GOD SE OORBLYFSEL

David Wilkerson (1931-2011)

Die profeet Elia het so moedeloos geword oor die sedelike verval wat sy volk beleef het, dat hy gevlug het vir die dreigemente van Isébel, die goddelose vrou van Koning Agab, en in ‘n grot gaan wegkruip het.

“Elia, waarom kruip jy weg?” het God vir hom gevra.

“Omdat U volk u woorde verlaat het, is u altare afgebreek, word u bedienaars vervolg en almal jaag plesier na. Ek is die enigste een wat oor is – en nou is hulle agter my ook aan” (sien 1 Konings 19:10).

Volgens alle uiterlike tekens, het Elia ‘n goeie argument gehad. Sy samelewing was naby die punt om in duie te stort en die regering was die mees goddelose en verdorwe in die hele geskiedenis. “Agab het nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers” (1 Konings 16:33). Verder was Isebel, die mees goddelose koningin wat ooit deel van die koningskap was, daarop uit om elke volgeling van Jehova dood te maak.

Elia was vasbeslote om “uit te hou tot die einde” en op sy eie aan God getrou te bly, maar hy het nie geweet dat op daardie spesifieke oomblik, die Heilige Gees deur die land beweeg het nie. ‘n Groot sedelike ontwaking was op die punt om plaas te vind en God sou Isebel binnekort vir die honde gooi en die goddelose heersers omverwerp. God het sonder om doekies om te draai vir Elia gesê dat hy nie alleen was nie, maar dat daar seweduisend in Israel was wat nie toegegee het aan die verdorwenheid rondom hulle nie. God het in wese vir Elia gesê dat Hy mense gestasioneer gehad het in sleutelposisies, gelowiges wat sterk en getrou gestaan het!

Dieselfde geld vandag. Waar God vir Elia gesê het, “Duisende het nie gebuig nie,” sê Hy vir ons vandag, “Miljoene het nie gebuig nie!” Eer aan God. Ons is nie ‘n klein oorblyfsel nie, maar ‘n magtige leër, wat nie buig of ‘n kompromie maak in ‘n eeu wat waansinnig geword het nie. Satan sou wou hê God se kinders moes glo hulle getalle verminder, maar ek glo nie daardie leuens nie. God is steeds aan die werk, stort sy Heilige Gees uit en trek honger harte na Hom toe.