Hemel

Ons hoor nie deesdae meer baie preke oor die hemel nie. Dit mag dalk vreemd wees, siende dat dit elke Christen se vreugde is om daaroor na te dink om vir ewig met die Here te wees. Die belofte van die hemel is die kern van die evangelie wat ons preek.

Nogtans is daar ‘n rede waarom ons nie baie oor die vreugdevolle boodskap hoor nie. Die feit is, die Bybel sê nie baie oor hoe die hemel is nie. Jesus het nooit gaan sit en aan sy dissipels die roemrykheid en majesteit van die hemel verduidelik nie. Hy het vir die dief aan die kruis gesê, “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees,” maar Hy het nie gesê hoe dit sal wees nie.

Die apostel Paulus verwys na die hemel wanneer hy daaroor praat dat ons in die paradys opgeneem sal word. Hy sê dat hy dinge daar gesien en gehoor het wat hom so oorbluf het dat hy dit in geen taal kon beskryf nie. ‘n Mens kry die idee van Paulus sy beskrywing dat, selfs al kon hy beskryf wat hy gesien het, ons menslike verstand dit nie kan verstaan nie.

Paulus was dankbaar vir sy lewe, sy roeping, sy bediening. Ek glo dat hy God se mense liefgehad het met ‘n passie. Maar deur die jare van sy bediening, was Paulus se voortdurende verlange om huistoe te gaan en met die Here te wees. Sy hart was angstig om daar te wees.

So, waar is die hemel? Ons weet nie. Ons weet dat ‘n nuwe hemel oppad is, sowel as ‘n nuwe aarde. En hierdie nuwe planeet sal nie net slegs die ou aarde wees soos deur die vuur gereinig nie maar iets totaal nuut. In sy middel sal die hoofstad, die Nuwe Jerusalem wees.

Ons weet ook dat die troon van God in die hemel is. Net so is Jesus daar, sowel as die engele van die Here, ‘n ontelbare menigte. Buitendien sê Paulus dat as ons eers daar is ons Jesus “van aangesig tot aangesig” sal sien (1 Korinthiërs 13:12). In kort, ons gaan ‘n onmiddelike, persoonlike toegang tot die Here hê tot in alle ewigheid. (Geliefde, as dit al is waaroor die hemel gaan, is dit genoeg vir my!)

Blykbaar, sal ons dinge leer wat eenvoudig nie deur die menslike verstand hier op aarde begryp kan word nie. Ons sal toegang hê tot die gees van Christus self, wat onbeperk is. En ek glo hy gaan ons alles van die ewigheids dinge leer.

Die Bybel sê vir ons dat ons saam met die Here in die hemel sal regeer as “konings en priesters: en ons sal op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Ons sal daar as Sy dienaars optree en “sal Hom dien” (22:3).

Dit sê vir my dat ons opwindende, geseënde opdragte gegee sal word in die nuwe wêreld wat gaan kom. Die Woord praat oor en oor van die rol wat engele dwarsdeur die geskiedenis gespeel het, hulle het selfs vir Jesus bedien. Wat ook al ons opwindende werk sal wees, ons kan weet dat dit tot in ewigheid sal wees, omdat God se wêreld sonder einde is.

Dink vir ‘n oomblik na oor die klaarblyklike oneindigheid wat ons in die ruimte sien. Daar word beweer dat ons eie sonnestelsel minstens vyf biljoen myl in deursnee is, en tog is dit ‘n blote kolletjie in die heelal. Wetenskaplike ontdekkings wys dat daar stelsel na stelsel na stelsel is, wat klaarblyklik sonder end is. Dit alles slaan ‘n mens dronk.

Selfs soos ons sonnestelsel deur die ruimte jaag, en rondom die son wentel, is daar ontelbare ander stelsels wat die een na die ander ook rondbeweeg. En dit alles vind plaas volgens God se goddelike orde. As gevolg van hierdie rede glo ek dat ons in die hemel ‘n opdrag gaan ontvang wat nou onverstaanbaar is vir ons menslike verstand.

