HERE, WAAROM?

David Wilkerson (1931-2011)

Dit is nie ‘n sonde vir ‘n gelowige om waarom te vra nie; selfs die Here het hierdie vraag gevra toe hy met pyn aan die kruis gehang het (sien Matthéüs 27:46). Ons mag dalk soms uitroep, “Here, waarom laat U my hierdeur gaan? Ek weet dit kom nie van U hand af nie, maar steeds laat U toe dat die duiwel my teister. Wanneer sal dit ooit eindig?”

Die sekulêre mense eis ‘n verduideliking vir al die pyn en lyding in die lewe. Hulle sê, “Ek kan eenvoudig nie in jou God glo nie; ek moet meer liefde as Hy hê want as ek die mag gehad het, sou ek al die lyding stopsit.” Ek gaan nie probeer antwoord waarom daar hongersnood, vloede, siektes en verwoesting is nie, maar ek weet dat as die wêreld vrae vra, kan ek reageer, “Hy ween oor wat die mensdom doen.”

Volgens my, het geen ander mens behalwe Jesus, so baie gely soos Paulus op so baie maniere en aan die hand van so baie mense nie. Tydens sy bekering was Paulus gewaarsku oor die lyding wat hy sou beleef: “Maar die Here sê vir hom...Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Handelinge 9:15-16). Jesus het self hier gesê, “Ek gaan vir Paulus wys hoe baie hy om my Naam se onthalwe sou ly.” Net so, as jy jou hart volkome op Christus gerig het en vasbeslote is om Hom intiem te ken, sal jy moeilike tye en verdrukkings beleef wat koue, vleeslike Christene glad nie ken nie.

Dawid skryf, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:19).

Terwyl God nie moeite gedoen het om iets vir Paulus te verduidelik of ‘n einde gebring het aan sy lyding nie, het Hy aan hom geopenbaar hoe hy deur elke beproewing sou kom met oorwinning: “[Jesus] het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring” (2 Korinthiërs 12:9). Jy hoef nie alles te verstaan nie – God se genade is alles wat jy ooit sal nodig hê.