GOD SE SEËN IS ONOORWINLIK

Jim Cymbala

Ek is oortuig daarvan dat God van voorneme is om sy seëninge te gee aan elke kerk en elke gelowige wat ernstig daarvoor bid.

Ons sien in die Bybel dat God se seën ‘n weerspieëling is van sy ontsaglike liefde vir sy skepping. Hoewel dit wesenlik onsigbaar is, is sy seën onoorwinlik en dit seëvier oor alles wat die aarde of die hel daarteen kan stuur. Hierdie seën spruit uit die antieke instruksies wat God vir Moses gegee het om uitgevoer te word deur die hoëpriester van Israel:

“Die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Die HERE sal jou seën en jou behoed; Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. So moet julle dan my Naam op die kinders van Israel lê: en Ék sal hulle seën” (Numeri 6:22-27).

Hierdie praktyk om ‘n priesterlike seën in die Naam van die Here te gee, is wat Israel afgeskei het van die mense rondom hulle deur al die eeue van hulle geskiedenis heen. Slegs God se verbondsvolk het die goddelike seën geniet. As ‘n land wat geseën en beskerm was deur die Here, het hulle geweet dat God belowe het om te luister na hulle gebede en om aandag te gee aan hulle probleme. Die God van die heelal het sy aangesig op hulle gerig sodat hulle sy bonatuurlike genade kon ontvang.

Wat ‘n voorreg om te lewe onder die Here se guns en om daagliks sy seën te beleef! Watter vyand sou hulle kon intimideer as God saam met hulle in beheer was?

Ek het goeie nuus vir jou! God is steeds ‘n God wat seën. Trouens, die Bybel word gekenmerk as ‘n boek wat die Here se intense begeerte beskryf om elke man en vrou wat Hy geskep het te seën. As dit jou verras, beskou die feit dat liefde altyd smag om die voorwerp van sy liefde te seën – en onthou jy word innig liefgehê deur die Vader.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.