Goeie Dinge Wat Mense Uit Die Hemel Hou!

Glo dit of glo dit nie, maar baie goeie mense, wat betrokke is met die doen van wonderlike dinge sal nie in die Hemel kom nie. Erger nog, `n menigte wat hulle self as Christene beskou en wat verseker is dat hulle Hemel toe gaan, sal uitgesluit word - selfs al hou hulle hulleself nie besig met ernstige sondes of allerhande slegte dade nie!

Die Christene waarna ek verwys gebruik nie dwelms of alkohol nie. Hulle dobbel nie. Hulle gee hulle ook nie oor aan pornografie of seksuele perversie nie. Hulle word nie getel onder die goddeloses en walglikes nie. Die feit is dat baie van hulle gevind word in die kerk op Sondag oggende. Hulle spandeer meeste van hulle vrye tyd met vriende en familie en geniet die goeie dinge. Hulle is familie mense met familie waardes.

Met dit gesê, wil ek selfs `n meer gewaagde stelling maak - een wat sommiges mag aanstoot gee. Tog sê ek dit uit liefdevolle besorgdheid vir die in die kerk van Jesus Christus wat nie kan sien dat hulle op `n rampspoedige weg is nie. Sommiges staan die gevaar om hulle siele te verloor - al sit hulle in die kerk, absoluut verseker daarvan dat hulle op pad is hemel toe!

Hierdie hele idee mag vir u lyk na `n paradoks, maar ek wil dit uit die Skrif aan u bewys. As u ooit ag sou slaan op `n boodskap waar die Heilige Gees met u sou praat, is dit hierdie een.

My punt is: Sommige gelowiges sal uit die Hemel uitgesluit word, nie as gevolg van die slegte dinge wat hulle gedoen het nie - maar as gevolg van die feit dat hulle so besig geraak het om goeie, regverdige dinge te doen, dat hulle nagelaat het om dit te doen wat regtig tel - ewige dinge.

Hulle ywer vir die goeie het veroorsaak dat hulle die dinge van God opsy geskuif het.

Sulke mense het so besig geraak in die "hier", en nou het hulle nie tyd vir die dieper dinge van die geestelike lewe nie. Hulle sweet om hulle besighede op te bou, om hulle loopbane te bevorder, om vir hulle families te voorsien - maar hulle fokus het totaal onklaar geraak!

Die Bybel sê:

"Nee beywer julle allereers vir die Koningkryk van God en die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee." (Mateus 6:33).

Hierdie is Christus se eie woorde - en dit is nie `n voorstel nie maar `n gebod. Jesus bedoel wat Hy hier sê, en belowe: "As julle die Here eerste soek, dan sal Hy aandag gee aan al die die ander dinge waaroor julle, julle bekommer - loopbaan, besigheid, huis en familie. Maar julle moet Hom die primêre fokus maak!"

Die apostel Paulus voeg by: "Rig julle gedagtes op die dinge wat daar bo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God (Kolossense 3:2-3).

Weereens is hierdie nie `n aanbeveling nie, maar `n gebod. In Grieks is die betekenis, "Rig jou fokus, of belangstelling, op die dinge van bo." In ander woorde: "Rig jou fokus - soos yster, soos beton - op die dinge van God. Maak dit onbeweegbaar, hardnekkig."

Verstaan asseblief - God het nooit versoek dat ons ons huise verkoop, grond en eiendom nie; hy het nog nooit gesê ons moet ons werk bedank en monikke word en onsself totaal gee vir meditasie en Bybelstudie nie. (Ja, Jesus het dit gesê, maar slegs aan een man - omdat die man se eiendom sy godsbeelde geword het. God sê dit nie aan almal nie.)

Mense het al aan my gesê "God het gesê ek moet my vrou en kinders los en in prediking ingaan." Ek kyk hierdie mense reguit aan en sê, "God het dit nie aan jou gesê nie. Dit was of jou eie verstand of die duiwel. Die Here is nie in die besigheid van huweliksverbrokkeling nie!" God sal jou nooit vra om enige iets van die aard te doen nie. Maar Hy dring daarop aan om die middelpunt van jou lewe te wees, waarom al die ander dinge draai. Hy dring daarop aan dat sy belange, sy kerk prioriteit sal neem. Hy moet die middelpunt wees!

