Hoe gaan ons dit maak?

Baie Christene word elke oggend wakker met onbeskyflike probleme voor hulle – fisiese pyn, emosionele lyding, finansiële worsteling. Baie is so oorweldig deur moeilikhede dat hulle dink, “Dit is te veel vir my om te hanteer. My probleme is besig om my te oorweldig! Ek het nie die krag om hierteen te stry nie. Hoe gaan ek oorleef?”

Ons bediening ontvang daagliks soveel briewe van Christene wat in buitengewone moeilike omstandighede verkeer. Onlangs het ek en my vrou ‘n dag lank hierdie briewe deurgelees:

Een godvresende vrou skryf: “Ek is ‘n ouma, wat vyf-en-dertig jaar getroud is. Maar nou verwoes my owerspelige man ons familie. Hy was geesvervuld en is dikwels deur God gebruik. Maar nou is hy ‘n verbitterde vrouejagter, vol wellus, laat in sy lewe. Bid asseblief vir my. Hy het alle liefde uit my hart verdryf en ek is so ongelukkig.”

‘n Wolk van lyding het oor hierdie vrou saamgepak. Sy is nog lief vir haar man en sy wil hê hy moet huis toe kom – maar hy het haar van alle emosies beroof. Sy dink dikwels, “O, God, dit gaan my vernietig. Ek dink nie ek kan nog meer verdra nie. Hoe kan ek voortgaan?”

‘n Ander vrou skryf: “Ek leef nou al vir meer as sewe jaar met ‘n verswakkende derm-werking. My man is ook siek. Ons finansies is haglik, alhoewel ons nooit geld uitgee op onnodige dinge nie. Nou is my ou vader van nege-en-tagtig nog sterwend aan kanker. Bid asseblief vir ons.”

Elke dag staan hierdie vrou voor ‘n sterwende vader, ‘n siek man, oorweldigende fisiese pyn en finansiële nagmerries. Ek wonder hoe dikwels roep sy uit: “Here, hierdie vyande is sterker as ek. Hoe kan ‘n swak, hulpelose mens dit verduur? Hoe sal ek deurkom?”

‘n Prediker van Tennessee skryf: “Verlede Julie het ek ‘n ingrypende prostaat-operasie ondergaan, vol kanker. Die dokters het ook ander geslag-spiere verwyder. Hulle dink hulle het al die kanker verwyder, maar hulle is nie seker nie. Nou is ek ook diabeties en het ‘n maaagseer. Sal julle asseblief vir my bid?”

Watter ontsaglike vyande moet hierdie man elke dag beveg! Hy leef in voortdurende angs vir die kanker. Hy het die pyn van diabetis om te verdra, asook ‘n maaagseer. Ek wonder hoe dikwels vra hy, “Hoe kan ek dit aanhoudend verdra? Hoe gaan ek dit maak?”

‘n Bejaarde suster in die Here skryf: “Ek sal in Maart een-en-tagtig wees. Ek het artiritis en diabetes. My rug en bene is swak, ek kan skaars loop. Omdat ek alleen bly, moet ek my eie huiswerk doen. Ek het nie geld of lewende familie nie. Bid asseblief vir my.”

Ek stel my voor dat hierdie lydende vrou, elke môre moet worstel, net om op te staan, om kos te kok en die huis aan die gang te hou; sonder enige hulp. Sy dink seker: “Hoe sal ek deur nog ‘n dag kom? Wat sal met my gebeur as ek nie meer kan opstaan nie?”

’n Ander liewe suster skryf: “Ek het nou net berig gekry dat my man terminale kanker in sy keel het. Hy was ‘n godvresende man en ‘n wonderlike pa vir my veertienjarige seun. Bid dat ek sterk sal bly, en dat my geloof sal verdiep deur hierdie ervaring.”

Soos so baie ander wat vir ons geskryf het, roep hierdie vrou uit om krag te ontvang om ‘n reusagtige probleem te oorkom.

