GODDELIKE AANSTELLINGS

Gary Wilkerson

“En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar...wat...na Jerusalem gekom het om te aanbid. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa” (Handelinge 8:29-30).

Hierdie Ethiópiër, wat eintlik die tesourier was vir Kandacé, koningin van Ethiópië, was by die tempel in Jerusalem om te aanbid, en het na ‘n nuwe lewenswyse gesoek. Hy het daarvandaan vertrek, steeds soekend, en het die Skrifte op sy wa gesit en gelees.

Die Here het Philippus beveel om op hierdie spesifieke gedeelte van die pad te reis, sodat hy die Ethiópiese man sou teëkom. Hy het die Here gehoorsaam en toe hy die Ethiópiër sien en met hom gaan praat, sien hy die man lees uit Jesaja 53:7: “Soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”

Die man het Filippus gevra wat die Skrif beteken en Filippus, wat onderskei het dat die man se hart gesmag het na die waarheid, het begin met ‘n breedvoerige verduideliking oor die waarheid van Jesus Christus. “En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig” (8:35).

Die gedeelte van die Skrif waaruit die Ethiópiër gelees het in die Ou Testament, praat van die vervulling van die profesie van Jesus Christus. Filippus kon God se plan van verlossing, doop, ‘n nuwe koninkryk in God verduidelik – al die dinge wat absoluut, volkome vervul was in een Mens – Jesus. Die Ethiópiër het sy hart oopgemaak en op die boodskap gereageer en die ewige lewe ontvang.

Wanneer ‘n getroue gelowige die evangelie oordra aan ‘n gewillige hart, vind wonderwerke plaas. Jy mag dalk steeds soekend wees om meer van Jesus te verstaan. Indien wel, sal God sekerlik antwoord op die roepstem van jou hart om meer van Hom te leer en iemand na jou toe bring. Of miskien sal die Here ‘n goddelike ontmoeting reël waar jy in staat sal wees om iemand anders te bedien.