HIERDIE WÊRELD IS NIE ONS WONING NIE

David Wilkerson

Wanneer die Heilige Gees kom soos ‘n stortvloed reën, sal Hy die Bruid van Christus wakker maak met ‘n geroep. Wat sal die Gees se geroep wees? “Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet” (Matthéüs 25:6).

Dit is tragies dat die boodskap van Christus se Wederkoms amper van die preekstoele verdwyn het vandag. Selfs op die Internet waar tallose boodskapborde vol is oor die kerk, is daar nie ‘n geluid oor Christus se koms nie. Johannes sê die geroep van die kerk in die laaste dae sal wees:

“En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17).

Sê vir my, waar is die stemme wat roep, “Kom, Here Jesus”? Christus het sy kerk gewaarsku:

“Waak dan, omdat julle nie weet watter uur hulle Here kom nie” (Matthéüs 24:42).

Waar is die kerk wat waak, wag en smag na Jesus?

“Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie” (24:44).

DIE PARTYTJIE IS VERBY

Jesus het hard gepraat met diegene wat sou spot oor Sy spoedige terugkeer:

“Maar  as daarde slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie” (Matthéüs 24:48-50).

Ek vra vir jou, was daar al ooit ‘n tyd gewees waarin die mensdom so vasgevang was in gierigheid? Die partytjie is verby – die ekonomie van die hele wêreld skud – daar is egter menigtes, ingesluit talle in die kerk, wat dit nie wil erken nie. Tans word die Heilige Gees uitgestort om ‘n sluimerende kerk wakker te maak en voor te berei vir Sy koms: “Hierdie wêreld is nie jou woning nie. Ruk jouself reg. Maak gereed om jou Bruidegom te ontmoet!”