Ons het ‘n brief van ‘n vrou in Texas ontvang, wat vir ons van ‘n tragedie vertel het, waarvan ons reeds oor die nuus gehoor het. Sy skryf:

”Bid asseblief vir ons. ‘n Tragiese gebeurtenis op die 4de Oktober het ons lewens noodlottig getref. Ons Sewentienjarige seun, Sean, het ‘n saamgestelde beenbreuk opgedoen terwyl hy voetbal gespeel het. Die been het deur die vel gesteek, in die grond in. Dit het onmiddelike skok ten gevolg gehad en gras en vuiligheid het in sy been gekom.

Die paramediese personeel het die been teruggedruk, maar van die oomblik wat hy in die hospitaal gekom het, het sy toestand verswak. Die dokter het net vir kort twee minuut besoek ingekom. Alhoewel my seun opgegooi en bloed gehoes het en sy liggaam geruk het. Sean het ‘n ernstige infeksie en geweldige hoofpyne gehad en bloed het deur die gips gesyfer.

“Die dokter het niks gedoen nie. Hy het gesê dat die bloed wat Sean uitgehoes het, was van die irritasie van die pyp deur sy keel. En hy het gesê die hoofpyn was net ‘n sinus probleem.

“Die volgende dag is ons seun dood. Dit het ons verwoes. Later is aan ons vertel dat as Sean net ‘n bloed-verdunner ontvang het, sou hy kon oorleef.

“My man is gelisensieerde predikant by die “Assemblies of God”, hy moes van sy amp bedank. Hy het tyd nodig om te genees. Ek ook. Dankie dat u vir ons bid.”

Hier is ‘n toegewyde dienskneg van God, wat elke oggend saam met sy vrou wakker word, met hierdie vreeslike pyn dat hulle geliefde seun nie meer by hulle is nie. Elke dag is pyngevul en hulle kan nie uit die wanhoop kom nie. Hulle dink seker met tye: “Here, dit is vir ons te veel! Hoe sal ons oorleef?”

Nog nooit in my lewe het ek van soveel probleme, pyn en lyding onder Christene gehoor nie, - huweliksprobleme, finansiële krississe, fisiese beproewinge, oneindige lyding. Mense vra, “Hoe gaan ek deur dit kom? Al hierdie vreeslike vyande is te sterk vir my. Ek is swak, hulpeloos, ek kan niks daarteen doen nie. Here, hoe kan ek ooit staande bly?”

Die waarheid is dat nie een van hierdie vreeslike dinge God verras nie. Hy het elke afskuwelike ding wat teen die mens kan gebeur, voorsien. Elke krisis en probleem waarteen ons vandag te staan kom. En die Bybel wys ons dat God ons wil leer hoe om daarteen te stry.

Die Here het vir Moses twee boodskappe van hoop gegee wat ook vir ons bedoel is. As ons net sal doen wat Hy sê, sal ons nie net daardeur kom nie, maar ons sal uitvind dat God getrou is om te doen wat Hy beloof:

“Moenie vir hulle bang wees nie…” (Deuteronomium 7:18). Vir Israel het die “hulle” die groot, goedbewapende, heidense leërmagte van die Beloofde Land aangedui. Vir ons, vandag, dui dit die probleme en oorweldigende moeilikhede aan, wat ons die hoof moet bied.

Jy vra: Hoekom moet ons nie bang wees nie? Omdat God so sê! Geen ander verklaring is nodig nie. God is almagtig en toereikend – en Hy is bewus van die sataniese aanvalle wat ons die hoof moet bied. Hy ken elke valstrik, elke versoeking, wat na ons kant toe kom. En Hy beveel ons: “Moenie bang wees nie!”

God het hierdie bevel aan Abraham gegee. Hier was ‘n man wat in ‘n vreemde land gewoon het, omring deur magtige konings, sonder dat hy geweet het waarheen hy gaan.

Tog was God se eerste woorde aan hom: “Moenie bang wees nie!” “… die woord van die Here het in ‘n gesig na Abram gekom: ‘Moenie bang wees nie, Abram. Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees’” (Genesis 15:1).

Die betekenis hier is, “Ek sal ‘n muur rondom jou wees, jou Beskermer, jou Verdediger.” God sê vir Abraham, “jy gaan moeilikhede ondervind, maar ek gaan jou daarin beskerm.” Abraham reageer deur God se woord te glo. “Abram het toe in die Here geglo en God het hom dit tot geregtigheid gereken” (Genesis 15:6).

