Hierdie Tyd Vereis Spesiale Vertroue

Elke Christen maak daarop aanspraak dat hulle die Here vertrou. En tog in realiteit, is baie van God se kinders nie gereed om die swart storm wat na die wêreld oppad is in die gesig te staar nie. Tensy ons ‘n spesiale, onwrikbare vertroue in die Here aangryp, sal ons nie gereed wees vir die harde tye, nou of in die toekoms nie.

Wanneer die volle drif van die storm oor ons breek, en onsekerhede oor die mensdom val, soos ‘n wolk, sal ‘n menigte Christene nie instaat wees om dit te hanteer nie. Oorval deur vrees, sal hulle hulle lied van oorwinning verloor. Wie is hierdie gelowiges wat nie gereed sal wees om die storm te deurstaan nie? Hulle is diegene wat nie ‘n lewe van gebed aangekweek het met die Here nie en wat nie in Sy Woord gegrondves is nie.

Vir jare het goddelike herders Christene aangemoedig om tyd eenkant te sit om met God in gebed te ontmoet. Dank die Here, baie het geleer om hulle harte voor Jesus uit te stort. En hulle word beloon met ‘n heilige geloof en vertroue. Inderdaad, hulle geloof groei daagliks deur hulle vertroue in Sy Woord.

U sien, gemeenskap gee geboorte aan vertroue. Deur al ons bekommernis voor die Here uit te stort, stap ons weg met sy rus en versekering: “Vertrou op Hom altyd … Stort julle hart uit voor sy aangesig” (Psalm 62:8). Volgens hierdie Psalm, is “vertrou” en “uitstort” onafskeidbaar. As ons God ten alle tye moet vertrou, insluitende die donkerste tye, dan moet ons ons harte voor Hom uitstort sonder ophou.

Soos die dae meer verskriklik word, sal daar ‘n volk van God opstaan wat dapperder en dapperder sal word. Hierdie is gelowiges wat daagliks die naam van die Here aanroep, “Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie, wat sal ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:6). Openbaringe van God se Woord sal hulle staande hou in die hardste van tye.

Dawid het geleer om na God uit te roep in elke krisis van sy lewe. Keer op keer het hierdie goddelike man na sy geheime plek gehardloop, en al sy vrese voor die Here uitgestort: “Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore … Hy het my verlos” (2 Samuel 22:7, 18).

Later, toe die grootste storm van Dawid se lewe oor hom gekom het, was hy gereed. Hy het reeds ‘n lied in sy hart gehad wat hy deur donkerte en onsekerheid kon sing:

“Die Here is my rots, en my bergvesting en my redder; God is my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my Verlosser; van geweld het U my verlos. Ek roep die Here aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos” (2 Samuel 22: 2-4).

Dawid het die storm gesien kom in sy tyd. Dit was ‘n storm van geweld, met vloede van goddelose mense, “bande van die doderyk … strikke van die dood” (22:6). En tog het geen een van hierdie dinge Dawid gepla nie. Sy vertroue in God was vas en geanker, as gevolg van sy daaglikse gemeenskap met Hom. En Dawid het sy siel verlustig in God se Woord.

Op dieselfde manier, sonder baie gelowiges hulle vandag af met die Here, en hulle groeiende intimiteit gee geboorte aan ‘n groot vertroue. Hoe dit ook al sy, geliefde, as u nie getrou met God in gebed kommunikeer nie, stel u uself oop vir “dubbele angs” en “dubbele vrees” wanneer dinge erg word.

Hierdie tye vra vir meer as net ‘n algemene vertroue in God: hulle vereis ‘n spesiale vertroue vir spesiale tye.

Baie Christene het ‘n algemene vertroue in die Here. Ons staan almal op ‘n paar beloftes wat toepasbaar is op die hele liggaam van Christus:

  • “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5).

  • “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).

  • “Want die Here God is ‘n son en skild; die Here sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie” (Psalm 84:11).

Hierdie bekende beloftes het deur die eeue al groot vertroosting en seën vir God se volk gebring. En tog saam met al hierdie beloftes, gee God spesifieke beloftes vir spesiale tye, insluitende harde tye. En ons moet hierdie beloftes ken en glo as ons met vrymoedigheid na God se troon van genade gaan.

Die Puritane, wat kragtig deur God geseën is, sien elke belofte van God as ‘n heilige argument. Hulle glo ‘n Christen behoort nie voor die Here te kom met net ‘n algemene geloof nie. Wanneer God ons beveel om met vrymoedigheid voor sy troon te verskyn, om genade en barmhartigheid te ontvang in ons tyd van nood, kan ons nie net ‘n algemene idee hê van waarom ons daar is nie. Ons kan nie net sê, “Here, U ken my hart. Gee my wat U ook al sien wat ek nodig het.”

