HEERLIKE OORGAWE AAN GOD

David Wilkerson (1931-2011)

Die oomblik waarop ons oorgee aan Christus en onsself toewy aan absolute gehoorsaamheid aan Hom, word ‘n wonderlike krag in ons innerlike mens vrygestel. Vrees van wat mense aan ons kan doen, verdwyn. Daar is geen vreesagtigheid meer teenoor God of die hel of straf nie. En in plaas van hartseer, pyn, moeilikheid en angs, oorstroom die Gees van God ons met nuwe lig, nuwe hoop, groot blydskap, heerlike vrede, en oorvloedige geloof.

 Dit was gesê van Christus dat Hy verdra het en gehoorsaam was aan sy hemelse Vader, nie as gevolg van vrees nie, maar as gevolg van die vreugde wat Hom voorgehou is. Hy het alle laste neergelê; die wedloop met geduld gehardloop; die skande verduur; nooit beswyk of vermoeid geword in sy verstand nie – alles omdat Hy die heerlike belonings van gehoorsaamheid gesien het. Onuitspreeklike blydskap. Vrede. Rus. Vryheid. Volheid.

Vrees is nie die beste motiveerder tot gehoorsaamheid nie, liefde is. Dit is heerlike oorgawe aan die wil van God wat die hemele vir ons oopmaak. Dit is die aflê van elke sonde, elke daad van ongehoorsaamheid, wat ons toelaat om die openbaring te kry van wie Christus werklik is. Die Skrif sê, “Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie” (1 Johannes 3:6).

Kan dit moontlik wees dat ons, deur in ongehoorsaamheid te lewe, Hom nie langer ken nie? Kan dit wees dat ons voortgaan om ons in ons begeertes te verlustig omdat ons nooit ‘n openbaring van Christus gehad het nie, sy haat vir sonde, sy absolute heiligheid, sy heerlikheid en genade? In eenvoudige taal, hy wat in ongehoorsaamheid lewe, het Christus nog nooit werklik gesien nie.”

Jesus het gesê, “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar” (Johannes 14:21).

Watter groter beloning vir liefdevolle gehoorsaamheid kon ons wou hê as dat Christus Homself aan ons openbaar? Hy sê, “Wees lief genoeg vir My om My te gehoorsaam. Ek sal jou dan liefhê en vir jou wys Wie Ek is!”