Hierdie selfde woorde kom ook na Abraham se seun Isak. Hy het ook in ‘n vyandelike land gebly, omring deur Filistyne wat hom gehaat het, gepla het en wou wegdryf. Die Skrif sê dat elke keer as Isak ‘n put gegrawe het, het die Filistyne dit toegegooi …” die Filistyne het, al die putte … toegegooi en opgevul (Genesis 26:15).

Oral waar Isak gegaan het, het hy dieselfde probleem gehad. Hy noem een put “Esek”, wat “Rusie beteken. Later het Isak niks anders as rusie in sy lewe ondervind nie. Hy het seker gedink. “Hoe sal ek ooit my familie kosgee en my vee laat drink? En hoe kan ek my kinders sonder vrees grootmaak, as die Filistyne ons te enige tyd kan plunder? God, waarom het U my hierheen gestuur? Hoe kan ek dit volhou?”

Toe hierdie wolke oor Isak saampak, gee God aan hom dieselfde woord as aan Abraham. “… Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou ‘n groot nageslag gee ter wille van my dienaar Abraham” (Genesis 26:24).

Vandag is ons, netsoos Isak, kinders van Abraham. God maak dieselfde belofte aan ons wat Hy aan Abraham en sy nageslag gemaak het: “As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Galasiërs 3:29).

Ons dien dieselfde God wat ‘n skild vir Abraham was. En Hy is netso magtige in ons geval!

Ons hemelse Vader sien elke tree van die pad in ons lewens. En ten spyte van al ons probleme en moeilikhede beveel Hy ons in die Skrif. “Moenie vrees nie!” Ons moenie glo dat ons probleme te veel vir ons sal wees nie – want ons moet Hom ken as ons skild.

“Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ‘n Volk wat deur die Here verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande hulle al kruipende aan jou onderwerp; maar jy sal op hulle hoogtes stap” (Deuteronomium 33:29). God sê vir ons, “Dit is ‘n leuen dat Ek julle verlaat het! Dit is ‘n leuen dat julle vir julleself moet veg. Dit is leuens van die Satan!”

Word jy elke nag wakker in onrus oor ‘n volhardende boesemsonde? Leef jy met die martelende gedagte, “Hierdie vreeslike dinge leef nog in my?”

God weet alles daarvan af. En Hy weet hoeveel trane jy daaroor gestort het. Nou wil Hy hê jy moet hierdie woord hoor: “Vrees nie! Ek is jou skild, jou Verdediger, jou swaard van heiligheid teen jou vyande. Ek ken die weg uit versoeking. Ek sal jou leer om te veg.”

Dawid het dit geken. Daarom kon hy sê: “Ek sal nie bang wees nie” (Psalm 23:4). Hy het geweet Satan sou oorwin as hy die koning kon bang maak.

Geliefdes, dit is soos die vyand ook teen jou te velde trek. Hy wil hê jy moet bang wees vir jou sonde – bang dat jy nooit sal vry kom nie.

Maar God sê aan alle treurendes en gepynigdes: “Vrees nie! Ek sien en ken al jou stryd. Ek sal die Satan nie toelaat om jou te vernietig nie!”

Miskien vra jy, “maar wat moet ek doen? Hoe kan ek die Here se vrede en rus hierin ervaar?”

Die antwoord is te vinde in God se woord aan Moses en Israel. Met die see voor hulle, die vyand agter hulle en nêrens om heen te vlug nie: “… Vrees nie, staan vas, en aanskou die verlossing van die Here, wat Hy vandag vir julle sal bewerk … Die Here sal vir jou stry, en julle moet stil wees” (Eksodus 14:13-14).

Wat beteken die woorde: “Bly julle maar kalm?” Dit beteken moenie bekommerd wees nie, moenie oplossings soek nie. Vertrou God om ‘n pad te maak. Dan gee Hy sy woord wat rigting gee, soos Hy vir Israel gegee het: “…trek verder” (vers 15).

Josua het ook onmoontlike vyande gehad. Hy en sy leër moes die hele nag marsjeer na Gibeon toe, waar hy ‘n geweldige leër van 5 konings moes aanvat. Toe Josua na die gevegsterrein kyk, sien hy ‘n vallei vol met goed-opgeleide, magtige strydwaens en voetsoldate. Al wat hy gehad het, was ‘n groep moeë, onopgeleide mans.