Die Hebreeuse dosente van Paulus se tyd het geleer dat daar drie lae in die hemel is: eerstens, die fisiese atmosfeer waarin ons woon; dan die tweede hemel, waar die sterre is; en laastens, die derde hemel, waar God en die paradys is.

Al wat ek kan sê wat seker is oor die onderwerp is dat Jesus opgevaar het na “die hemel bo alle hemele.” En Hy sê dat Hy nou daar is om ‘n plek vir Sy mense te berei. Hy sê ook, “Ek kom weer, en sal julle daarheen neem. Waar ek woon, sal julle woon.”

In kort, geliefde, ek kan nie vir u sê hoe die hemel is nie. En ek weet nie veel oor wat daar gaan wees nie. Ek het geen nuwe openbaring om te bied nie, geen Paulus visie nie. Maar ek kan sê wat die hemel nie is nie, en wat nie daar is nie, omdat dit is wat die Woord aan ons voorlê. En soos u sal sien, wat dit openbaar gee vir ons ‘n rede om te juig!

Johannes sê vir ons dat ons die volgende dinge nie in die hemel sal vind nie:

1. Daar sal nie meer ‘n see wees nie. “Ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien: want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie” (Openbaring 21:1, my kursief). Johannes sê nie daar sal geen water wees nie. Hy noem wel dat daar nie meer bedreigings van die aarde se groot waters sal wees nie: geen orkane, tifone of moordende tsunamies nie.

Inteendeel, die enigste water wat genoem word met betrekking tot die nuwe aarde sal ‘n rivier van blydskap wees wat deur die strate van die Nuwe Jerusalem sal vloei. Johannes sê daarvan: “Hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam” (22:1).

2. Daar sal geen sakdoeke in die hemel wees nie. Ons sal sulke goed nie nodig hê nie, omdat die Woord te kenne gee dat ons nie eers traankliere gaan nodig hê nie. “God sal al die trane van hulle oë afvee” (21:4). Volgens Johannes, sal trane eenvoudig nie bestaan in die hemel nie.

Net so sal daar ook nie meer begrafnisondernemers, kiste en begraafplase wees nie. Waarom? “daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween” (21:4). Dink daaroor: ons sal nie meer by kiste staan, en ween oor geliefdes nie. Geen hartseer, gehuil of rou nie, omdat ons in die hemel nooit sal sterf nie. As ons eers uit die dood opgewek is uit ons aardse graf deur Christus se opstandings krag, kan ons nooit weer sterf nie.

3. Daar sal nie meer apteke, hospitale, dokters, verpleegsters, ambulanse, pynpille of voorskrifte wees nie. Johannes skryf, “daar sal ook nie meer pyn wees nie” (21:4).

Ek herinner my aan ‘n moeder en haar gebreklike dogter wat ons kerk een keer besoek het. Die vrou se seun het selfmoord gepleeg nadat hy vir sewe jaar die mees folterende pyn verduur het wat geen dokter kon diagnoseer nie. Gedurende hierdie tyd, moes hy swaar verdowingsmiddele neem net om elke dag deur te maak. Die bron van sy pyn is nooit gevind nie.

Nou het die dogter begin om dieselfde simptome te wys. Sy is ‘n begaafde danser en ‘n briljante student, wie erekleure gekry het en aan wie studiebeurse toegeken is. Maar haar toestand het agteruitgegaan, soveel so dat sy in konstante martelende pyn is.

En soos haar broer, leef hierdie jong vrou met so ‘n hoë graad van pyn dat die dokters sê dit meet “veertien op ‘n skaal van tien.” Hulle het vir haar gesê die verdowingsmiddel wat sy nodig het vir die pyn sal so sterk wees, dit sal haar binne maande laat sterf.

Ek juig dat so ‘n roemryke dag sal kom wanneer die jong vrou geen pyn meer sal ken nie.