Dit is die grootste belediging vir die Here wanneer enige Christen Hom in `n sekondêre posisie plaas. Dit is `n klap in God se gesig. U mag dink dat u nie skuldig is aan so `n belediging nie - maar hoe prioritiseer u u tyd? Byvoorbeeld, hoeveel keer het jy kerk gemis om besigheid te doen? Gedurende daardie tyd was dit nie jou kliënte wat moes wag nie - maar God moes wag. Hulle was eerste, bo sy belang, gestel!

Ek besef dat u nie kan help om kerk te mis wanneer u `n werk het wat u verhoed om kerk by te woon nie - soos `n verpleegster of `n nagskof werker nie. Maar ek praat van mense wat wel `n keuse het - wat byvoorbeeld hulle eie maatskappye bestuur en wat kies om eerder besigheid te doen as om na die Here se huis te gaan. Die Bybel waarsku: "Ons moenie van die samekomste van die gemeente af weg bly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom." (Hebreërs 10:25).

Hierdie is nog `n gebod van die Here. Wat neem egter prioriteit in jou lewe? Wie doen die wagwerk - jou besigheid of God?

As ons nie hierdie gebooie onderhou nie, sal ons die aaklige gevolge moet dra. Inderdaad, ek het nie geweet dat Jesus soveel waarskuwings gegee het oor hierdie aangeleentheid nie. Ek wil drie paragrawe in besonder aan julle duidelik maak:

"Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed en dit het hulle almal uitgewis. In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis. Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn." (Lukas 17:26 - 30).

Kyk weer na hierdie lys wat Jesus ons gee, en oorweeg die dinge wat die mense gedurende daardie tyd gedoen het. Ons weet daar was geweld soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie, en saam daarmee afstootlike immoraliteit soos sodomie en homoseksualiteit. Maar Jesus praat nie van enige van daardie dinge hier nie. En hy noem ook nie alkoholisme of perversie nie. Eerder, neem versigtig kennis van wat hy sê waarmee mense besig was voordat die oordeel geval het: geëet, gedrink (maar hy noem nie dronkenskap nie), getrou, verloof geraak, gekoop, verkoop, geplant, gebou. Daar is nie een sonde in hierdie lys nie. Hierdie is alles goeie geoorloofde dinge.

Die feit is dat al hierdie dinge wat deur Jesus gelys is, aanbeveel word in God se woord aan hulle wat getroue familie mense en diensknegte van die Here is. Neem trou as `n voorbeeld. Paulus sê "Maar as jy tog trou, dan doen jy nie verkeerd nie.." (1 Korintiërs 7:28). Op `n ander plek in die Skrif word gesê: "Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word." (Hebreërs 13:4).

Boonop sê Spreuke 31 dat `n knap vrou baie werd is ".Sy oorweeg die waarde van `n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het" (Spreuke 31:16). Sedert die tyd van Joshua, toe Israel in die beloofde land inbeweeg het, het God mense beweeg om lande te bewerk en om geboue op te rig vir sy glorie. Daar is niks verkeerd met enige van hierdie aktiwiteite nie.

Waarom konsentreer Jesus dan slegs op die goeie geoorloofde dinge wat mense gedoen het gedurende die dae net voor die oordeel? Dit is omdat Hy probeer om ons iets van kardinale belang te vertel: Hy waarsku ons dat ons nie op sy woord let nie, maar totaal en al vasgevang is in ons eie belangstellings!

Dink daaroor: Die Bybel noem nooit een woord dat Noag gekoggel is, mishandel is of gepla is gedurende die 120 jaar wat hy aan die ark gewerk het nie. Klaarblyklik is sy werk en preke nooit gesteur nie. God vertel ons, "Ja, daar was geweld en korrupsie gedurende daardie tyd. Maar die oorgrote meerderheid was so besig om goeie, geregverdige dinge te doen dat hulle geen tyd gehad het om na te dink oor Noag se waarskuwings nie. Almal was so besig om te trou, om uit te gaan om te eet, met vriende te meng en plesier te hê, dat hulle nie tyd gehad het om te luister nie."