Op daardie oomblik het ‘n wolk van vertwyfeling oor hom toegesak. Hy het seker gedink: “Here, ons kon skaars hier kom en nou moet ons teen hierdie magtige leër veg. Asseblief! Wat moes ons doen?”

Die Skrif sê: “En die Here het aan Josua gesê: Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie” (Josua 10:8).

God het die oorwinning uitgeroep, nog voor Josua met die geveg begin het. Hy het gesê: “Die oorwinning is reeds behaal! Nie een van hierdie vyandelike troepe sal na die geveg nog staan nie. Gaan veg en onthou Ek gee jou oorwinning!”

Dit is die boodskap van die Kruis, die oorwinning is reeds behaal vir ons!

Dit maak nie saak watter krisis voor ons lê nie, watter moeilikhede voor ons lê nie, ons oorwinning is seker: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37).

Beteken dit nou dat ons niks moet doen nie? Beteken dit dat ons moet staan en wag dat God ‘n engel sal stuur om al ons vyande te verslaan? Nee – nooit! Selfs as God ons oorwinning verseker het, sal Hy nie ons deel vir ons doen nie!

Ons moet nog ‘n swaard gryp en die vyand beveg. Die verskil is dat ons dit doen met die versekering dat God ons sal krag gee: “Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus” (1 Korintiërs 15:57).

Die Heilige Gees reageer op ons geloof. As ons Hom aanroep, kom Hy oor ons met bonatuurlike krag om die dade van die vlees te vernietig. Ons deel is om te glo – en om dan voort te gaan in die geloof dat God se Gees die krag van die bose sal vernietig, wanneer dit oor ons kom.

Moses beveel Israel: “Wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die Here jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het, die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die Here jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is” (Deuteronomium 7:18-19).

Wat ‘n kragtige boodskap. Moses het die Israeliete herinner: “Maak nie saak watter vyande teen julle te staan kom nie, God het oorwinning oor almal belowe. Hy het julle vaders van Farao verlos, Hy sal vandag dieselfde vir julle doen!”

“…jy moet jou lewe lank dink aan die dag wat jy uit Egipteland weg is …” (Deuteronomium 16:3). “Jy moet altyd onthou dat jy ‘n slaaf was in Egipte…” (vers 12).

Moses se bevel aan die volk was, “Onthou die verlede! As julle dink dit gaan moeilik hier in die woestyn, onthou dan al die skrik en terrorisme van Egipte. Moenie vergeet hoe moeilik die lewe was toe julle slawe was nie. En onthou alles wat God gedoen het om julle te red en te heilig van dit alles!”

Die profeet Jesaja het ook met ‘n volk gepraat wat vol vrees was. Dit was gedurende ‘n tyd wat die volk oortuig was dat God hulle verlaat het. Hulle was beangs oor wat hulle vyande aan hulle kon doen. Maar Jesaja verseker hulle:

“…wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? Dat jy vergeet die Here wat jou gemaak het, wat die hemel uitsprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?” (Jesaja 51:12-13).

God sê deur die profeet, “Die rede waarom julle bang is, is omdat julle vergeet het, wie Ek is. Julle kyk net na julle moeilikhede, in plaas van na my krag om julle te verlos. Julle het vergeet dat my hand nog oor julle lewe is!”

Miskien sukkel jy om God se wonderwerke in jou lewe te onthou. Jy mag dink, “My lewe was lank en moeilik. Ek het nooit veel gehad om my oor te verbly nie. Hoe kan ek my oor God se wonderwerke verbly as ek dit nie belewe het nie?”

Wat jy moet verstaan is dat ons ervarings ons geloof kan versterk, maar dit is nie die fondament van ons geloof nie. Daarom wys God se Woord ons altyd op wat Jesus gedoen het. Ons moet sy oorwinning op die Kruis onthou en daaraan vashou. Hy gee vir ons die krag om te oorwin deur sy Gees.

