GOD SE REAKSIE OP ‘N WÊRELD IN ‘N KRISIS

David Wilkerson (1931-2011)

Waar is die kerk te midde van chaos? Dit is vol godsdienstige aktiwiteite, maar dit is meestal vlees. Dit is tragies, want ons Here het altyd ‘n oplossing vir ‘n wêreld in chaos. Dit is ‘n oplossing wat die tyd deurstaan het en wat Hy vir geslagte lank gebruik het om sy dooie, afvallige kerk mee op te wek, en dit is bloot: God het uitverkore manne en vroue opgerig.

Ons Here gebruik individue om op te tree in ‘n wêreld wat in ‘n krisis is. Eerstens, Hy verander hulle bonatuurlik en Hy roep hulle dan tot ‘n lewe van totale onderwerping aan sy wil. Hierdie God-aangeraakte dienaars word die beste beskryf in Psalm 65:5: “Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe.”

Kortliks, God roep so ‘n dienaar eenkant en daar, in die Here se wonderlike teenwoordigheid, word God se gedagtes vir die dienaar gegee – ‘n goddelike oproep. Skielik word sy siel gevul met ‘n dringendheid en Hy kom daar uit met ‘n Godgegewe woord, gereed om in geestelike gesag te wandel.

Die Bybelgeskiedenis openbaar hierdie patroon oor en oor. Keer op keer, het God se volk Hom verwerp, hulle tot afgode gewend en heidense praktyke aangeneem. En in elke geval, het God ‘n goddelike dienaar opgerig: ‘n rigter, ‘n profeet of ‘n regverdige koning.

Samuel is een so ‘n voorbeeld. Hy het Israel berispe, “Maar hulle het die HERE hulle God vergeet; daarom het Hy hulle verkoop in die hand van [hulle vyande]...Toe het hulle die HERE aangeroep en gesê: Ons het gesondig, want ons het Die Here verlaat” (1 Samuel 12:9-10).

Sulke God-aangeraakte dienaars het God se instrumente van verlossing geword. Hulle was in staat om die tye te onderskei en omdat hulle God se hart geken het, het die Here hulle as sy woordvoerders gebruik.

Vandag roep God talle om uit die besigwees van die lewe te kom en sy teenwoordigheid na te jaag. “Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag” (Jesaja 40:31).

Het jy al ‘n goddelike drang gehad om met die Here op ‘n dieper manier te kommunikeer? Hy wil hê ons moet tyd met Hom deurbring in stille aanbidding, terwyl ons wag om sy stem te hoor.