Dit mag dalk goed en nederig klink van ons kant af. Maar die waarheid is, God wil aan ons ‘n spesiale, spesifieke belofte vir spesifieke tye in ons lewens gee. En Hy wil hê dat ons hierdie beloftes met ons hele hart moet aangryp, sodat ons sterk mag staan en versekerd kan wees as ons met Hom praat.

Ek wil graag drie spesifieke tye wanneer spesiale of spesifieke vertroue nodig is, gebaseer op God se spesiale beloftes uitwys:

God het ‘n ongelooflike daad van gehoorsaamheid van Abraham vereis: Hy het hom gevra om in die onbekende toekoms in te tree. Dit was vir Abraham moontlik om hierdie tree te gee met niks anders tasbaars as net hierdie belofte van God: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys” (Genesis 12:1).

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs sê, “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is … gehoorsaam; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom” (Hebreërs 11:8). Die Here het nie ‘n netjiese, uitgewerkte reisplan, voor Abraham neergelê nie. In plaas daarvan, het Hy eenvoudig gesê, “Versamel jou familie, pak jou besittings, laat jou bloedverwante agter, en gaan na ‘n plek wat Ek vir jou sal wys.”

Op die ouderdom van vyf-en sewentig jaar, het God Abraham gevra om homself volkome op God se getrouheid te werp. Hy het geen verduideliking ontvang nie, geen beskrywing, geen waarskuwing van die moontlike gevare wat op hom gewag het nie. En so het Abraham uitgegaan en nie geweet nie. Al waarin hy kon rus was die belofte: “Ek sal jou wys. En Ek sal jou seën.”

Sy vrou, Sara, was heel moontlik nie anders as enige ander moderne vrou nie. Sy het sekerlik die vrae wat enige vrou sou vra, gevra: “Gaan ons suid of noord? Watse soort klere moet ek inpak? Sal ons onsself vestig of gaan ons aanhou trek?” Al wat Abraham kon antwoord was, “God het gesê gaan, dus gaan ons. Hy sal ons wys wat die volgende stap is, die oomblik as ons begin beweeg.”

Ons dink soms wanneer God ons beveel om iets te doen en ons is gehoorsaam, dat alles glad sal verloop. Ons dink dat Hy dankbaar sal wees vir ons gehoorsaamheid daarom sal Hy ons op ‘n vier-laan snelweg sit na seëninge. Abraham het God se Woord gehoorsaam, maar die feit is, een daad van gehoorsaamheid weeg nie op teen ‘n wandel in gehoorsaamheid nie.

Abraham het ‘n belofte van God gehad, maar langs die pad moes hy deur die Negev woestyn gaan, oor sneeu-bedekte berge, nog ‘n woestyn, en die oorlogvoerende volk van Kanaän. Toe beland hy in die middel van ‘n hongersnood in Egipte. Ek is bly dat God nie vir Abraham gesê het wat op die pad wat hy sou gaan, gewag het nie!

Die spesifieke pad was soos geen ander waarop Abraham al ooit gewandel het nie. En tog, deur dit alles, was hy nooit in gevaar nie. Niemand kon hom kwaad aandoen nie. God was sy skild en sy beskermer elke dag. En as gevolg van sy geloof, het Abrahm ‘n vriend van God geword.

Wanneer God sy dienaars vra om die onbekende te betreë, is dit nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie. Dit is ‘n wandel vir ewig. En tog hou ons gehoorsaamheid vir ons groot belonings in: “Die woord van die Here het tot Abraham gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abraham, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot” (Genesis 15:1).

God maak hier ‘n glansryke verklaring aan ons: Diegene wat Hom gehoorsaam – wie uitstap en nie weet wat met hulle sal gebeur nie, en blindelings Sy Woord vertrou – sal nooit buite sy beskerming wees nie. Hy sê, “Ek sal oor hom waghou soos ‘n skild. En Ek sal hulle beloning wees. Ek sal myself vir hulle gee.”

‘n Voormalige lid van ons kerk, ‘n bekende aktrise, is deur God gevra om haar loopbaan volkome prys te gee, as ‘n daad van gehoorsaam aan Hom. Sy het in haar hart geweet dat die Here haar vra om dit alles agter te laat. Dus het sy ‘n beste ondersteunings aktrise toekenning van die hand gewys en die groot onbekende betree. Sy het nie werk of enige waarborg van enige soort werk gehad nie: sy het uitgetree en nie geweet waar sy sou heen gaan nie.

