Het Jy Vergeet van God se Krag om te Verlos?

David Wilkerson (1931-2011)

Eens op ‘n tyd was 'n vrou met die naam Celeste Horvath New York se berugste vrou en het sy 'n prostitusienetwerk bestuur wat vir die bekendste mans in die land voorsiening gemaak het. Celeste het in 'n Pinksterhuis grootgeword en haar biddende ouma het oor haar geprofeteer: “Jy gaan 'n evangelis wees.”

Celeste het egter haar kerkopvoeding verwerp en haar tot prostitusie gewend. Namate haar prostitusienetwerk gegroei het, het sy verslaaf geraak aan dwelms, maar 'n stryd het in haar hart gewoed. Nag na nag het sy gebid: "God, laat my asseblief nog ‘n dag lewe." Uiteindelik is Celeste in hegtenis geneem. Die nuus het nasionale opslae gemaak.

Op daardie stadium, het haar broer vir haar geskryf: “Jy het ons familie so in die skande gesteek dat jy nie verlos kan word nie.” Almal wat Celeste se lewe aanskou het, het gedink dat sy heeltemal hopeloos was, totaal onveranderbaar; maar hulle het 'n beperkte siening van Christus gehad.

Eendag tydens die verhoor, het Celeste voor die Here gebreek. Die verandering in haar was oombliklik en onmiddellik het sy 'n nuwe mens geword. Terwyl die mense in Celeste se lewe haar slegs eenvoudig en onrein beskou het, het die Here 'n evangelis in haar gesien.

Celeste het by Teen Challenge opgedaag net voordat sy gevonnis is, en ons het haar opgeneem. Sy het tyd in die tronk uitgedien waar sy die evangelis geword het waarvoor God haar geroep het. Sy het baie siele na Jesus gelei terwyl sy in die tronk was. Nadat sy vrygelaat is, het sy 'n kragtige straatprediker geword en uiteindelik het sy 'n kerk in Long Island begin wat aan die brand vir die Here was.

Is jy bekommerd oor 'n familielid of vriend wat blykbaar nie in Christus groei of volwasse word nie?

Terwyl jy na daardie persoon kyk, pas jy jou eie konsep van Christus op hulle lewens toe? Het jy jou eie grense getrek van wat dit beteken om 'n ware volgeling van Christus te wees en sien jy nie dat jou geliefde binne daardie grense beweeg nie? Is dit moontlik dat jy Christus beperk? Is jou Jesus so streng omskryf dat jy nie kan glo dat sy Gees besig is om 'n diep, verborge werk te doen nie? Veroordeel jy ander omdat hulle nie aan jou standaarde voldoen nie? Glo jy dat God groot genoeg is om op onsigbare maniere daaraan te werk?

Onthou dit as jy om hierdie persoon se onthalwe na jou binnekamer gaan.