GOD SAL JOU VAN DIE VYAND BEWAAR

David Wilkerson (1931-2011)

“Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is. U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid” (Psalm 119:150-151).

Daar is ‘n heerlike waarheid in hierdie gedeelte wat jou lewe kan verander en vir jou rus en vrede kan gee ver bokant enigiets wat jy al ooit beleef het. Jy sien, wanneer jy eers die waarheid van God se voortdurende nabyheid aan jou verstaan – dat Hy jou liefhet en voortdurend naby jou is – dan moet alle vrees en angs wyk!

In hierdie teks, sien Dawid die goddelose nader en nader kom in ‘n poging om hom te verwoes en te vernietig. Hy sê in wese, “Gemene, korrupte, sondaars kom op my af met die doel om my heeltemal te vernietig. Hulle is oral rondom my en hulle mag word sterker.”

Ons het almal so ‘n vyand – die vyand van ons siele, die duiwel. Hy het nog altyd net één doel in gedagte: om God se werk te vernietig en om sy mense te verlei en moedeloos te maak.

Satan sal ook nie tevrede wees nie, totdat hy die algehele vernietiging en val van elke goddelike bediening, kerk en ware liefhebber van Jesus sien plaasvind. Satan se demoniese geeste is nie net duiweltjies wat rondgaan en mense se lewens ellendig maak nie. Nee, Satan se doel is baie ernstiger as dit! Hy is vasbeslote om  die Kerk van Jesus Christus heeltemal te vernietig. Sy één doel is om ons te verwoes en niks meer as ‘n herinnering agter te laat nie.

Die duiwel was blatant in hierdie doel, selfs met Jesus. Hy het onbeskaamde vermetele stappe geneem om die Seun van God te versoek. Satan sal alles in sy vermoë probeer om alles wat regverdig en heilig is te vernietig. En hy hou nooit op nie! Daar is altyd ‘n plan uit die hel!

Wat jy dalk deurgaan is algemeen vir die massas. Hoe goed om te weet dat God meer as gereed is om sy beloftes aan jou na te kom as wat die duiwel is om jou te vernietig. Hoe nader die vyand inderdaad kom, hoe nader bly die Here!