Praat van die aard van die Amerikaanse leefstyl. Ek kan boeke skryf en boodskappe preek oor die komende oordeel, maar weinig buite `n klein oorblyfsel van gelowiges luister en slaan ag op my woorde. Die groter meerderheid van Christene gee nie om nie. Hoekom nie? Dit is omdat hulle so vasgevang is in hulle eie planne vir trou, kinders, huis, werk en loopbaan. Hulle het geen tyd om te luister na boodskappe rakende die koms van die Here nie!

"Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn." (Lukas 17:30). Jesus waarsku, "Die laaste generasie sal presies dieselfde wees. Hulle sal so besig wees en vasgevang wees in hulle eie belangstellings sodat hulle my belange eenkant sal stel!"

Dit was so vir eeue. Baie mense is seker dat hulle op pad is hemel toe. Maar week na week, skeep hulle God se huis, God se woord, gebed en aanbidding af. Tog sien hulle nie hulle optrede as sonde nie:

".Waarom het my volk dan gesê:..Ons rebeleer, ons wil U nie meer dien nie".Tog het my volk my jare gelede al vergeet.En ten spyte van dit alles sê jy:.Ek is onskuldig." (Jeremia 2 31-35).

Sulke mense mag besig wees om goeie, wettige dinge te doen - maar God kom nie eerste by hulle nie! Hy is nie die middelpunt van hulle lewens nie. As Hy was, sou hulle hom nie eenkant toe gestoot het nie. Hulle sou tyd vind om by Hom te wees!

Jeremia het die volk berispe vir "wispelturigheid" (sien vers 36). Almal het rondgehardloop, goeie dinge gedoen, selfs godsdienstige dinge. Maar hulle het God verwaarloos. Hulle het nie tyd gehad om God op te soek nie en geen tyd gehad om by sy voete te sit en te leer nie.

Dieselfde dinge gebeur vandag reg deur die liggaam van Christus.

Mense kan so besig wees om vir God rond te hardloop dat hulle nie tyd het om sy aangesig te soek nie.

Te veel kan nie sit en aandag aan sy woord gee nie omdat hulle gedurig rondrits!

"So sal dit wees." Toe Jesus gepraat het van sy wederkoms, waarom het hy nie oor die misdaadsyfer gepraat nie? Waarom het hy nie na die hedendaagse immoraliteit verwys nie? Hy het niks genoem van ons dwelm epidemie, ons oorbevolkte tronke, ons sondes rakende aborsie nie. Nee - hy het net gesê, "Net soos wat dit in daardie dae was, sal mense koop, verkoop, eet, trou - besig wees met 'goeie dinge'. En hulle sal so besig wees dat hulle, hulle siele sal verwaarloos!"

In Oktober 1996, sal ons kerk sy negende bestaansjaar vier. Gedurende die eerste drie jaar was daar soveel opgewondenheid. Baie jong profesionele en besigheidspersone het na ons dienste toe gekom - lieflike loopbaan gerigte manne en vroue wat aan die brand was vir die Here. Hulle het getuig dat hulle geestelik sterwend was en dat Times Square Church hulle gered het van `n geestelike dood.

Hierdie mense was altyd daar wanneer die kerk deure oopgemaak het. Hulle het bandjies van die dienste huis toe geneem en daarna geluister en geluister totdat die boodskap ingesink het. Hulle was ook sielewenners. Wanneer hulle my ookal op straat gesien het, het hulle gestop en my omhels, stralend aan onbekendes gesê, "Dit is my pastoor. Julle moet kom en hom hoor preek!"

Wanneer ek na hulle kantore toe gegaan het en my voorgestel het aan hulle seketaresses, het ek VIP behandeling ontvang. Ek is dadelik vertel, "Gaan dadelik in Pastoor." Wanneer ek die kantoor binne geloop het, het hulle alles waarmee hulle besig was laat staan, my omhels en gesê, "O pastoor - Sondag was wonderlik! Nadat ek huis toe gegaan het kon ek skaars slaap. Die Gees van God was heelnag met my."

