GOD IS PURE, ONBEPERKTE MAG

David Wilkerson

God het Israel geseën en voorspoedig gemaak en vir hulle huise, wat hulle nie gebou het nie en wingerde wat hulle nie geplant het nie, gegee. Hy het goddelike mense opgerig om as profete op te tree en het vir die mense duidelike boodskappe van leiding gegee. En jarelank het die mense bewys dat God getrou was, na sy raad geluister en hulle nooit na die vlees gewend nie. Wanneer God ook al met hulle gespreek het, het hulle gehoorsaam. En hulle was bonatuurlik verlos van magtige vyande.

Maar daar het ‘n afvalligheid oor Israel gekom en die Here het hulle beskuldig van goddeloosheid. Die profeet Hoséa beskryf die verskriklike oes wat gemaai word deur diegene wat God se heerskappy verwerp en hulle tot die arm van die vlees gewend het. Toe Hoséa hierdie profetiese boodskap geskryf het, het hy gepraat met ‘n volk wat die Here jarelank in sy arms gedra het.

 “Hulle het baie, baie verkeerd gehandel. . . Al hulle vorste is opstandig” (Hoséa 9:9 en 15). Wat was hierdie verskriklike sonde wat hulle gepleeg het? Dronkenskap? Seksuele losbandigheid? Gierigheid? Owerspel? Moord? Nee, God het gesê hulle goddeloosheid was dat hulle Sy raad verwerp het, Sy woord en geïgnoreer het en mense gehoorsaam het.

“God sal hulle verwerp, omdat hulle na Hom nie geluister het nie” (vers 17). In God se oë is die grootste goddeloosheid wat ‘n gelowige kan verrig, om nie meer afhanklik van Hom te wees nie!

Die Here het in wese vir Israel gesê, “Jy vertrou  nie meer op My nie. Ek is nie meer jou Leidsman nie en jy wend jou nou na die wysheid van die mens. Jy hardloop terug na Egipte toe vir hulp, terug na die plek waaruit Ek jou verlos het, terwyl jy My woord verwerp en afvallig word van My.”

‘n Groot Puriteinse profeet het eens geskryf: “Pure mag is nooit gretig om saam te werk nie. Dit stel slegs eise.” Met ander woord, God sê nie vir ons, “Jy doen jou deel en Ek sal Myne doen.  Kontak my net so nou en dan” nie. Nee, glad nie! God is pure, onbeperkte mag – en Hy vereis dat ons Hom allereerste volg in alles wat ons doen. Enigiets minder as dit, beswadder sy heerskappy oor ons lewens!