GOD HET JOU BY DIE NAAM GEROEP

David Wilkerson (1931-2011)

“En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het” (Psalm 18:20).

Watter wonderlike, gerusstellende woorde. Die Vader het ‘n behae in ons! In Dawid se geval, het hy pas deur ‘n verskriklike tyd van beproewing gegaan. Saul het ‘n losprys op sy kop gesit en Dawid het vir sy lewe gevlug. Maar God het bulderend gekom om hom te red en Dawid kon sê, “Die rede waarom God my verlos het van al my vyande, is omdat ek vir Hom kosbaar is. My God het ‘n behae in my!”

Hierdie gedagtes word dwarsdeur die Woord herhaal: “Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop” (Psalm 147:11). En weer, “Want die HERE het ‘n welbehae in sy volk” (Psalm 149:4).

Ek kan jou probeer oortuig van God se welbehae in jou deur vir jou te sê, “Jy is vir die Here kosbaar!” Jy kan egter dalk dink, “Wel, dit is ‘n mooi gedagte. Hoe wonderlik.” Maar hierdie waarheid is baie meer as ‘n mooi gedagte. Dit is die sleutel tot jou verlossing uit elke stryd wat in jou siel woed, die geheim om in die rus wat God aan jou belowe het in te gaan. En tot jy dit in besit neem en dit ‘n fundamentele waarheid in jou hart word, sal jy nie in staat wees om dit wat voorlê in hierdie goddelose tyd te deurstaan nie!

“Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal sou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie” (Jesaja 43:1-2).

Tans gaan jy dalk ook deur diep waters en jy vrees jy kan vernietig word. Maar begryp uit sy Woord dat God nie altyd die waters kalm maak of die vloedstrome verhoed om te kom nie. En Hy maak nie altyd die vure dood nie. Maar Hy belowe wel dat Hy saam met jou deur dit alles sal gaan.