Deesdae sien ek nie meer veel van hulle gesigte in die kerk nie. Bietjie vir bietjie het ek hulle sien teruggly, terug na materialisme toe. Vandag neem hulle werke, loopbane of besighede al hulle aandag in beslag. Baie woon kerke by waar slegs een-uur dienste op `n Sondag gehou word, met `n twintig minute preek sonder oortuiging. Wanneer ek hierdie dierbare mense op straat sien, dan gee hulle voor dat hulle my nie sien nie. Sommiges draai selfs om en loop in die teenoorgestelde rigting.

Hulle verwerping maak my baie seer. Maar hoeveel te meer kry God nie seer omdat hulle Hom verwerp nie? Hoe voel hy om verwerp te word deur hulle wat eens die pad met hom geloop, met hom gepraat en by hom gehuil het? Op een tydstip het hierdie selfde mense aan hom gesê Here, U het my lewe van `n godlose hel gered. Ek sal U nooit los nie!", maar nou gee hulle hom niks tyd nie.

Jy mag sê, "Ek moet `n lewe maak. God verstaan." Nie so nie! Hy sal nooit verstaan nie - nog minder sal hy dit ooit aanvaar - dat ons hom tweede teenoor enige iemand of enige iets stel:

"Hy [Jesus] is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem" (Kolosense 1:18).

Die woord "eerste plek" beteken dat Jesus prioriteit moet hê!

Hierdie gelykenis is belangrik - want Jesus is die man wat die groot fees gee! Die fees waarvan hier gepraat word is die evangelie, en die tafel wat voorberei word is die kruis. En Jesus se uitnodiging is aan almal:

"Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee" (Matteus 11:28).

Eenvoudig gestel, ons Here nooi ons om intiem met Hom te wees. Ons is aangespoor om in sy teenwoordigheid `n maaltyd te kom geniet, om Hom te leer ken en om sy teenwoordigheid te geniet. Hy sê, "Kom en vind die tafel gedek vir julle. Alles is nou gereed. Julle sal ten volle satisfaksie in my ontvang!"

Inderdaad, Jesus het alreeds alles bereik wat nodig is om ons ten volle satisfaksie te verskaf gedurende ons leeftyd. Al ons honger - alles wat te doen het met heiligheid en goddelikheid - is in Hom opgeneem: "Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag" (2 Petrus 1:3).

Tog, die gelykenis vertel ons dat toe dit tyd was vir aandete en die tafel gedek was, het niemand opgedaag nie. Toe die bediendes in die pad af gekyk het, kon hulle niemand sien wat aankom nie. Die heer het gedink dat almal alles sal los waarmee hulle besig was om vroeg en vol verwagting daar te wees, afwagtend op die gemeenskap en vreugde. Maar niemand het gekom nie.

Ek vra jou: Hoe sal jy voel as jy `n wonderlike maaltyd gekook het, gaste genooi het wat gesê het dat hulle sal kom, maar toe die tafel gereed was, daag niemand op nie? Sal jy dit nie neem as totale verwerping nie - dat dit beteken dat jou gaste geen belangstelling in jou het nie?

Hierdie heer het besluit om sy bediende uit te stuur om sy genooide gaste te herinner dat alles gereed was. Dit was `n laaste oproep: "Aandete is gereed. Hoekom het julle nie gekom nie?" Maar die Bybel sê, " Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak." (Lukas 14:18).

Die eerste genooide gas het homself verskoon want hy was besig met `n grond transaksie: ".Ek het `n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk." (selfde vers). Hierdie man was skynbaar `n grondspekuleerder wat die grond gekoop het sonder om dit te sien. Of miskien wou hy net `n stukkie grond gehad het waarop hy sy huis kon bou vir sy familie.

Dit is geen sonde om met grond te spekuleer nie. Ook is dit nie sonde om `n huis te bou nie. Beide is goeie regmatige dinge. Per slot van rekening, net voor die oordeel oor Juda geval het, het Elia `n stuk grond gekoop as gevolg van die openbaring wat hy ontvang het.

Grondkoop is nie die punt hier nie. Die punt is, hierdie man het nie die regte fokus gehad nie! Hy het op sy eie belange gefokus - sy besigheid, sy familie belange -en hy het die uitnodiging vir gemeenskap met sy meester ter syde gestel. Hy het gesê, "ek sal later daaraan aandag gee.

Ek gaan eerste aandag gee aan my belange." Maar die feit bly staan, daardie land sou nêrens heengaan nie. Dit sou die volgende dag nog daar wees!

