God Het Jou Nou Nodig!

‘n Vloedgolf van sonde oorstroom ons land
David Wilkerson

Soms wonder ek of ons nie die boosheid van Sodom en Gomorra verbygesteek het nie. Ek glo in werklikheid dat as jy ‘n lid van die kongres se vertroue kon wen, en hom sover kon kry om sy hart voor jou uit te stort, sou hy erken, “Dit is erger as wat enigeen kan dink. Dit is hopeloos. Dinge is buite beheer, en dit is net ‘n kwessie van tyd voor ons verswelg word deur ons probleme!’

Ekoloë het hedendaagse doemprofete geword. Volgens hulle, is ons planeet besig om te disintegreer. Suurreën vernietig woude; bogrond verdwyn; reënwoude word afgekap; die osoonlaag verdamp. Met die drastiese weer en hongersnood wat ons die afgelope tyd beleef, wil dit voorkom asof ons op pad is na die “kweekhuis effek.”

Daar is soveel slegte nuus, so baie waarskuwings, so baie senutergende krisisse, dat ons dit nie kan peil nie. Daarom besluit ons bloot om dit alles af te skakel! Vir die meeste mense, het TV ‘n groot ontvlugting van die werklikheid geword. Ander gebruik alkohol en dwelms om die gedagtes te verdoof en tydelike verligting te kry.

Christene sien die sataniese oorlogvoering wat aangaan in Amerika en kan nie glo dit gebeur so vinnig – en so blatant nie! Hier in New York Stad, was homoseksuele onlangs vereer toe die Empire State gebou opgetower was in laventelkleurige ligte. Hierdie homoseksuele word heeltyd meer militant en gewelddadig.

Politici, ekonome, skrywers en die massas wat hier woon, sê, “New York Stad is op pad hel toe. Die duiwel self het koning geword – en die stad sterf stadig!”

Ek dink die meeste Christene hier sou daarvan hou om te ontvlug na een of ander veilige, rustige wegsteekplek in die berge om daarvan weerhou te word om besoedel te word met al die ongeregtigheid rondom hulle. Baie sê wanhoping, “Wat kan een Christen doen teen al hierdie sedelike verval? Wat kan een kerk doen in so ‘n groot, wilde en goddelose stad? Dit is vir my genoeg om naby Jesus te bly, sodat ek nie weggevoer word deur die stroom nie...”

“Is daar regtig enigiets wat ek kan doen – ‘n arme, nietige Christen soos ek? Ek het geen geld, geen opleiding, geen invloed nie – slegs ‘n groot liefde vir Jesus!”

Ons verwag dikwels dat God op twee maniere werk: Of deur ‘n bonatuurlike uitstorting van Sy Heilige Gees om die menigtes in Sy koninkryk in te bring; of deur oordeel te stuur om mense op hulle knieë te bring of hulle te vernietig.

Maar, geliefde, dit is nie God se metode om dinge te verander in ‘n goddelose tyd nie. Sy manier om puinhope te herbou, was nog altyd om gewone mans en vroue wat Hy aangeraak het, te gebruik. En Hy doen dit deur hulle te vul met Sy Heilige Gees en hulle in die oorlog in te stuur met groot geloof en krag!

God gebruik mense, nie engele nie, om Sy Woord aan die verlorenes te verkondig! Die Here het egter nie veel gedoen oor die sondes van hierdie geslag nie, omdat Hy nog nie gelowiges gekry het wat desperaat genoeg is om die volheid van die Heilige Gees en krag te soek nie.

Die Kerk is verkul die afgelope vyftig jaar deur manne wat God se krag vir roem en persoonlike eer gesoek het. Hulle het hulle sakke volgestop met geld en hulleself trotse titels gegee: “Vol van Geloof en Krag,” “Man van die Uur,” “Wonderwerker” – terwyl hulle seëning uitgedeel het vir ‘n fooi! Ek noem dit charismatiese vergrype.

