HOE ONTWIKKEL ONS VERTROUE IN GOD?

David Wilkerson (1931-2011)

Om God se rus binne te gaan, moet ons ons eie pogings verwerp. Geloof alleen laat ons toetree tot hierdie volmaakte rus: “Want ons wat geglo het, gaan die rus in” (Hebreërs 4:3). Eenvoudig gestel, ons moet ons harte daarop instel om te glo dat God getrou is om ons te verlos in alle omstandighede, maak nie saak hoe onmoontlik dit mag lyk nie.

“Want wie sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne” (4:10). Wanneer ons rus in Christus, probeer ons nie langer onsself dapper hou in moeilike tye nie. Ons pomp nie een of ander skynheilige aanvaarding van ons krisis op nie en ons bekommer ons nie dat ons sal toegee aan vrees en God se liefde begin bevraagteken nie. Kortliks, ons “werke mentaliteit” hou op en ons vertrou bloot die Here.

Hoe ontwikkel ons so ‘n vertroue? Ons soek die Here in gebed, oordink sy Woord en wandel in gehoorsaamheid. Jy mag dalk kapsie maak, “Maar dit is alles werke.” Ek verskil. Dit is alles dade van geloof. As ons hierdie dissiplines toepas, vertrou ons dat die Heilige Gees in ons werk en ‘n reservoir van krag opbou vir ons tyd van nood. Ons mag dalk nie God se versterking binne-in ons voel nie, of sy krag in ons voel opbou nie. Maar wanneer ons volgende beproewing kom, sal hierdie hemelse bronne geopenbaar word binne-in ons. Trouens, dit is die belangrikste rede waarom ek die Here ywerig soek – vas, bid, bestudeer en soek om sy gebooie te gehoorsaam deur die krag van die Heilige Gees.

So lank as wat jy die Here dien, sal die duiwel jou nooit met rus laat nie. Jy sal intense stryd en verrassingsaanvalle beleef en ten spyte van al jou vorige oorwinnings, sal jy altyd die hemel se bronne nodig hê om jou te help verdra.

Besluit om ‘n soldaat te wees wat ten volle toegerus is vir die slagveld. Wanneer die vyand jou skielik aanval, gaan jy alle beskikbare ammunisie nodig hê. Jy sal reserves wil hê om van te put van; jy sal die stryd op jou knieë oorwin voor God, nog voor die konflik.