HET JY REDE OM VERTOORND TE WEES?

David Wilkerson (1931-2011)

Ek glo dat daar niks gevaarliker vir ‘n Christen is as om 'n wrok teen God te koester nie. Ek is verbaas oor die toenemende aantal gelowiges wat kwaad is vir God. Hulle sal dit nie erken nie, maar diep binne-in koester hulle ‘n wrok teen Hom. Waarom? Hulle glo dat Hy nie in hulle lewens of probleme geïnteresseerd is nie! Omdat Hy ‘n bepaalde gebed nie verhoor het nie, of nie op ‘n sekere manier om hulle onthalwe opgetree het nie, is hulle oortuig dat Hy nie omgee nie.

Jona het ‘n roeping van God gekry om na Ninevé te gaan en die boodskap van oordeel te verkondig: die stad sou verwoes word binne 40 dae. Nadat hy getrou die boodskap gebring het, het Jona vir God gewag om die verwoesting te begin. Maar veertig dae het verbygegaan en niks het gebeur nie. Waarom nie? Omdat Ninevé berou gehad en hulle bekeer het en God van plan verander het oor hulle verwoesting.

Hieroor was Jona woedend en hy het teen God uitgeroep, “U het my verraai! U het alles verander sonder om my daarvan te vertel en nou lyk ek soos 'n valse profeet!” Jona was teleurgesteld omdat dinge nie volgens plan verloop het nie. God het van koers verander en Jona se trots het in die slag gebly.

God verstaan ons uitroepe van pyn en verwarring. Maar ‘n omgekrapte gees kan verander in ‘n woede en God sal vir ons vra, net soos Hy vir Jona gevra het, “Het jy rede om vertoornd te wees?” (Jona 4:9).

Jona het eintlik sy reg verdedig om kwaad te wees vir God. “Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe” (dieselfde vers).

Baie Christene is soos Jona – hulle voel hulle het ‘n reg om kwaad te wees vir God. “Ek bid en lees my Bybel; Ek gehoorsaam God se Woord en lewe reg. So, waarom het ek steeds soveel probleme?”

Geliefde, ek bemoedig jou om God se Gees toe te laat om jou te genees van alle bitterheid, woede en gegriefdheid – omdat dit jou vernietig. Jy mag dalk net verwoesting in jou lewe sien, maar God sien herstel! Hy het goeie dinge vir jou in gedagte, want Hy is “’n beloner van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).