Die volgende dag het haar agent haar geskakel en haar ingelig van die hoofrol aanbod in ‘n film saam met drie van die welbekende akteurs in die besigheid. Nadat sy afgelui het, het sy gesê, “Nee, Satan, ek weet wat jy besig is om te probeer doen. Ek sal nie van plan verander nie.”

Geliefdes, dit is hoe dit vir baie van ons ook gaan wees. Wanneer u in gelowige gehoorsaamheid uittree, sal die duiwel die een of ander verleiding bring, om u terug te trek na die kant van ongehoorsaamheid. Gehoorsaamheid sal u altyd iets kos!

Dieselfde week, het die aktrise hof toe gegaan en ‘n groot oorwinning behaal in ‘n kinder-bewarings saak. Haar Skild het vir haar gewerk! Sy het Christus gewen, en haar beloning was die Here homself.

Jare gelede, het God ons bediening geroep om na New York te skuif en ‘n kerk in Times Square te begin. Dit het ‘n groot stap van gehoorsaamheid vereis, toe Hy ons gevra het om ons gerieflike Texas omgewing te verlaat en na die stad te trek. Ons het nie ‘n gemeente gehad nie, geen gebou nie en ‘n bietjie geld. God het net gesê, “Gaan, en Ek sal met jou wees. Ek sal jou seën. Ek sal jou beloon.”

Ons het dus gegaan – en die Here het ‘n skild vir ons geword, en Homself jaar na jaar vir ons gegee. Twee dekades later, het ons ‘n groeiende, ontwikkelende, sending-gesinde gemeente gehad in die middel van Times Square wat as ‘n getuie staan van Sy wonderwerke.

God se Woord wemel met spesiale, spesifieke beloftes aan diegene wat geroep is om uit te tree in geloof. Hier is ‘n paar van die beloftes om saam met jou na God se troon te neem. Jy kan jou lewe op die altaar lê hiervoor:

  • “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees” (Exodus 19:5)

  • “Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan” (Jeremiah 7:23).

Ons het ook ‘n gepantserde belofte dat die Heilige Gees met ons sal wees deur al die stappe van gehoorsaamheid en in tye van toetse: “En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Hand 5:32).

As God al vir u gesê het om iets te laat los, staan op en doen dit. Die Bybel sê duidelik dat as u die Here gehoorsaam, sal hy die Heilige Gees vir u gee om u Gids en sterkte te wees. Hy sal alles voorsien wat u nodig het om die daad van gehoorsaam te volbring.

In my leeftyd, het ek nog nooit met soveel beangste mense gepraat soos onlangs nie. Amerikaners is volslae angsbevange: bouers, eiendomsagente, Wall Street vakkundiges, kleinhandelaars, uitvoerende amptenare, regsgeleerdes, restaurant eienaars, klein-ondernemings eienaars – hulle sê almal dieselfde ding: “Dit is erger as wat die meeste mense besef. En dit gaan nog erger word. Alles is wankelend.”

Huise het van eienaars verwissel. In New York, trek families saam met ander in enkel woonhede in. Regoor die nasie het baie mense verband beloftes verbreek omdat hulle meer skuld as wat hulle huise werd is. Sommige het eenvoudig die huis geplunder, uitgetrek en geen versendings adres agtergelaat nie.

Nie een van ons hou daarvan om hierdie soort neerslagtige verslae te hoor nie. Die Puritane het ‘n gesegde gehad: “Ons liefdes koop ons onderskeidingsvermoëns om.” Ons is almal lief vir Amerika en die manier waarop ons hier leef. Maar tensy ons die waarheid in die gesig staar dat swaar tye op ons is, sal ons nooit die vertroue en vrymoedigheid hê wat ons nodig het nie. Dit is vir ons nodig om die tyd te kan onderskei, sodat ons God vir die spesifieke vertroue kan vra om ons deur dit wat voor ons is te help.

Moenie ‘n fout maak nie: niks hiervan vang Jesus onkant nie. Hy het dit alles gesien kom. Hy wat elke persoon se hare en elke mossie wat val getel het, het lank reeds geweet wat elkeen van ons in hierdie laaste dae in die gesig sou staar. Hy weet waar elke dollar in die federale begroting sou gaan en dat ons belasting en behuising sou vermeerder. Hy weet van elke werksverlies wat ons in die gesig sou staar, al ons rekeninge, al ons behoeftes, selfs die aantal kinders wat ons sou hê. Daar is nie een ding wat ons geseënde Verlosser nie geweet het toe hy vir ons in Mattheüs 6:25-33 gesê het, “Moenie julle kwel nie, want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hy sal vir julle sorg.”

