HERE, DOEN IETS!

David Wilkerson (1931-2011)

Drie algemene woorde wat ek onder Christene hoor ten tye van ‘n krisis is, “Here, doen iets!” Dit is heeltemal teen ons natuur as mens om stil te staan en niks te doen wanneer ons verbysterende beproewings beleef. Om geduldig vir God te wag om op te tree is waarskynlik die moeilikste ding om te doen in die Christelike wandel. Selfs toegewyde gelowiges raak paniekerig wanneer die Here nie volgens húlle tydtafel optree nie.

Ons God deursoek altyd die aarde vir mense wat Hom sal vertrou tydens elke krisis, beproewing en hopelose situasie. Trouens, Hy lei ons in situasies in wat angswekkend, kritiek en moeilik is, om ons te toets. Hy wil sien of ons gewillig is om stil te staan en vir Hom te wag om bonatuurlike verlossing te bring.

Die Bybel stel dit baie duidelik: “Deur die HERE word die gange van ‘n man bevestig, en Hy het ‘n welbehae in sy weg” (Psalm 37:23).

Dit beteken dit is God, nie die duiwel nie, wat ons in moeilike situasie inlei. Ons mag uitroep, “Here, waarom laat U toe dat my krisis voortsleep?” Maar Hy laat in der waarheid nie net ons beproewing toe nie, Hy doen dit doelbewus – om ‘n rede. En dit is vir ons moeilik om te aanvaar!

Ek glo vas dat elke tree wat ons gee, deur ons hemelse Vader beskik word. God wil geloof in ons vestig en daarom vorm en smee Hy ons tot goddelike voorbeelde van geloof – om sy getuienis te wees teenoor ‘n ongelowige, goddelose geslag.

God is absoluut getrou aan sy kinders en Hy sal ons nooit tot op die randjie van ‘n moelike situasie lei, net om ons te verlaat nie. Hy vra atlyd vir ons, “Sal jy die een wees na wie Ek gesoek het? Sal jy die een wees wat nie paniekerig word nie? Wat My nie sal beskuldig dat Ek my kinders verlaat en laat skade ly nie? Sal jy staan in jou krisis en My vertrou om jou deur te dra?”

“Om stil te staan” is ‘n daad van geloof – ‘n aktiewe rus in God se beloftes. Geloof verander alles! Sal jy besluit om op te hou vrae vra vandag en Hom eenvoudig vertrou?