Die tweede genooide gas het met beeste gespekuleer. Hy het aan die bediende gesê: ".Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra U, verskoon my asseblief." (vers 19). Hierdie man mag in die beeste bedryf gewees het. Dit blyk dat hy die tien osse gesien het voordat hy hulle gekoop het en dat hulle op daardie tydstip baie goed gelyk het. Maar nou moes hy hulle toets, om te sien of hy `n goeie koop gemaak het.

Daar is geen sonde in wat hierdie man gedoen het nie. Om die osse te toets was `n geregverdige aksie en die verantwoordelike ding om te doen. Abraham en Job het sonder twyfel presies dieselfde dinge oor en oor gedoen omdat hulle ryk in beeste was. Hierdie man het gedoen wat God se woord aanbeveel het aan enige ywerige verskaffer.

Maar, weereens is dit nie die punt nie. Wat was hierdie man se sonde? Hy het opgetree asof dit belangriker was om na die stal toe te gaan as om na God se huis toe te gaan! Die osse kon die volgende dag getoets word. Maar hy wou hulle nie laat wag nie, in plaas daarvan het hy die meester laat wag!

Die laaste genooide gas het gesê, ".Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie" (vers 20). Nou, niks kan meer geregverdig wees as om te trou nie. Die Bybel sê Wie `n vrou kry, vind geluk en geniet die goedheid van die Here. (sien Spreuke 18:22).

Maar weereens, trou is nie die punt nie. Hierdie man het gesondig deurdat hy sy familie eerste geplaas het! Die Here sê, "Toewyding aan `n gesin is goed op sy tyd en op sy plek - maar nie as dit my plek inneem nie!"

Hierdie man kon sy vrou na die fees gebring het. Dit sou `n goeie manier gewees het om sy huwelik te begin. Hy kon gesê het: "Liefling, die Here was nog altyd eerste in my lewe. Niemand neem sy plek nie. Wanneer sy deure oop is vir my, dan gaan ek altyd in om met Hom gemeenskap te hê. Sy belange neem prioriteit in my lewe. Nou, ek wil graag dat my waardes ook jou waardes sal word. Kom nou, kom ons maak sy belange ons eerste prioriteit."

Ek weet van huisvrouens wat dit baie moeilik vind om Sondag oggende kerk toe te kom, nog minder na ander dienste. Maar hulle het baie tyd gedurende die week om rond te slenter! Hulle is konstant aan die hardloop en doen spesiale dinge vir hulle kinders. Hulle maak tyd vir dansklasse, musieklesse, skoolfunksies, partytjies, pieknieks, sport en inkopies. Die lys gaan aan en aan. Maar hulle maak bitter min tyd vir die sake van die Here. Die boodskap wat deurkom is: "My kinders kom eerste!"

Ek sê nou vir julle, as julle God se belange verwaarloos en julle eie kinders eerste plaas, dan verdoem julle hulle! Dit is wat gebeur het met Hiskia en Manasse. Die Here het aan Hiskia vyftien ekstra lewensjare gegee - jare wat hy moes gebruik het om op sy aangesig in aanbidding voor God deur te bring en vir die hernuwing van Israel te vra. In plaas daarvan het Hiskia die tyd deurgebring deur met volwasse speelgoed te speel - deur juwele en beeste te verkry en die konstruksie van geboue. Die seun wat hy gedurende daardie jare groot gemaak het, Manasse, het gekyk hoe sy pa speelgoed en familie eerste stel. Die resultaat? Manasse het een van die mees goddelose konings geword in die geskiedenis van Israel.

Wat was die sonde van die drie mense in hierdie gelykenis? Dit was dat die land, die osse en familie belange gebruik was om intimiteit en gemeenskap met die meester ter syde te stel. Moenie my verkeerd verstaan nie - hierdie dinge wat deur hulle gedoen is, was alles goed en totaal en al reg. Maar dit het sonde geword - onvergeeflik - toe hulle die meester geroof het van tyd en eerbied aan hom!

Laat my toe om `n ander belangrike stelling te maak: jy is nie `n ware liefhebber van Christus, as jy nie jou tyd saam met Hom beskerm nie!