Ons het klein godjies gemaak uit hulle en hulle verafgod. Nou gee ons dieselfde status aan ‘n nuwe geslag profete!

Geen wonder die duiwel gaan ongestoord voort nie – grynslaggend, onbeïndruk deur al die gepraat van krag en gesag in die Kerk. Die Kerk het ‘n baie bose ding gedoen! Soos Israel, wil ons ‘n menslike koning hê. Christene sit terug in die gemeente en kyk hoe die herder of evangelis doen wat alle gelowiges geroep is om te doen!

Nou bring die Heilige Gees al die sterre tot ‘n val en onttroon al die godsdienstige konings. Hy vernietig geestelike ryke, en spuug letterlik alle bedieningsafgodery uit Sy mond uit!

God Doen soos Hy van die begin af gedoen het – deur twee belangrike skuiwe te maak!

Eerstens, rig Hy ‘n heilige, apostoliese bediening op, bestaande uit mense wat heeltemal oorgegee is aan die Woord en gebed. Hulle roem nie daarin voor almal nie. Hulle is wenende mense – met harte wat geskeur is en geen ander plan in gedagte nie, behalwe om God te soek, te luister en te gehoorsaam!

Tweedens, God roep jou tot onmiddelike diens. Hy het die gewone mens nodig, die gemeentelid! Hy gebruik mense wat die hoëpriester “ongeleerde en eenvoudige manne” (Handelinge 4:13) sou noem.

Die Bybel sê ook dat in die Bovertrek by Pinkster, is “hulle...almal vervul met die Heilge Gees” (Handelinge 2:4). Almal het magtig in oorlog geword – almal was moedige, kragtige getuies! Hierdie Geesvervulde gelowiges het nie net Petrus, Jakobus, Johannes en die ander welbekende dissipels ingesluit nie, maar ook die weduwee’s, die jonges, die dienaars en die diensmaagde!

Ons weet Stéfanus was vol van die Heilige Gees – “vol van geloof en krag” (Handelinge 6:8). Hy was nie ‘n apostel of ‘n verordineerde bedienaar nie. Hy was in werklikheid gekies om tafels te bedien vir die kerk, sodat die dissipels hulleself kon toewy aan gebed en die bediening van die Woord. Stéfanus was ‘n gewone man vol van die Gees van God!

En wat van Próchorus, Nikánor, Timon, Pámenas en Nikoláüs, almal wat tafels bedien het. Hulle was almal gemeentelede! Die Skrif sê hulle was “vol van die Heilige Gees en wysheid” (Handelinge 6:3).

Filippus was ook ‘n gemeentelid en ‘n tafelbedienaar. Hy was egter ook vol van die Heilige Gees. Die Skrif sê vir ons hy het na Samaria gegaan waar hy op die strate gepreek het, vir die siekes gebid het, duiwels uitgedryf het en die Here geglo het om die lammes en kreupeles op te rig. “En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen....En daar was groot blydskap in daardie stad” (Handelinge 8:6,8).

God se plan om Samaria te red was ‘n man vol van die Heilige Gees en krag! Filippus was ‘n man so nederig, so gevul met Jesus, dat hy groot werke in Jerusalem en Samaria kon verlaat – en volgens God se leiding na een man gaan in die woestyn! (Sien Handelinge 8:26-40).

Hoe gaan God getuig in New York, die hedendaagse Babel – ‘n stad vol misdaad, dwelms, homoseksualiteit, haat, geweld en goddeloosheid? Hy sal nie dit nie alleen doen deur groot prediking, maak nie saak hoe oortuigend en deurdringend dit mag wees nie. Hy sal dit nie alleen doen deur kerkbyeenkomste, of deur kragtige aanbidding en lewendige lofsange, of selfs deur ‘n Heilige Gees skudding van die huis nie!

