GETUIENIS VIR DIE NASIES!

David Wilkerson (1931-2011)

“En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:14).

Talle in die kerk vandag probeer die nabyheid van Christus se wederkoms bepaal deur die tekens van die tye te lees. Maar een van die duidelikste stellings wat Jesus oor sy wederkoms maak, staan in die vers hierbo: Die einde sal kom slegs nadat die evangelie aan alle nasies verkondig is – as ‘n getuienis.

Die woord wat Jesus vir “getuienis” in hierdie vers gebruik, is dieselfde as die Griekse woord wat letterlik, bewys van feit, beteken. Christus praat hier nie net van die verkondiging van die evangelie nie, maar om dit aan te bied as ‘n getuienis. Kortliks, die evangelie wat ons verkondig is slegs effektief as dit gerugsteun word deur ‘n lewe wat getuig van die werklikheid daarvan.

‘n Mens sou kon dink dat in Amerika, ‘n land vol duisende evangeliese kerke, daar ‘n sterk evangelie getuienis sal wees. Maar talle kerke het die ware evangelie van Christus in gedrang gebring en daar is baie min getuienis van sy heerskappy in die lewens van die gemeentelede. Hulle is nie ware getuies nie en die kerke floreer nie.

Te veel bedienaars, jonk en oud, hardloop oor die hele wêreld heen en soek na strategieë om groei in hulle kerke te veroorsaak. Hulle woon seminare, konferensies en “dinkskrums” by en soek na sleutel om ‘n groter kerk te bou. Ander stroom na “herlewings” in die hoop dat hulle nuwe metodes kan kry van hoe om die Heilige Gees te laat neerdaal op hulle gemeente. Maar dit verg meer as nuwe idee’s of strategieë om lande vir Christus aan te raak.

Ek is egter dankbaar dat daar uitsonderings is en dat God magtig werk in kerke waar herders ‘n visie kry en tyd op hulle aangesigte voor die Here deurbring. Hulle lei ook hulle gemeentes in ‘n dieper wandel met die Here. Al ons planne is verniet as Jesus nie op die troon is op elke gebied van ons lewens nie.