My kleindogter se pyn van haar breingewas het so ernstig geword dat dit veroorsaak het dat haar ledemate verskriklik geskud het. Sy het die vreeslikste aanvalle gehad, en ek moes haar Pa help om Tiffany se arms en bene vas te hou in daardie verskriklike tyd. Die pyn was eenvoudig vir haar te veel, en dit was in der waarheid ook te veel vir haar grootouers. Tiffany het aan die einde vir haar Ma en Pa gesê dat die Here met haar gepraat het en gesê het, “Ek wil hê dat jy na My toe moet kom. By My is daar geen pyn meer nie.”

Johannes se vers het ‘n spesiale betekenis vir my: “daar sal ook nie meer pyn wees nie” (Openbaring 21:4). As Tiffany se oupa, rus ek in die wete dat dit is waar my kleindogter op die oomblik is: met Jesus, waar daar geen pyn meer is nie.

4. Daar sal geen vrees meer wees nie, geen ongeloof, geen verfoeilike dinge, moordernaars, leuens of towery nie. Die Bybel vertel vir ons dat almal wat die soort dinge bedryf in die poel van vuur gewerp sal word: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel” (21:8).

Koerante het ‘n tyd gelede berig dat ‘n bejaarde egpaar dood aangetref is in hulle woonplek. Die egpaar was so angsbevange om beroof of aangeval te word dat hulle gereeld die deure van hulle huis gesluit en al die vensters verseël het. Hulle was so gelaai met vrees dat hulle dit selfs gedoen het in die ontsettende hitte van die somer, so het hulle versmoor.

Daar sal nie meer sulke vrese in die hemel wees nie. Daar sal ook nie meer geweld en moord wees nie. Onlangs, het ‘n kindermolesteerder erken dat hy meer as twee honderd kinders gemolesteer het. Dank God, in die hemel sal daar nie meer sulke gruweldade wees nie.

5. Daar sal nie meer enige rede wees om te trek in die hemel nie. Ek en my vrou het al heelparty kere van die een huis na die ander getrek in ons grootmens lewens. Ek is dankbaar dat as ons hemel toe gaan, ons nooit weer sal nodig hê om te trek nie. Hoe weet ek dit? Jesus sê self, “Laat julle hart nie ontsteld word nie … In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei” (Johannes 14:1-2).

Ek het onlangs van ‘n Christen vrou gelees wat gevra het, “As daar ‘n menigte in die hemel gaan wees wat nie getel kan word nie, hoe is dit moontlik dat God vir elkeen ‘n woning sal maak? Hoe kan daar ooit genoeg plek vir so baie wonings wees?”

Hierdie woorde behoort iets vir ons te beteken. Sommige Bybel studente verklaar Jesus se bedoeling hier as “baie wonings.” Dit mag of mag dalk nie korrek wees nie. Al wat ek weet is dit: As Christus dit bou, kan ons seker wees daarvan dat dit iets glorieryk sal wees.

Soos elkeen van ons nadink oor die plek wat ons Here vir ons bou, behoort ons nie te dink aan steen geboue of enige iets soos dit nie. Sy wonings, is eerder van ‘n totaal ander soort ryk. As mense, kan ons nie dink aan ‘n ryk waarin die liggaam deur alle materiële bestandele ongehinderd gaan nie. (Jesus het dit na Sy opstanding gedoen, en Hy sê dat ons verheerlikte liggame in die hemel soos Syne sal wees.) Dit is ‘n ryk wat geen wetenskaplike nog ooit ontdek het nie, een wat grootliks verskil van enigeiets wat ons ons kan voorstel.

Die belangrike punt wat Jesus oor die hemel maak is, “Dit is huis. Jy gaan vir ewig woon waar Ek is.” “As Ek gaan en vir jou ‘n plek berei, sal Ek weer kom, en jou (Johannes 14:3) Eenvoudig gestel, daar is ‘n huis in die ewigheid vir elkeen van ons. En Jesus sê in wese, “Wanneer daardie dag kom – wanneer julle hier met My sal wees – sal Ek jou persoonlik wys wat Ek vir jou gebou het.”