Christus het vir sy dissipels gesê: “Nou gaan Ek na hom toe, wat my gestuur het … Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie” (Johannes 16:5; 14:18). Die Griekse woord vir “troosteloos” hier is “weeskinders” – wat beteken “verlies, vaderloos.”

Soms mag jy voel soos die dissipels later gevoel het – dat jy heeltemal alleen is en dat God jou nie help nie. Jy sien geen blyke van sy sorg nie. En die duiwel lieg vir jou dat God se Gees jou vir ‘n tyd verlaat het.

Maar daar is een ongelooflike wonder wat jy nie mag vergeet nie. Dit is Jesus se belofte aan al sy volgelinge: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie. Ek het ‘n prys vir jou betaal – jy is myne!”

Wat jy ook al deurgaan, jou Hemelse Vader het jou nog nooit verlaat nie, - en Hy sal ook nie. Luister na sy ewige, onbreekbare belofte”

“Maar Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet! Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurigdeur voor my” (Jesaja 49:14-16).

Hierdie gedeelte sê vir ons, “Jou behoefte aan beskerming is altyd onder my oë. Daar is nooit ‘n oomblik wat ek nie daarvan bewus is dat ek my mure van bonatuurlike beskerming om jou moet plaas nie. My beskermende omheining is altyd daar!”

Ek weet van sommige vroue, pastorie-moeders ingesluit, wat hulle kinders verlaat het. ‘n Paar weke gelede het ‘n pastoor vir ons geskryf: “Ek was getroud vir vyf-en-twintig jaar, maar my vrou het my onlangs verlaat met ‘n man wat sy deur die Internet ontmoet het. Sy het my en die kinders netso agtergelaat. Ek het haar nog lief en ek wil hê sy moet huis toe kom, maar sy wil nie. Dit is so pynlike, ek kan nie slaap nie. Ek weet nie hoe ek dit sal oorkom nie.”

God sê vir hierdie man: “Selfs jou geliefde vrou mag jou verlaat – maar ek sal nooit. My mure rondom jou sal altyd standvastig bly!”

Ons ontvang baie briewe van vroue wat vir jare met alkoholistiese mans saamleef. As ek van hulle verdries lees, vra ek, “Here, waarom moet hierdie getroue vroue, vir soveel jare, so ly, sonder enige teken van hoop?”

Ek sal nooit kan verstaan waarom my vrou deur soveel lyding moes gaan nie. Sy het agt-en-twintig operasies ondergaan, ses daarvan vir kanker – meer as veertig jaar van pyn. Geen predikant of teoloog kon al vir my verklaar waarom sy so moes ly nie.

Tog maak dit nie saak wat ons moet deurworstel of hoe lank ons ly nie. Een ding is swaar bo alles:

Die apostel Paulus roep uit na God, “Here, verlos my van hierdie doring in my vlees!” Maar die Here antwoord hom: “… My genade is vir jou genoeg…” (2 Korintiërs 12:9). God het vir sy dienskneg gesê, “Paulus, jy sal met hierdie doring moet saamleef. Maar te midde van jou pyn, sal Ek vir jou al die genade gee wat jy nodig het. Ek het ‘n oneindige voorraad vir jou!”

Die Here wil hê dat ons moet weet dat sy genade groter is as alle uitredding wat Hy mag skenk. Waarom? In sy genade word aan ons geopenbaar wie Hy is! Eenvoudig gestel, God se genade is die volle openbaring van Wie Jesus Christus is, geheel en al heilig, maar met ‘n teer en liefdevolle hart.

Ons hemelse Vader sien elke stukkie van ons lyding. Dan maak Hy hierdie heerlike beloftes aan ons:

  • “Maar die hulp van die regverdiges is van die Here, hulle toevlug in tyd van benoudheid” (Psalm 37:39).

  • “…want Hy het gesê, Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

  • “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

  • “Kyk, hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom. Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie – die manne wat met jou twis; hulle sal word soos niks en soos ‘n nietige ding – die manne wat teen jou oorlog voer.

  • “Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou …Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie” (Jesaja 41:10-13, 17).

Jy kan deur elke omstandigheid, elke krisis situasie kom – deur die genade van Jesus Christus. Wat ookal teen jou kom, Hy het meer as genoeg genade en die Heilige Gees om jou deur te help!