GLO NET!

David Wilkerson

Ek staan verwonderd oor die Here se liefdevolle reaksie op hartseer. Soos ek deur die Bybel lees, sien ek dat niks ons God se medelye meer opwek as die siel wat deur hartseer oorweldig word nie.

Hartseer word gedefinieer as “diepe smart” of “droefheid veroorsaak deur uiterste ellende.” Jesaja sê vir ons dat die Here self bekend is met hierdie mees hartverskeurende emosie: “Hy was verag en deur die mense gehaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid” (Jesaja 53:3).

Ons sien ‘n kragtige voorbeeld van God se liefdevolle reaksie op hartseer in Markus 5, waar ons lees van Jesus se ontmoeting met Jaïrus, ‘n owerste van die sinagoge.

As owerste van die sinagoge in Kapérnaüm, was Jaïrus deel van die godsdienstige stelsel wat Jesus verwerp het. Ons weet nie wat Jaïrus persoonlik van Jesus gedink het nie, maar ons weet dat hy sy genesende krag gesien het. Dit was heel moontlik in Jaïrus se sinagoge waar Christus die man met die verdorde hand genees het. En Jaïrus was waarskynlik in die skare toe Jesus bose geeste uitgedryf en hulle gehoor skreeu het, “U is die Seun van God” (Markus 3:11).

Ons vind nou dat hartseer die owerste se huis besoek het. Sy twaalf jaar oue dogter het siek en “op haar uiterste” (Markus 5:23) in die bed gelê.

Hartseer alleen het Jaïrus na Jesus gedryf. Trouens, ons dien ‘n Verlosser wat liefdevol op al ons hartseer, pyn en smart reageer. Ons almal het gedoen wat Jaïrus gedoen het. In die verlede het ons die Here vergeet, Hom verwaarloos, en Hom miskien selfs verwerp. Die vraag waaroor ons God egter die meeste begaan is, is die volgende: “Waar staan jy op hierdie oomblik met My? In jou huidige hartseer, sal jy My aanroep?”

Dierbare heilige, Jesus is saam met jou in jou stryd. Jy kan indring en Hom aanraak en die opwekkende, genesende krag van Christus beleef, net soos Jaïrus. Hy loop langs jou deur dit alles heen en Hy het ‘n plan om jou uit die dood tot in die lewe te bring. Moenie bevrees wees nie — Glo net!