God sal Homself verkondig in New York Stad op dieselfde manier wat Hy dit in jou stad of dorp wil doen – deur die getuienis van almal wat uitgaan op die hoofweë en strate om Sy evangelie te verkondig!

God se getuienis hier in New York is nie dat ons ‘n kerk in ‘n teater op Broadway het nie. Dit is nie dat ons ‘n volgepakte huis het nie. Dit is nie dat ons heerlikheid of ontsagtlike uitstortings van seëninge beleef nie. Dit is deur mans en vroue, weduwee’s, werkloses, rykes en armes gelyk – alle gemeentelede wat God in beroering bring.

Jy is God se getuienis vir jou stad. Hy gebruik gemeentelede wat alleen met Hom verkeer, wat in hulle harte in beroering gebring word, Hom in gebed soek, hulle harte skeur – en soos Filippus uitgaan, vol van die Heilige Gees, geloof en krag!

As God jou nie gebruik nie, is dit waarskynlik omdat jy nog nie bruikbaar is nie. Dit is wat gebeur met gelowiges wat “vasgevang raak om na die heerlikheid te staar.”

Die dissipels het gebaai in die heerlikheid toe Jesus opgeneem is in die hemel. Hulle kon vir altyd daar gestaan het, die warm gloed geniet het, maar die engel van die Here het hulle liefdevol vermaan: “Waarom staan julle en kyk na die hemel?” (Handelinge 1:11).

Daar is ‘n gevaar om binne in die kerk te sit en “staar na die heerlikheid.” Jesus het vir Sy dissipels gesê, “Wag op My. Julle het die Heilige Gees en krag nodig. Ek het julle nodig as My getuies!”

Haal jou oë af van die tye en seisoene, wat slegs in die Vader alleen se mag is!

Dadelik nadat die dissipels gehoor het van die doping in krag, het hulle gevra, “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Handelinge 1:6). Jesus het baie duidelik geantwoord: “Dit kom julle nie toe of die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Handelinge 1:7).

Stop en dink oor wat hulle vraag beteken: “Here, bedoel U deur te begin in daardie vertrek, met net ons, gaan U die koninkryk van Israel weer herstel? Sal dit óns wees wat Herodus en Rome tot ‘n val sal bring? Is dit óns wat die land sal reinig, die koninkryk oprig en U terugbring?”

Ons weet dat Jesus moes afreken met sommige van die dissipels se begeerte na leierskap en gesag. Maar ek bespeur hier iets anders in hulle vraag, wat verder gegaan het as ‘n dors na posisie en mag. Dit was ‘n menslike behoefte om betrokke te wees in een of ander groot, laaste eindbestemming! Dit was ‘n behoefte om spesiaal te wees – om die regte mense op die regte tyd te wees!

In hulle harte, het die dissipels moontlik gesê, “Here, waar is ons in U profetiese skedule? Dit sou ‘n groot geestelike pluimpie wees om te weet ons is aan die einde van so ‘n dispensasie en dat ‘n nuwe dag op die punt is om aan te breek. Hoe opgewonde sou ons wees as U ons sou laat weet ons leef in ‘n tyd van eindbestemming – dat U óns gebruik om alles af te sluit!”

Heiliges, dieselfde behoefte om mense van groot bestemming te wees is binne-in almal van ons op een of ander skaal. Maar Jesus se reaksie hierop was kortaf: “Dit is nie vir julle om die tye te weet nie.”

Jesus soek nie mense van bestemming of koninkrykbouers nie. Hy wil slegs getuies tot Homself hê! Hy sê, “Die kwessie is nie die ‘profetiese uur,’ of een of ander groot bestemming waarvoor julle aangestel is nie. Ek moet getuies hê vir hierdie huidige geslag!”

