GOD SE SEËN OP OOP HARTE

Gary Wilkerson

“In die begin, het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en die duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters” (Génesis 1:1-2).

God het alles geskep — die oseane, die riviere die voëls, die diere, seediere, alle plante en die “mens na sy eie beeld” — en ná elke skeppingsdag, het Hy gesê, “Dit is goed” (sien Génesis 1:4, 9, 11, 12, 18, 21, 25, 31). Nadat Hy man en vrou geskape het, het “God hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers” (1:28).

“Geseën” is ‘n kragtige woord hier. Die soort seën wat God gegee het, was die krag om dinge te bewerkstellig wat nog in wording moes kom. Hy het gesê, “Ek het die aarde gevul met heerlike en wonderlike dinge wat Ek goed noem en nou gee Ek jou die krag om die aarde met die dinge te vul wat My behaag. Ek seën jou en gee jou heerskappy oor alle lewende dinge op die aarde.”

As ons verstaan dat alles wat ons het ‘n gawe van God is, moet ons ook besef dat Satan sal poog om God se seëninge te manipuleer en dit te verander in dinge wat ons op ons eie probeer beheer (sien Génesis 3:1). Satan is slu en hy sal probeer om die goeie dinge wat God vir ons gegee het te neem en dit vir ons ‘n strik te laat word. Die eerste sonde in die Tuin van Eden was om goeie dinge op ‘n sondige manier te gebruik.

Ons moet die seëninge van God neem en dit gebruik om die Koning te verheerlik. Dit is wonderlik om die kringloop van ontvang en gee te beleef – vrygewig gee – aan diegene in nood. Ek moedig jou aan om na jou eie seëninge te kyk en God te vra wat Hy wil hê jy vir ander moet doen. Hy seën diegene wie se harte oop is om te gee van hulle besittings of hulle tyd om ‘n verskil te maak in die lewe van ander. God het jou geseën om ‘n seën te wees!