Jy moet op `n plek kom waar jy besluit dat alle dinge wat jou beroof van waardevolle tyd in Jesus se geselskap, indringers is. As Hom eers ter syde stel of iets anders prioriteit gee, kan dit maklik `n gewoonte word. En die gevolg daarvan sal wees soos wat Jeremia dit stel - Hom "dae sonder tal" verwaarloos (sien Jeremia 2:31 - 32).

Wat gebeur wanneer die meester verwaarloos word? Hy word kwaad! Die meester in hierdie gelykenis sê, "Dit verseker ek julle: nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie" (Lukas 14:24).

In ander woorde: "Goed so menere - julle het my gewys dat julle te besig is vir my. Julle het julle werk, julle families en beeste voor my gestel. Julle wil nie saam met my aandete geniet en my leer ken nie. Nou vertel ek vir julle - julle sal my nooit ken nie. Julle sal nooit deur my hekke ingaan nie!"

Net so, sal baie na Jesus kom, en sê, "Here ons het magtige werke in U naam gedoen. Ons het duiwels uitgedryf en siekes gesond gemaak, alles vir U glorie." Maar Hy sal antwoord: "Dit is alles goeie dinge - maar ek het jou nooit geken nie! Jy was te besig om intiem met my te wees. Jy het nooit alles ter syde gestel om in my teenwoordigheid te sit nie. Nou het dit bewys dat al jou goeie werke verniet was. Gaan weg van my af vreemdeling!"

Jesus gee vir ons `n kragtige gelykenis in Matteus 25 - die gelykenis van die tien maagde. Julle ken seker hierdie gelykenis baie goed: Net vyf van die maagde se lampe was met olie toe gevul toe die bruidegom hulle kom haal het. Die ander vyf was by die bruilof uitgesluit omdat hulle besig was om te probeer om olie te vind toe die bruidegom opgedaag het.

Siende dat die tien maagde in hierdie gelykenis die kerk verteenwoordig, beteken dit dat slegs die helfte van alle Christene die bruilofsmaal gaan mee maak? Ek weet nie. Maar ek weet wel dat ons kennis moet neem van wat Jesus vir ons hier sê.

Ek het geen probleem met die feit dat al tien maagde "vaak geword en geslaap" het tot middernag nie. Eerstens, die wat reeds olie gehad het kon in vrede slaap omdat hulle genoeg gehad het om hulle tot die oggend toe deur te sien. (Sommige mense sê dat die olie die Heilige Gees is - en dat die vyf dwase maagde roekeloos gewandel het en die Gees se salwing verloor het.)

Tweedens, die olie is die kern van die gelykenis, maar gewoonlik raak ons so gefokus daarop dat ons `n baie belangrike aspek mis. Julle sien, nadat die vyf dwase maagde hulle olie opgevul het, het hulle terug gegaan en geklop aan die deur en gesê, "Here, Here, maak vir ons oop ." Maar wat het die bruidegom aan hulle gesê? Hy het nie gevra waar hulle was nie. Hy het hulle nie berispe omdat hulle te min olie gehad het nie. Hy het nie genoem dat hulle laat was nie. Hy het geneen van hierdie dinge genoem nie. Nee - hy sê dood eenvoudig, "Maar die bruidegom antwoord: Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!" (Matteus 25:12). Hy sê, "Ek ken julle nie." En dit is die hart van hierdie gelykenis!

Onlangs, na `n diens in ons kerk het `n vrou en haar dogter my genader. Ons het hande geskud en hulle het glimlaggend daar gestaan. Na `n rukkie het hulle gevra, "Erken jy ons nie?" Ek het my kop geskud. Hulle sê toe, "Ons het jou vyftien jaar gelede ontmoet na `n kruistog in Los Angeles. Jy het vir ons gebid, onthou? Ons is op jou poslys. Ons is lief vir jou boodskappe en ons volg jou bediening vir jare. Hoe kan jy ons nie ken nie?"

Ek het hulle vir vyftien jaar nie gesien nie! Ek het gesê, "Ek is jammer, dames - ek ken julle nie." Die twee dames was vreemdelinge vir my.

