GOD SE WOORD SPREEK HARDER

David Wilkerson (1931-2011)

Ons bediening het ‘n webwerf waarin ons boodskappe van Christene regoor die wêreld ontvang. Tans skryf gelowiges in verskeie lande dieselfde ding: Vrees kry ‘n houvas. Soos in die Skrif geprofeteer is, skud God alles wat kan wankel en dit is moeilik om die onrus wat tans in die wêreld plaasvind te peil.

Te midde van dit alles, versprei angs en Christene is nie immuun daarteen nie. Talle skryf oor groot storms in hulle lewens: finansiële krisisse, familie-spanning, depressie, hartseer. Sommig word ongelooflik oorweldig – en die probleme lyk of dit nie ophou nie.

Soms is ons grootste vrese die pyn en lyding van hulle wat die naaste aan en kosbaarste vir ons is. Baie van God se kinders roep uit, “Here, dit is genoeg. U Woord belowe verlossing. U het gesê dat U nie sal toelaat dat ek meer as wat ek kan verdra, sal ly nie, en dat U vir my uitkoms sal beskik. Maar waar is die uitkoms te midde van my grootste beproewing?”

Wanneer ons groot beproewings en moeilikhede beleef, dan beweeg die duiwel in om voordeel te trek. Die Skrif beskryf hom as ‘n rivier van vrees wat ons met vloedgolf op vloedgolf tref. Hierdie demoniese rivier het selfs ‘n stem: “Die riviere het hulle gebruis verhef; die riviere verhef hulle geraas” (Psalm 93:3).

Het jy agtergekom dat moeilikheid en verdrukking dikwels in sarsies kom? Net as jy deur een probleem werk, dan volg ‘n volgende een in sy spoor. Die apostel Johannes praat van baie mense wat vandag in ‘n toestand van angs weggevoer word: “En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:15).

Maar God antwoord die stem van elke demoniese rivier: “Meer as die gebruis van groot, geweldige water, van die golwe van die see, is die Here geweldig in die hoogte!” (Psalm 93:4, my kursief). Eenvoudig gestel, God se Woord praat harder as enige riviervloed wat teen ons kom. Sy grootheid gooi selfs ons grootste beproewing omver.