GOD WEET – EN DIT IS AL WAT BELANGRIK IS

David Wilkerson

Jesus praat van gras wat vandag mooi en groen is, maar môre word dit afgesny. Hy wil hê ons moet onthou dat Hy dit lewe gee en versorg.

“As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges? (Lukas 12:28).

Ons kan nie waag om te dink Hy gee minder om vir ons behoeftes as vir gras nie. Hy weet baie goed wat ons nodig het, of dit kos, finansies of klere is.

ONS VADER SE GROOT BELOFTE

“Want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het” (Lukas 12:30).

Weer herinner Christus ons, “Dit is al wat jy moet weet: Jou hemelse Vader weet wat jou behoeftes is. Hy het dit reeds gelys.”

Jesus belowe, “Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want die Vader het ‘n welbehae gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:31-32).

As ons Hom eenvoudig sal vertrou, sal ons Here ons seën met alles wat ons nodig het.

GOD SAL NOOIT SY “KLEIN KUDDETJIE” VERLAAT NIE”

As jy besorgd is oor jou familie se welstand in die komende dae, het ek goeie nuus vir jou: Jou kinders is God se kinders. En Hy gee meer om vir jou geliefdes as jy. Jesus weet presies wat julle almal nodig het om te oorleef.

Hy weet van jou behoefte om ‘n dak oor jou kop te hê. Hy weet presies wat jou huur- of verbandpaaiement is elke maand. Hy weet van die monde wat jy moet voed en die hoeveelheid kos in jou spens. Jy kan Hom ten volle vertrou om al hierdie behoeftes aan te spreek, omdat Hy belowe het om dit te doen.