Verseker weet Jesus wie ons almal is. Hy is alsiende en alwetend. Maar dit is nie die tipe van "ken" waarvan hy in hierdie gelykenis praat nie. Jesus sê, "Jy het my nooit ernstig opgeneem nie. Jy het my nooit eerste geplaas nie. En dit is nie waarom my bruidskap gaan nie. Jou hart is nie in die verhouding nie. Jy het my verwaarloos. En ek kan nie jou gees of jou weg erken nie. Ek kan jou nie erken as deel van my bruidskap nie!"

Geliefdes, ken julle Jesus in julle binnekamers sowel as in die kerk? Praat julle met hom wanneer julle werk toe ry, in die trein of wanneer julle in die bus ry? Wanneer die kerk deure oopgaan, is julle so veel as moontlik daar?

Wanneer die laaste dag kom, sal Jesus jou dan ken?

`n Paar weke gelede het ek net `n blok of twee vanaf ons woonstel gaan stap om `n koerant van die naby geleë koerantstalletjie te koop. Toe ek in Negen-en-Veertigste Straat instap, het ek `n treurige bedelaarsvrou sien sit op `n stoep. Sy kon nie veel ouer as vyftig gewees het nie, maar sy het tagtig gelyk. Sy het na my gekyk met `n honger verlore kyk, so asof sy wou sê, "Dit is al wat die lewe my kon bied." My hart het gebreek. Ek het treurig gedink, "Sy is iemand se ma."

Toe ek regs draai in Agste Laan, sien ek `n jong man met wilde hare. Hy was bedwelm en het al waggelend verby my simpel dinge gemompel wat niemand verstaan het nie. Ek het gedink, "Gedurende hierdie lewe, lewe hy sy lewe in die hel. En wanneer hy doodgaan, gaan hy `n ewigheid in die brandende hel deurbring." Dit was vir my so tragies - dat iemand bereid is om in hel hier te lewe, en dan doodgaan net om dan hel toe te gaan. Ek het so treurig en hulpeloos gevoel.

Nadat ek die koerant gekoop het, het ek omgedraai en `n jammerlike jong prostituut gesien verby loop. Daar was `n leë kyk in haar oë. Haar liggaam was gebroke en besmet, maar tog het sy nog probeer dit te verkoop om nog dwelmmiddels te bekom. Ek het gewonder of sy ooit geweet het wat `n normale lewe werklik was.

Ek het hartseer terug gegaan na my woonstel. Ek het gesit in my stoel, die ruimte in gestaar en begin huil, "O God, is hierdie stad nie hel genoeg nie? Sal U nie deernis met die arme mense hê wanneer hulle voor U staan nie? Nie een van hulle het die preke gehoor van ons mense by Times Square Church nie. Hulle het nie die gemeenskap van heiliges geken nie. Hulle is nie aangeraak deur die Heilige Gees nie. Hulle het nie die geestelike mentalitiet om vir U wederkoms te wag nie. O Here, somtyds dink ek U gaan meer genade aan hierdie verlate mense toon as aan al die heiliges wat honderde preke gehoor het, maar aangehou het om U tog maar af te sit!"

Inderdaad, Jesus het gesê dit sal meer uithoudbaar wees op daardie dag vir Sodom en Gemorra as wat dit sal wees vir hulle wat die goeie dinge van God geproe het. Ek praat van mense wat die krag van die Heilige Gees geken het - wat beloof het om Jesus lief te hê en te dien tot die dood toe, maar wat weggedraai het na hebsug, materialisme en eiebelang. Sê my - hoe kan u uitkyk vir Jesus' se koms as u geheel en al toegewikkel is in die goeie dinge van hierdie aarde?

As Jesus nie die appel van jou oog is nie - as jy nie op Hom gefokus is nie, sy kerk, sy woord, sy belange - dan kan jy nie sy dissipel wees nie. Dit sal vir jou beter wees om `n verwerpte te wees as `n skynheilige!

Ek sê dit in liefde: Baie van julle wat hierdie boodskap lees gaan dit nie maak nie - tensy julle vandag `n verbintenis maak: "Here van hierdie oomblik af aan, verbind ek my tot U, dat U die middelpunt van my lewe sal wees. Alle ander dinge sal tweede plek inneem. U is alles vir my, Jesus. En ek weet dat indien dit nie so is nie, alles dan nutteloos sal wees!"

Amen!