GOD SE GROOT VOORSIENING

David Wilkerson (1931-2011)

‘n Man het eenkeer vir my gesê, “Nadat ek my 10 persent gegee het, kan ek doen wat ek wil met die res. En ek verwag God om my te seën soos Hy belowe het – omdat ek my tiende gegee het.”

My ervaring het gewys dat as ‘n mens suinig is met sy gawes, sal hy ook suinig wees met sy tyd, sy energie en sy werk vir die Here. Maar ek wil vir jou sê, as jy suinig is met God, sal God suinig wees met jou. Daarmee bedoel ek dat jy jouself afsny van God se seën deur jou aksies en jou gesindheid.

Ons gesindheid behoort te wees, “Hoeveel van myself kan ek gee vir my Here?” Ons blydskap behoort te wees in hoeveel ons kan gee, en nie in hoeveel ons vir onsself kan hou nie.

Ons lees in die Woord, “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. Die siel wat seën, word versadig” (Spreuke 11:24-25). Hoe meer krag en energie jy in werklikheid gebruik vir God, hoe meer sal Hy vir jou teruggee.

Die apostel Paulus het elke emosie en beproewing beleef wat ons beleef, maar deur dit alles heen, het hy ‘n openbaring gehad van die hulpbronne wat tot sy beskikking was. Toe hy oorweldig was, het sy geloof alles in besit geneem wat hy nodig gehad het om hom deur te dra na die oorwinning! Hy het geput uit die hulpbronne van sy hemelse Vader en het weer en weer teruggebons met nuwe geloof en nuwe krag om voort te gaan.

Deur jou daartoe te verbind om jouself heelhartig aan die werk van God oor te gee, plaas jy jouself in ‘n posisie om geseën te word. As jy daaraan dink om moed te verloor, bemoedig ek jou om in die stryd te bly, want dit is in die hitte van die stryd wanneer God oorvloedig na jou toe kom en sy hulpbronne en krag oor jou uitstort. Slegs diegene wat betrokke is in die stryd, ontvang sy groot voorsiening!