GOD IS BESORGD

David Wilkerson

Die duiwel het ‘n strategie om gelowiges te mislei en om hulle te laat twyfel aan die getrouheid van God in die verhoring van gebed. Hy wil hê ons moet glo dat God sy ore gesluit het vir ons hulpgeroep en ons op ons eie gelaat het om dinge vir ons self uit te werk.

‘n Groot tragedie in die Kerk is dat so min mense vandag in die krag en effektiwiteit van gebed glo. Sonder dat hulle bedoel om te laster, kan menigte van God se mense gehoor word waar hulle kla, "Ek bid, maar kry geen antwoorde nie. Ek het al so lank en so hard gebid sonder enige resultate. Al wat ek wil hê is 'n paar bewyse dat God dinge verander. Hoe lank moet ek wag?" Hierdie gelowiges besoek nie meer die binnekamer nie, omdat hulle glo dat hulle smekinge, wat gebore word in gebed, iewers verlore geraak het by die troon. Ander is verseker dat slegs “geestelike reuse” hulle gebede na God toe kan deurkry.

In alle eerlikheid sukkel baie van God se heiliges met twyfel: "As God se oor oop is vir my vurige gebed, hoekom is daar dan so min bewyse dat Hy verhoor?" Is daar een besondere gebed wat jy al so lank gebid het, sonder om verhoor te word? Het jare selfs verby gegaan en jy wag nog steeds, hoop . . .  maar wonder egter?

Kom ons wees versigtig om God nie te beskuldig van traagheid en onbesorgheid oor ons behoeftes en smekinge, soos Job gedoen het nie. Job het gekla, "Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie" (Job 30:20).

Sy beskouing van God se getrouheid was vertroebel deur sy huidige probleme, met die gevolg dat hy God beskuldig het dat Hy hom vergeet het.

Dit is tyd dat ons Christene ernstig kyk na die redes waarom ons gebede verwerp word. Ons is moontlik daaraan skuldig dat ons God beskuldig van verwaarlosing, terwyl ons eie optrede al die tyd daarvoor verantwoordelik is.

“Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit” (Psalm 37:34).