Dit oortuig my diep! Soos so baie ander vandag, wil ek weet waar ons is op God se profetiese klok: Waarom misluk Kommunisme? Wanneer sal die ekonomie in duie stort? Is ons op die punt om die verdrukking binne te gaan? Gaan God die laaste oorblyfsel bymekaarmaak? Sal ons oordele sien neerkom op New York Stad – en Amerika?

Dan hoor ek Jesus sê, “Dit is nie vir jou om te weet nie. Wag op God. Word gevul met die Heilige Gees. Kry God se krag – gaan getuig dan!”

In die Ou Testament het God niks gedoen nie, totdat Hy eers die mense deur Sy profete gewaarsku het. In die Nuwe Testament sê Hy vir ons, “Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n profeet verwek uit julle broeders net soos ek is: na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek” (Handelinge 3:22).

Daardie profeet is Jesus! En Hy sê, “Haal jou oë af van die tye en seisoene en hou op flankeer met gedagtes van eindbestemming. Kry die krag van God om van My te getuig voor jou huidige geslag!”

Heiliges, al die Ou Testament profete is dood. Paulus is dood, die apostels is dood – God het nou slegs vir jou en my om te getuig van die krag van Christus!

Ons moet in ‘n toestand van waaksaamheid lewe, met verwagting en ons lampe gereed en aan die brand. Ons moet smag en uitsien na Sy verskyning. Ja, ons moet preek oor Sy koms en waarsku oor Sy oordele – maar eerstens moet ons Sy getuies wees!

Ons huiwer om teenoor Jode te getuig, want ons dink dit is nie die regte profetiese tyd nie. Ons vra onsself, “Is die tye van die Heidene amper vervul? Sal die Gees binnekort val op natuurlike Israel en die sluier van hulle oë afhaal?

Ek weet dit het in ‘n groot mate die die Kerk se bediening aan die Jode verhinder! Ons begeer om te weet of ons profeties reg is, sodat ons nie ons “pogings” mors nie. Jesus antwoord egter, “Dit is nie vir julle om die tye te weet nie. Getuig net!”

Ons beleef nie ‘n profetiese blok nie, en die hardheid van die hoorders se harte is ook nie vir ons ‘n hindernis nie. Dit is dat ons ‘n gebrek het aan die gewilligheid om te werk. Ons het nie genoeg krag van God in ons om in geloof uit te reik na die verlorenes nie!

Ons wil herlewing, seëninge, uitstortings en beroeringe hê! Ons wil in die kerk bly en die heerlikheid van God op ons neer roep! Ons wil meer preke hoor! Dit is alles goed – maar Jesus het gesê, “Julle sal die Heilige Gees ontvang. Julle sal krag ontvang om uit te gaan en te getuig!”

Ons wil juig in die Here se heerlike teenwoordigheid – en Sy teenwoordigheid sal toeneem as ons Hom soek. Maar ons moet onthou wat veroorsaak dat Hy en die hele hemel juig: “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer” (Lukas 15:10).

As ons bid vir ‘n magtige uitstorting van die Heilige Gees op die liggaam van Christus, moet dit lei tot ‘n liggaam van kragtige getuies wat oral heengaan om Jesus op te lig vir die verlorenes!

Dit verg meer as ‘n liefde vir Jesus en ‘n deernis vir verlore siele om jou te kwalifiseer as Sy getuies!

Diegene wat op pad was na die Bovertrek, het Jesus innig lief gehad. Hulle was deernisvol, selfopofferend, sieleliefhebbend. Maar hulle het steeds nie gekwalifiseer om Sy getuies te wees nie!

Hulle was opgelei in die skool van Christus. Hulle het die siekes genees en duiwels uitgedryf. Hulle het wonderwerke verrig. Hulle het Jesus geklee gesien in Sy ewige heerlikheid op die berg.

Hulle was daar naby toe Hy bloeddruppels gesweet het. Hulle het Hom gesien hang aan die kruis en het Sy leë graf gesien. Hulle het Hom opgestaan gesien. Hulle het saam met Hom geëet en gepraat in Sy verheerlikte liggaam. Hulle het Hom selfs sien opvaar na die hemel! Tog was hulle nie gereed om van Hom te getuig nie!

