Gryp Heilige Droefheid en Passie Aan

Gary Wilkerson

Jy sal dalk in jou eie lewe oplet dat wanneer die Heilige Gees ‘n groter mate van Homself, 'n groter doop van sy krag aan jou wil skenk, hierdie tye dikwels met trane gepaard gaan. Moet nooit skaam wees vir trane nie. Moet nooit skaam wees om te huil nie. Moenie jouself probeer distansieer van die emosies wat kom wanneer God in jou lewe begin werk nie. Hy wil nie net in jou gedagtes werk nie, maar ook in jou hart en jou by ‘n plek van trane bring.

Dit word bevestig deur die apostel Paulus: “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het. Want baie – van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder baie trane sê – wandel as vyande van die kruis van Christus” (Filippense 3:17-18, AFR53). Die Heilige Gees was in Paulus en in sy gebede vir die kerk, maar waarvan het hy hier gepraat? Waarom beklemtoon hy: “Ek gaan julle nou met trane vertel dat sommige mense vyande van die kruis is”?

Die rede waarom hy hulle so nadruklik aanspreek, is nie omdat iemand in die wye wêreld daar buite ‘n vyand van die kruis is nie, maar omdat die duiwel probeer om binne-in die liggaam van Christus, in die kerk self, te werk om ons vyande van die kruis te maak.

Beteken dit dat jy skielik 'n ateïs kan word? Nee.

Om louwarm te wees, word egter baie maklik ‘n leefstyl. Onthou wat Johannes in Openbaring skryf? “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Dit is wat ek glo waarna Paulus in Filippense verwys.

Kan jy apaties bly leef en nie daaroor bekommerd wees nie? Kan jy voortgaan om in die kompromie van ‘n sondige lewe te verkeer en jou hart daaroor nie gebreek word nie?

O, kerk, dit is tyd dat ons op ons aangesigte voor die Here neerval en uitroep om sy genade oor ons en hierdie geslag. “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smeking met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (Hebreërs 5:7). Ons moet in hierdie laaste dae bid vir passie, heilige droefheid en ywer.