy gesag het nie, en as ons onsself nie verneder om te hoor wat God gesê het nie, is ons op die verkeerde pad.

Ek weet dit is vandag moontlik om groot getalle mense op Sondae bymekaar te kry sonder 'n sterk beklemtoning van die Woord. In werklikheid is baie van die mense wat in die kerkbanke sit, moontlik heeltemal tevrede om nie noukeurige Bybel prediking en uitleg te hoor nie. Maar wanneer ons van die Woord af wegdwaal en dink ons kan daarsonder lewe, dag na dag, week na week, hou ons op om geestelik te groei en maak ons onsself oop vir geestelike misleiding. Die apostel Petrus het geskryf, “Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei” (1 Petrus 2:2, klem bygevoeg). Die Woord van God bevat die belangrike geestelike voedingstowwe wat ons nodig het — elke dag — om in Christus te groei.

 

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in 'n klein bouvallige gebou in 'n ongemaklike deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is 'n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.