Jesus het ons ook vertel van die gevaarlike tye wat sou kom: die hongersnood, oorlog, peste, aardbewings, verbouereerdheid, onheile, die vrees van alle kante. En steeds, sê hy, “Moet julle nie kwel oor wat julle nodig het nie. Moet oor niks daarvan bekommerd wees nie.”

U mag wonder, “Hoe kan ‘n Christen wat in die nood is nie dink aan sy fisiese toestand nie?” Al wat ek weet, ons kan nie terugdeins van Jesus se belofte aan ons nie. Sy woorde is vir ewig: “Ek sê vir julle…” Om die waarheid te sê, u kan daardie presiese woorde na die Troonkamer van God neem en vir Jesus sê, “Hierdie is U woorde: ‘Ek sê vir julle, moet julle nie kwel nie. Ek sal vir jou sorg.”

Dit maak nie saak hoe die storms woed nie, die Here sal nog steeds die voëls van die hemel voed, die lelies van die veld klee, en die oseaan vol vis voorsien van hulle daaglikse behoeftes. “Julle hemelse Vader voed hulle” (Matteüs 6:26).

Nie een skepsel sal ly sonder dat die Here dit weet nie. Nou vra ek u: watter soort Vader sou Hy wees as Hy die honde en die voëls voed, maar sy kinders verwaarloos? Watse soort God sou die hare op u kop tel, maar nie u muntstukke nie? Die gedagte alleen is godslastering! Ons Vader sorg vir die totale diereryk, en geen hoeveelheid swaar tye sal sy voorsienigheid stop nie: “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?... As God dan die gras van die veld … so beklee, hoeveel te meer vir julle?” (Matteüs 6:26, 30).

Ek glo dat God ons met ‘n baie spesifieke belofte voorsien het vir die spesifieke harde tye wat oppad is. Dit is aan Abraham en sy nageslag gegee as ‘n eed: “Aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe” (Lukas 1:73-75). God het belowe dat Hy ons sal verlos van ons vyande en vreesaanjaende dinge, sodat ons Hom kan dien al die dae van ons lewens, sonder vrees.

Geliefdes, honger is ‘n vyand. Naaktheid en armoede is vyande. Die eed van God moet die fondament van ons vertroue wees in elke krisis, teenspoed en bang tyd. Ek wil u aanmoedig om dit te memoriseer. Laat dit u heilige argument by die troon van genade wees

Elke prediker wie hierdie land liefhet moet die trompet blaas en die mense in sy sorg wakker maak. Op die oomblik, glo ek dat Amerika onder die “seelring-oordeel” van God is. Seelring-oordeel dra ‘n spesiale merk van die Here, die oordeel weerspieël die sonde wat teen Hom gepleeg is. Hierdie oordele is regdeur die Bybel sigbaar:

  • Adoni-Besek was die koning wat die duime en groot tone van die sewentig konings wat hy oorwin het afgekap het. Toe die kinders van Juda Adoni-Besek gevange geneem het, het hulle sy duime en groot tone ook afgekap. Die koning het gesê, “Soos ek gedoen het, so het God my vergeld” (Rigters 1:7).

  • Jezebel het die dood van Nabot veroorsaak, wie se bloed deur die honde opgelek is. Weer, sien ons God se seelring-oordeel: Jesebel is by ‘n venster uitgegooi en het gesterf, haar liggaam is begrawe in die mae van honde.

  • In die boek Ester, het Haman ‘n galg opgerig wat bedoel was vir die goddelike Mordegai, maar hy is self daarop gehang toe sy komplot ontdek is.

  • Koning Asa, wie God se profeet in boeie opgesluit het, het gesterf aan ‘n siekte van sy voete.

Ons noem sulke gebeurtenisse toeval, maar dit is God se seelring-oordeel. Obadja 15 som dit op: “Soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.”

Op hierdie oomblik, is al God se oordele op Amerika sigbaar in haar sondes. Ons grootste sonde is ‘n grootpraat hoogmoed, ‘n “kan-doen” denkwyse. Ons is vol selfvertroue dat ons volk enige probleem kan oplos, enige geveg kan wen, ‘n oplossing kan vind vir enige siekte. Ons het die hele wêreld gepolisieer, vol vertroue in ons weermag.