6. Daar is geen gebroke ledemate in die hemel nie, geen blindheid of doofheid, geen liggame wat sal vergaan nie. Die Bybel sê ons sal nuwe liggame in die hemel hê. Natuurlik is dit ‘n welbekende leerstelling van Christene, en Paulus het baie daaroor te sê gehad. Hy skryf, “Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle?”(1 Korinthiërs 15:35). Met ander woorde, mense mag wonder, “Watter soort liggaam gaan uit die dood opgewek word?”

“En wat jy saai – jy saai nie die liggaam wat sal word nie, … Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewsil het” (15:37-38). Met ander woorde: “Die liggame waarin ons in die hemel sal woon sal na Sy beeld wees. Dit sal hemelbewoners (hemels) wees en nie aardbewoners (aards) nie.”

Volgens Paulus, is ons fisiese liggame “in verganglikheid gesaai” maar “onverganglik opgerig.” Eenvoudig gestel, toe ons liggame “gesaai” is – of, begrawe is – was dit ‘n natuurlike, of aardbewoners se liggaam. Maar wanneer dit opgerig is, sal dit ’n hemelbewoner s’n, of hemelse liggaam wees. Die liggaam wat ons dan sal besit sal “verheerlik” wees deur die opstandingskrag van Christus.

Die Woord sê nêrens dat God elke verlore lidmaat, elke verlore tand, of elke korreltjie sand van ons natuurlike liggame gaan uitsoek, en dit op die een of ander manier bymekaar bring nie. Inteendeel, Paulus leer ons, “Vlees en bloed kan die koninkryk van God nie beërwe nie.” Hy voeg dan by, “In ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (15:52).

Op daardie merkwaardige dag, sal die grafte oopgaan. En in sy ongelooflike krag, sal die Here die ewige liggame laat verskyn. Hierdie liggame sal na die beeld van die heilige en regverdige onbederfbare gevorm wees. En wanneer dit gebeur, sal ons een taal praat, ‘n nuwe taal wat ons almal sal verstaan. Alles sal inderdaad nuut wees.

Die mees opwindendste vir my is dit wat met die miljoene dooie of sterwende kinders van oor die eeue heen sal gebeur. In ‘n oomblik, sal hierdie kosbares opgerig word met nuwe liggame. Ek dink aan die jong kinders wie se liggame graf toe is wat verniel is deur siekte, wie se liggame vernietig is in die menseslagtings, wie se liggame verstrooi is deur die bomme.

Ek dink ook aan die mans en vrouens wie se liggame weggekwyn het en vernietig is as gevolg van siektes, liggame wat in toegesluite kiste begrawe moes word. Ek dink aan die martelare van die eeue wat gesterf het deur marteling, hulle liggame vermink, in twee gesaag, onthoof, in vure gebrand het. Al hierdie gaan uit die grafte kom met nuwe liggame, om nooit weer korrupsie of pyn te sien nie.

My verstand kan die gedagtes daaraan nouliks registreer – en tog juig my hart daaroor!

7. Daar sal nie meer horlosies in die hemel wees nie, omdat tyd nie meer sal bestaan nie.

Johannes skryf dat ‘n engel voor hom verskyn het en op die see en die land gestaan het. Volgens Johannes het die engel sy hand na die hemel uitgestrek, “En hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie” (Openbaring 10:6, my kursief).

‘n Oomblik gaan kom wanneer tyd self eenkant gestoot sal word. Stel jou voor: nie meer jare nie, nie meer maande of weke, nie meer dae, ure, minute of sekondes nie. Daar sal niks wees om tyd mee te meet nie, selfs nie nag of daglig nie, want Christus sal die lig in die paradys wees.

