GOD IS ALTYD BESKIKBAAR

Gary Wilkerson

Jesus sit aan die regterhand van God waar “Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebreërs 7:25). Jesaja 56:7 sê, “Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed.”

Laat my vir jou ‘n paar persoonlike vrae vra:

  • Volg jy Jesus na die huis van gebed?
  • Volg jy Hom na die “gewone” plek waar jy bid?
  • Bid jy gereeld?
  • Bid jy daagliks vir jou huweliksmaat en vir jou kinders? Jesus het vir sy dissipels gesê, “Bid, dat julle nie in versoeking kom nie” (Lukas 22:46).

Vaders, bid julle daagliks vir julle kinders dat hulle nie in versoeking kom nie? Vroue, bid julle vir julle mans, dat God se hand op hom sal wees? Kinders, jongmense, tieners, soek jy die Here se aangesig sodat jy nie gevang sal word deur die versoekings van die wêreld nie? Enkellopendes, maak jy tyd in jou besige dag en skedule vir ‘n “gewone” tyd wanneer jy tot God uitroep?

Jesus se eie lewe was ‘n model van wat Hy in sy dissipels gevestig wil sien (en dit beteken ons, omdat ons sy dissipels is). As ons eerlik is, moet baie van ons erken dat ons nie “gewone” tye van gebed het nie. Soms verloop dae sonder dat ons ‘n konsekwente tyd en plek van gebed het waar ons openlik en openhartig met God kan kommunikeer, weg van die afleidings van die wêreld af.

Die liefhebber van jou siel begeer tyd alleen saam met jou. Hy wil hê jy moet Hom loof en prys – dag in en dag uit. Tensy jy ‘n betekenisvolle tyd skeduleer om alleen saam met God te wees, sal die besig-wees van die lewe jou weerhou om Hom te ontmoet. God gee nie om watter tyd van die dag jy met Hom ontmoet nie – Hy is immers altyd beskikbaar! Maak hierdie tyd ‘n prioriteit omdat dit die belangrikste tyd in jou lewe sal wees. Wy ‘n sekere tyd toe aan die Vader en sê dan “nee” vir alle ander dinge.