GOD LIEFHÊ, MENSE LIEFHÊ

David Wilkerson (1931-2011)

Van die grondlegging van die aarde af, het God ‘n liggaam van gelowiges gesien wat aan sy Seun verbind was. Jesus getuig, “Ek was my Vader se daaglikse verlustiging, die blydskap van sy wese. En nou is almal wat hulle na My wend in geloof, ook sy verlustiging!” (sien hierdie profetiese woorde van Christus in Spreuke 8:30-31).

Hoe wys ons ons liefde vir Jesus? Johannes antwoord, “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

En wat is sy gebooie? Jesus sê in wese, daar is twee: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matthéüs 22:40).

Die eerste en belangrikste gebod is om die Here lief te hê met jou hele hart, siel en verstand. Ons mag niks van Hom terughou nie. En die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Hierdie twee eenvoudige gebooie, wat nie moeilik is nie, som die hele wet van God op.

Jesus sê in wese hier dat ons nie in God se heerlikheid wandel as ons ‘n wrok teen iemand anders het nie. Daarom beteken om God lief te hê, om elke broer en suster op dieselfde manier lief te hê as wat die Vader ons liefhet.

“As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê” (1 Johannes 4:20-21). “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” (vers 8).

Ons kan God met opgehefte hande prys, elke dag tot Hom bid, ure deurbring om sy Woord te bestudeer, maar as ons bitter en onvergewensgesind teenoor iemand is, is dit alles verniet.

As jy in so ‘n toestand is, sê vir God jy is jammer. Maar voeg ‘n stap by en versoen jou met daardie persoon sodat jy ware intimiteit met die Vader kan geniet.