‘n Puritaanse pastoor het probeer om aan sy gemeente die onbeperktheid van die ewigheid te verduidelik. Hy het vir hulle gesê om nie te probeer om dit uit te werk nie, en dat die ewigheid nog altyd was en altyd sal wees, met geen begin of einde nie. Hy het hulle die volgende illustrasie gegee: “Stel julle die aarde as ‘n bal sand voor, 25,000 myle in omtrek. Een keer elke duisend jaar, vlieg ‘n voël in en neem een korreltjie sand weg. Wanneer daardie skepsel die laaste korreltjie sand weggeneem het, eers dan het die ewigheid begin.”

Met ander woorde, in die groot ontwerp van die ewigheid maak “tyd” nou slegs ‘n kort verskyning. Die dag is oppad wanneer tyd sy uitsluitlike doel volbring het en dit verewig verby sal wees. Dit alles is vir my so wonderbaar om oor na te dink.

Paulus juig, “Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus” (1 Korinthiërs 15:57). Baie Christene haal die vers daagliks aan, en wend dit aan op hulle beproewings en verdrukkings. En tog het die konteks waarin Paulus dit gebruik ‘n dieper mening. Net twee verse vroeër, sê Paulus, “Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (15:54-55).

Paulus het welsprekend gepraat oor sy verlange na die hemel. Hy skryf, “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word” (2 Korinthiërs 5:1-2 my kursief).

Die apostel voeg dan by, “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer die liggaam te verlaat en by die Here te woon” (5:8).

Volgens Paulus, is die hemel – om in die Here se teenwoordigheid te wees vir alle ewigheid – iets wat ons met ons hele hart moet begeer.

Eerstens kan ek my Jesus se voorstelling van ‘n groot byeenkoms voorstel, wanneer die engele “en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Mattheüs 24:31).

Wanneer die menigtes byeen sal wees, stel ek my voor dat ‘n groot oorwinningsoptog in die hemel sal plaasvind. Ongeveer almal ken die lied, “When the Saints Go Marching in.” Probeer u voorstel dat die lied in die letterlike hemel gespeel word, met miljoene verheerlikte kinders wat hosannas tot die Here sing, op die manier waarop kinders dit eenmaal in die tempel gedoen het. Wat ‘n geluid van oorwinning en prys sal dit wees: ‘n menigte weeskinders wat uitroep, “Vader!” Ek kan net die straal van vreugde op Jesus se gesig sien. “Vir sulkes is die koninkryk van God,” het Hy verklaar.

Dan kom al die martelare. Die wat eens vir geregtigheid op aarde uitgeroep het, roep nou, “Heilig, heilig, heilig!” Ek kan my die onthoofdes voorstel wat hulle koppe aanraak en sê, “Ek is weer heel.” Die wat in twee gesaag was, soek vir die doodsangs op hulle liggame, maar vind dit nie. Die wat verbrand was op die brandstapels het ook nou heel liggame, met geen teken of reuk van rook nie. Almal van hulle sal van vreugde dans, en uitroep, “Oorwinning, oorwinning in Jesus!”

Toe het ‘n magtige gedreun voortgekom, ‘n geluid wat nog nooit voorheen gehoor is nie. Dit is die kerk van Jesus Christus, met ‘n menigte van alle nasies en tale. Die groep het diegene ingesluit wat eens verslaafdes en alkoholiste was … wie voorheen blind of siek was … wie arm was, weduwees was of wie gedwing was om te bedel. Ek sien die verarmde weduwees wie getrou ‘n muntstuk in die kollekte bordjie geplaas het, wanneer sy niks anders gehad het nie.

Toe die getroue apostel in die hemel opgeneem is, het hy “onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie” (2 Korintiërs 12:4). Paulus sê hy was stomgeslaan oor wat hy daar gehoor het. Ek glo dit was dieselfde geluide wat hy gehoor het. Hy het ‘n voorsmaak ontvang van die sang en lofprysing tot God deur die wat in Sy teenwoordigheid sou juig, hulle liggame heel, hulle siele gevul met vreugde en pryse. Dit was ‘n geluid so roemryk dat Paulus dit kon hoor maar nie kon herhaal nie.

Liewe heilige, maak die hemel jou ernstige verlange. Jesus is oppad vir diegene wat daarna verlang om daar met Hom te wees.