GOD HET ‘N PLAN AAN DIE WERK

David Wilkerson (1931-2011)

Geliefdes, dit is belangrik om te besef dat ander jou lewe dophou en beïnvloed word deur jou optrede. So, ek vra, hoe tree jy op? Is jou kinders gevestig in Christus as hulle jou lewe beskou? Word Christene wat minder volwasse is, geïnspireer om Hom beter te ken weens jou getuienis? Word sondaars na Jesus getrek as gevolg van jou liefdevolle reaksies? Wanneer jy uitdagings in jou daaglikse lewe beleef, is jy gou om jou aan die Heilige Gees te onderwerp? Of kla en blameer jy en word jy uiteindelik koud teenoor jou hemelse Vader?

Al jou beproewings is bedoel om jou in Jesus se arms te werp en binne-in jou die lieflike geur van vertroue en geloof in jou Here te produseer. Ons is geneig om al die goeie dinge wat God vir ons gedoen het te vergeet, so dit is goed om onsself te herinner aan vorige oorwinnings en goddelike ingrypings. Of ons kan dalk dink dat die nuutse uitdaging te moeilik is en ons sê, “O God, hierdie keer is dit te veel vir my om te verdra.” En God antwoord, “Kyk net terug en onthou My.” Dit is wat Dawid gedoen het voor hy uitgegaan het en die reuse Filistyn verslaan het.

“Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn” (1 Samuel 17:37).

Op ‘n ander keer het Dawid gesê, “En Hy [die HERE] het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het. Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid” (Psalm 18:20-21).

As jy ooit voel dat jy deur God getugtig word, wees gerus, want dit is omdat Hy ‘n behae in jou het en Hy aan ‘n plan werk. “Omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6).