Waarom kon Petrus nie gaan na daardie malende skares in Jerusalem en dadelik van Sy opstanding getuig nie? Het hy nie daardie gebeurtenis self beleef nie? Kon hy nie preek, “Jesus leef! Hy het opgevaar na die hemel! Bekeer julle!” nie?

Die verskil word gevind in die krag van die Heilige Gees!

Petrus het ‘n kragtige stelling gemaak teenoor die hoëpriesters: “En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32).

Deur die woorde van die Heilige Gees – gespreek deur Petrus – was die priesters “woedend en wou hulle om die lewe bring” (Handelinge 5:33). Die Heilige Gees het ook deur Petrus gespreek op die dag van Pinkster, en almal wat gehoor het, was “diep in die hart getref” (Handelinge 2:37).

Stéfanus, gevul met die Heilige Gees, het vir die godsdienstige leiers gepreek: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle...En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners” (Handelinge 7:51,54).

Wanneer jy te voorskyn kom nadat jy God gesoek het, vol van die Heilige Gees, kan jy met vrymoedigheid teenoor medewerkers, familie – enigeen staan – en jou getuienis sal een of twee reaksies ontlok. Hulle sal of uitroep, “Wat moet ek doen om gered te word?” Of hulle sal jou letterlik wil doodmaak! Jy sal ‘n woord spreek wat “diep in die hart tref”.

Daar is ‘n soort herlewing en uitstorting wat in lyn is met God se woord!

As jy daarna soek in die kerkgebou, sal jy teleurgesteld wees. Sou jy die Bovertrek besoek het ‘n paar uur nadat die wind ingewaai het en vuur geval het en die gebou geskud was – en jy wou iets bonatuurliks beleef – sou jy teleurgesteld ewees.

Jy sien, die wind van die Gees blaas al die mense uit tot in die strate – tot in die tempelhof, die markplein! Jy kon gevra het, “Waar is die herlewing, die bonatuurlike wind? Ek sou graag ‘n bietjie van sy skudding wou beleef waarvan ek gehoor het. Voel dit soos ‘n mini aardbewing? Kan ek ‘n bietjie van daardie tonge van vuur sien?” Maar jy sou net na buite beduie word!

Jy sou na 120 getuies in die strate beduie word, wat Jesus deur die krag van die Heilige Gees verkondig het! Dit is waar die herlewing was – en altyd is! Dit is die uitstorting! Die wind, die vuur, die Gees – dit is nou binne-in God se getuies!

As God die kerk seën met nog ‘n Pinkster – ‘n tyd van herlewing en verkwikking uit die hemel – sal die woord uitgaan. Nuuskierige mense sal nader kom en vra, “Wel, wat is dit? Wat kan ons sien? Wat kan ons voel? Val mense onder God se krag?”

Jy sal dit nie hoef te kry in die lofsange en aanbiddingsliedere nie! Jy sal dit nie vind in spesiale opwekkings nie – dans in die Gees of neergeslaan word onder die krag nie. Dit is alles wonderlike belewenisse, maar dit kan nagemaak en gedupliseer word in die vlees, en min mense kan vandag die verskil onderskei.

As daar ‘n uitstorting volgens God se plan is, sal jy dit nie in die kerk kry nie! Jy sal na die behuisingsprojekte, die skole, die strate, die werksplekke, die kantore, die markpleine moet gaan! Jy sal dit in die binnekamers van gebed vind!

In hierdie soort uitstorting, sal jy verskeie huise vind waar heiliges vas, bid en ween, tot God uitroep vir hulle kinders en die ongereddes! Jy sal getuies na allerhande plekke sien gaan, en in die krag van die Heilige Gees spreek!

