GETROUHEID IN DIE STORM

David Wilkerson (1931-2011)

Sommige van julle wat hierdie boodskap lees, is in die storm van julle lewens.

Jesus se dissipels het dreunende golwe verduur op 'n stormgesteisterde bootjie, terwyl hulle Meester vas aan die slaap was. Uiteindelik, toe die storm op die punt was om die boot te oorweldig, het hulle na Jesus uitgeroep en Hom daarvan beskuldig dat Hy nie omgee wat met hulle gebeur nie. "Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?" (Markus 4:38). Jesus het die storm stilgemaak, maar Hy was verstom oor die dissipels se gebrek aan geloof. Hy het gevra, "Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?" (Markus 4:40).

Miskien gaan jy op hierdie oomblik deur ‘n verskriklike storm in jou lewe: geldelike probleme, huweliksprobleme, probleme by die werk, vyande wat na jou toe aankom soos dreunende golwe. Daar is ‘n see van moeilikhede wat binne-in jou woed, maar die Here lyk of Hy deur dit alles slaap. Sê my, is jou geloof getap? Verdwyn dit stadig met elke nuwe teleurstelling? Miskien roep jy uit in jou hart, “Here, gee U nie om nie? Sal U my laat ondergaan in hierdie storm?”

Dit is vir ‘n tyd soos hierdie waarvoor Jesus hierdie wonderlike woorde gespreek het: “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:7,8).

Let op Jesus se vraag hier: Sal Hy geloof by sy kinders kry as hulle dae van duisternis en verdrukking moet verduur? Onlangs het ek gewonder of Jesus so ‘n vraag aan ons sou vra vandag, want vir dekades lank stroom mense steeds na kerke toe. Maar wat Jesus eintlik vra, is, “Sal die geloof van hierdie mense staande bly wanneer die storms kom?” Ons probleme kan so hoog opgestapel word en die skudding van nasies kan so vinnig kom, dat sommige hoop sal verloor en moed opgee. Ek vra jou: Sal Jesus jou getrou vind in jou uur van storm?