GOD SE ONTSAGLIKE AANBOD VAN BARMHARTIGHED

David Wilkerson

Daar word so baie gepraat oor die verskriklike situasie waarin die wêreld is. Die een nasie na die ander kom in die moeilikheid en is op die rand van ‘n ekonomiese ineenstorting. Tog, te midde van al die vrese en onrus, het God steeds verlore siele lief en red hulle.

Sy wonderlike werk van verlossing verander nooit nie – dit word nie deur die ekonomie beïnvloed nie. Die Heilige Gees se bearbeiding en oortuiging van sonde word nie verhinder deur toestande in Wall Street of kwynende globale finansies nie. God se reddende mag was nog nooit beperk deur krimpende bankrekeninge nie.

Die feit bly staan, ons Here verander nooit sy beloftes nie. Hulle is altyd ‘ja en amen,” te alle tye en in alle omstandighede (sien 2 Korinthiër 1:20). God het nie belowe om in al ons behoeftes te voorsien, tensy ons werkloos is nie. Hy het nie belowe om Jehovah Jireh, ons Voorsiener, te wees, tensy ons ekonomiese tye vreesaanjaend raak nie.

Ons Here se beloftes verander nooit nie! En dit sluit sy belofte in oor die verlossing van die verlorenes. Toe God ons beveel het om die hele wêreld in te gaan en die wat verlore is, te wen, het Hy nie ‘n vrystellingsklousule ingesit nie. Hy het nie gesê, “Verkondig die evangelie van my Seun Jesus Christus aan alle nasies – behalwe in moeilike tye” nie. Hy het nooit gesê, “Glo vir die saligheid van talle – behalwe wanneer die wêreld grootliks geskud word” nie.

Dank God, Hy het nooit gesê dat die wêreld te boos, te hardvogtig, te oorgegee is aan begeertes om bereik te word deur sy Goeie Nuus nie. Op geen tydstip in die geskiedenis het die Here ooit sy liefdevolle genade beperk nie – en Hy sal nooit nie. Huidiglik, kan Amerika en die res van die wêreld steeds die oordeel gespaar word – indien daar ware berou is. Natuurlik sal sulke berou ‘n groot verootmoediging en massabekering terug na die Here vereis. Maar ons God het nog nooit sy wonderlike aanbod van genade herroep nie.