HOE VOEL JY?

David Wilkerson (1931-2011)

Baie Christene meet hulle geestelike groei aan hoe hulle voel en hulle is oortuig dat hulle nie geestelik groei nie. Hulle woon gereeld kerk by, hoor God se woord verkondig word, lees hulle Bybels en bid ywerig. Maar hulle voel dat hulle nie veel vordering maak nie. Een gelowige het vir my gesê, “ Ek het gewoonlik maklik voor die Here geween, maar nou is ek nie meer so teergevoelig nie. Ek groei eenvoudig net nie.”

Paulus vergelyk ons geestelike groei met die groei van ons liggame. Hy sê ons siele word op dieselfde manier gevoed as ons liggame: “Die Hoof . . . uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word “ (Kolossense 2:19).

Eenvoudig gestel, soos wat jy op Christus (die Hoof) vertrou en in Hom bly, word ‘n nimmereindigende vloei van Sy lewe in jou siel ingepomp. Jesus is ‘n konstante lewenskrag in jou wese, ‘n lewende stroom wat nooit ophou vloei nie. Dus vloei sy lewe voortdurend in jou in, selfs wanneer jy slaap. Hy voorsien ‘n nuwe toevoer van sy lewe vir jou elke dag, maak nie saak hoe jy aan die buitekant voel nie.

Jesus is die brood uit die hemel, vir ons gestuur om ons geestelik immuunstelsel op te bou teen allerhande sondes. Ons sien dalk nie uitwendige tekens hiervan nie (net soos ons ook nie ons fisiese liggaam se immuunsisteem sien sterker word nie). Maar God se woord belowe dat almal wat Jesus liefhet, sterker sal groei in hulle geestelike immuniteit.

Dink hieroor na. Soms mag jy dalk nog versoek word, maar oor die jare het jy ‘n toenemende krag gevind om die wêreld se verleidings teë te staan. Jy mag dink jy groei nie en jy beweeg nie vorentoe nie. Maar God het aan ons ‘n verbondsbelofte gegee: “Geplant in die huis van die Here, sal hulle groei in die voorhowe van onse God” (Psalm 92:14). So wees bemoedig – jy groei wel!