Vir ‘n lang tyd, was God met ons. Ons het presidente en wetgewers gehad vir wie dit moontlik was om ons volk se probleme te oorkom. Ons wetenskaplikes het verskillende entstowwe vir verskillende siektes ontdek: malaria, witseerkeel, kinderpokkies, tuberkulose, masels en polio.

Sulke genesings kom nou weinig voor. Daar is nie ‘n entstof in sig vir VIGS nie. En ons is besig om te verdrink in “onopgeloste” sosiale probleme: die dwelm plaag, haweloosheid, wanorde in skole, heersende misdaad, oorvol tronke, die gesondheids-sorg krisis, die internasionale seksbedryf. Nie baie jare gelede nie, was Amerika die nommer een krediteur in die wêreld. In ‘n kort tydjie, het ons die nommer een skuldenaar nasie geword.

Noem net die probleem, en ons kan dit nie oplos nie. Een Senator het hardop gewonder of ons nie dalk die punt in die geskiedenis bereik het waar die drie takke van federale regering dalk nie regtig meer werk nie. Hy beweer dat hulle in ‘n gesnoeker is met geen verantwoordelikheid” nie.

Ek het ‘n diep liefde vir Amerika. Dit is nog steeds die voorkeur skuilplaas vir die wêreld se vlugtelinge. Maar God se seelring-oordeel op hierdie eens-ultra-bekwame nasie is ‘n vernederende verwarring en hulpeloosheid. Deur sy eie toelating, werk die regering nie. waar is ons trots, ons “kan-dit-doen” versekering? Vir jare was ons aan die hoof, en nou word ons die stert genoem, soos in Deuteronomium 28 voorspel word.

Wat dink u sal hierdie oordeel wees? Ek dink aan hoe Amerika alles wat moreel, heilig en goddelik is, onder sy voete vertrap. Christus se Naam word uit gewoonte in die teaters en film sale vertrap, waar die heiligheid bespot word en die heidense opgehef word. Nederige volgelinge van Jesus kom onder ontsettende aanslag en bespotting.

Ek vra u, watter seelring-oordeel sal uit hierdie selfde stuk lap gesny word? Watter straf pas by die oortreding? Hier volg wat ek as God se seelring-oordeel oor Amerika sien, wat vir jare die nommer een superkrag was, die magtigste nasie in die wêreld: “Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop” (Jesaja 63:6). God sal hierdie volk se militêre mag verneder, die teaters bankrot laat gaan en die opvoedkunde institute in verwarring bring – en sodoende alle eersgenoemde krag afbreek.

Tot vandag is reeds 30 miljoen babas vermoor deur aborsioniste. Daar is ‘n verskriklike hoeveelheid bloed op ons nasie se hande. Dink u dat God sy oë gaan sluit hiervoor? Nee, Hy is ‘n regverdige God, en Hy sal Amerika laat ween, as gevolg van al die bloed wat gestort is. Hoe? Ek sien reeds moordenaars bloed vergiet op ons strate en in ons skole.

Ons krag is vinnig besig om af te neem. Ons ekonomiese krag het verswak, met die Euro, die pond en die Japanese jen wat almal die dollar se krag oortref. Intussen groei China en die Europese Unie in krag. Ek glo dat die Europese lande – die koninkryke van die Romeinse Ryk wat weer opgewek is – sal styg tot die nommer een wêreld krag, en die krag basis vir die Antichris sal word.

God is besig om ons naaktheid bloot te stel aan die wêreld. Hy is besig om ons uiterlike vertoon te laat opweeg teen die toestand van ons siel, en ons geestelike bankrotskap is besig om in ‘n finansiële wanorde te verander. Hy bring sy seelring-oordeel so duidelik oor ons dat geen ander nasie in die wêreld dit sal kan miskyk nie.

Soos hierdie oordele reg voor ons oë plaasvind, is ons enigste antwoord om Jesus as ons skild te hê. Ons moet na Hom hardloop en Hom in die binnekamer ontmoet en ons wortels dieper in Hom laat groei. Ons moet weet dat Hy wat die hare op ons hoof getel het, ons onder alle omstandighede sal bewaar.

Ek moedig u aan, neem hierdie spesiale beloftes aan as u eie, in gereedheid vir enige en alle rampe wat u moontlik in die gesig sal staar:

  • “Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis … Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die Here. Vas is sy hart, hy vrees nie, totdat hy op sy teëstanders neersien” (Psalm 112:4, 7-8).

  • “En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid … So is die Here dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Here” (Psalm 9:8-10).

Ten slotte, ‘n spesifieke, kragtige, heilige argument vir die troonkamer van God: “Al word ‘n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ‘n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek. Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel. Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots” (Psalm 27:3-5).