Jy kry die Heilige Gees en jy gaan! Dit is die uitstorting! Dit is nie een groot vreugdevuur in die kerk nie. Dit is 20 of 200 of 2,000 klein vuurtjies wat gelyk aan die brand gesteek word in jou stad of dorp!

Jesus sal ons Profeet word!

“Want Moses het tot die Vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; NA HOM MOET JULLE LUISTER volgens alles wat Hy met julle sal spreek” (Handelinge 3:22).

As jy soek na ‘n ware profeet in hierdie eindtye, sal die Heilige Gees jou lei na niemand anders nie as Jesus! Die opgestane Profeet van hierdie laaste dae spreek van heerlikheid teenoor almal wat tyd maak om na Hom te luister.

Menigtes Christene hardloop vandag rond en soek na ‘n profeet om ‘n paar krummels van seën of leiding te kry. Geliefde, ek het my Profeet gevind! Hy lees my gedagtes en vertel vir my alles wat ek moet ek weet! Hy is Jesus! En die Bybel sê, “Luister na Hom in alles”!

‘n Sterk waarskuwing bestaan vir diegene wat nie hierna luister nie: “En elke siel wat nie na dié profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word” (Handelinge 3:23).

Soveel lewens word vernietig; die geloof van baie ly skipbreuk. Min wil die ware Profeet hoor – hulle sal liewer in hulle ore gestreel wees deur selfverklaarde profete wat niks meer as fortuinvertellers is nie.

‘n Ware profeet moet agter Samuel en almal wat hom gevolg het in die ry staan – om die mense te seën deur “elkeen van sy booshede te bekeer” (Handelinge 3:24-26). Ware profete soek nie bekragtiging deur tekens, wonders of wonderwerke nie. Hulle probeer nie jou vertroue wen deur geheime te openbaar nie. Hulle wys vir jou die verskil tussen die heilige en die onheilige deur jou van jou sonde te bekeer. Hulle wys jou terug na Jesus toe deur bekering!

Oordeel waarskuwing

Jy mag dalk vra, “Jy het so baie van getuienis lewer gepraat. Maar wat van waarskuwing oor komende oordele?”

Ek het inderdaad dikwels gesê dat God ons na New York Stad toe gestuur het om ‘n heilige oorblyfsel op te rig en hierdie stad te waarsku oor ‘n naderende oordeel. Moet ons nie nou die stad invaar met boeke en literatuur vol waarskuwings van ekonomiese ineenstortings, waterstofbomme, rasse-oorloë, voedseltekorte en skielike rampe nie?

Nee! Dit kan waarskynlik alles gebeur – maar dit is nie die grootste oordeel nie!

Die ware oordeel is die gevolg van die verwerping van Christus! “Elke siel wat nie an die Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word” (Handelinge 3:23). Dieselfde Oordeel val op gekompromitteerde Christene wat weier om Jesus se stem te hoor!

Wanneer die Heilige Gees kom, deurdring Hy die hart, waarsku oor sonde, geregtigheid en oordeel. En dit is hoe Hy dit doen: Die wind van Sy Gees blaas ons na die strate toe om die opgestane Jesus te verkondig en die mense te waarsku, “As jy nie na Jesus wil luister en jou bekeer nie, sal jy vernietig word tussen die volk!”

Hoe God daardie verwoesting bring, is Sy besluit. Dit is die oordeel van ons moet verkondig: “Hy wat in Hom glo, word nie veroodeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

“En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld ingekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Johannes 3:18-19).

Getuies, wat voortgaan in die krag van die Heilge Gees bring die lig van Jesus, en bring ook oordeel oor diegene wat weier om te luister en wat vashou aan hulle bose dade!

Geliefde, die oordeel is, net soos wat dit was dwarsdeur die eeue: die verwerping van Christus. Maar terwyl ons luister na die stem van ons Profeet Jesus, is ons ernstige gebed dat baie sal luister – en hulle bekeer!