Gesifte Heiliges

David Wilkerson

“En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel. En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk. En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan. Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie” (Lukas 22:31-32).

Baie van julle weet van oorlede Kathryn Kuhlman, ‘n magtig gebruikte genesingsbedienares van Pittsburgh. Die Here het deur Sy genade my toegelaat om saam met haar te bedien in daardie stad vir meer as vyf jaar, en gedurende daardie tyd, het ek en Gwen haar baie goed leer ken.

Iets wat ek baie duidelik van haar onthou, was die gedempte stemtoon wat sy gebruik het wanneer ons oor Satan en die magte van die duisternis gepraat het. Op een geleentheid, het ek haar begin vertel oor ons werk met dwelmverslaafdes en alkoholiste in New York Stad. Ek veronderstel sy het gedink ek was te ongeërg oor die onderwerp van sataniese aktiwiteit, omdat sy, terwyl ek gepraat het, baie somber geword het en in daardie gedempte stemtoon vir my gesê het: “David, moet nooit hierdie onderwerp van geestelike oorloë of die sataniese magte ligtelik opneem nie. Dit is ‘n ontnugterende onderwerp.”

Na my kennis, het Kathryn Satan nie gevrees nie. Maar die onderwerp van owerhede en magte van die duisternis, was geen lagwekkende saak vir haar nie. God het haar geestelike oë gesien om ‘n gedeeltelike kykie te kry van die oorlog wat in die hemele gevoer word oor die siele van mense.

Toe Jesus op die aarde gewandel het, het Hy al te goed geweet van die wreedheid van die  magte van die bose en hoe Satan elke wapen in die hel teen Christus se dissipels aangewend het om die Here se dissipels te sif. Ek glo nie enigeen van ons ken of verstaan die groot konflik wat daar in die geestelike realm woed nie; ook besef ons nie hoe vasbeslote Satan is om alle heiliges te vernietig wat hulle harte vasbeslote gerig het om die hele pad met Christus te stap nie.

In ons Christelike wandel, kruis ons ‘n lyn – ek noem dit die “gehoorsaamheidslyn” – wat al die alarms in die hel laat afgaan. Die oomblik wanneer jy daardie lyn kruis tot ‘n lewe van gehoorsaamheid en afhanklikheid van Jesus, vasbeslote in jou hart om nooit terug te gaan nie, sal jy ‘n bedreiging vir die koninkryk van die duisternis word en ‘n teiken vir alle owerhede en magte. Die getuienis van elke gelowige wat hulle tot die Here bekeer met sy hele hart – honger na heiligheid en ‘n dieper wandel met Jesus – sluit in die skielike uitbreek van vreemde en intense moeilikhede, beproewings en toetse!

Miskien was jy eens ‘n deeltydse dissipel: Jy het Hom liefgehad, maar jy was geestelik lui. Jy was nie ‘n ywerige student van die Bybel of geneig tot geestelike dinge nie. Jy wou nie ‘n fanatikus wees nie, en dinge in jou lewe het heel glad verloop. Die duiwel het jou nie veel geteister nie, omdat jy ‘n draadsitter was.

Maar nou, het jy erns met God gemaak. Sy Woord het vir jou lewend geword – en jy bid, jy ween en jy het verlore siele lief. Alles het verander, insluitend jou toetse. Wat ‘n groot hartsverandering het jy beleef!

Terselfdertyd, het jy begin golwe maak in die onsigbare wêreld. Jy het die gehoorsaamheidslyn oorgesteek - en is nou 'n belangrike teiken vir die vyand.

Ons het almal hierdie soort teistering uit die hel beleef. Ek onthou hoe ek een nag in die bed gelê het en allerhande dinge wat teen my gekom het, probeer verwerk het. Het jy dit al ooit gedoen? Al wat ek kon sê was, “Here, dit is glad nie pret om getoets te word nie. Dit maak seer. Al wat ek kan doen, is om alles op U te werp en te gaan slaap.”

Een Sondagnag hier by Time Square Kerk, moes ek ons musiekuitvoering onderbreek om hierdie aankondiging te maak: “Iemand probeer om in te breek by ‘n geel Mercedes in 41ste Straat net buite die deur. As hierdie kar joune is, maak dat jy gou daar kom!” Diewe het reeds die radio gesteel en was besig om die kar te steel. Dank die Here, hulle het weggehardloop en die kar was gered.

Die eienaar van die motor was toe al die tyd ‘n pragtige, toegewyde vrou, ‘n prokureur wat ons kerk bywoon. Sy het later die week my kantoor geskakel en gesê, “Pastoor, ek het dadelik geweet dit was ‘n aanval van Satan om my te probeer weghou van die evangelie wat verkondig word by Times Square Kerk. Maar ek sal nie afgesit word nie!”

‘n Ander vrou van New Jersey se motormodderskerm was ingeduik en op ‘n ander geleentheid, was haar motor gesteel. Ek weet wat in daardie situasie gebeur het: Hierdie vrou het ook verander en het in die Here gegroei. Sy het die lyn vir Jesus oorgesteek – en Satan het haar geboelie en probeer ontmoedig om kerk toe te kom.

Times Square Kerk is reg in die middel van die hedendaagse Babilon geplant – in die middel van Broadway, die setel van Satan in New York Stad – en dit verteenwoordig ‘n groot bedreiging vir die magte van die duisternis.

Onlangs, toe New York Times ‘n storie gepubliseer het, “Times Square Kerk Kry Entoesiastiese Resensies,” het koerante in Swede, Italië en verskeie ander plekke dit ook opgetel. As hierdie sekulêre instellings notisie geneem het van wat hier gebeur, kan jy dink wat in die hel aangaan? Niks minder nie as ‘n krygsraad teen ons!

“Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif” (Lukas 22:31). Dit is hier waar Jesus die onderwerp bekendgestel het van die sifting van die heiliges. Sifting beteken om soos graan geskud en geskei te word of geskok te word deur die verontrusting van skielike beproewings.

In Christus se tyd, het graanwerkers ‘n sif gebruik voor hulle die gemaaide graan in sakke gesit het. Eerstens het hulle die koring in ‘n vierkantige houer geplaas, wat met ‘n net oorgetrek was, waarna hulle die houer omgekeer en hard geskud het. Die sand en grond sou deur die net val tot net die koringkorrels oorgebly het. Jesus het in wese aan Petrus gesê: “Satan dink jy niks anders as sand en grond is nie – en dat wanneer hy jou in die sif sit en jou skud, sal jy deurval tot op die grond!”

Petrus se sifting het gekom net nadat hy ‘n openbaring ontvang het van groot seëninge wat sou kom.

Petrus het pas ‘n belofte ontvang van ‘n vrugbare bediening. “En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:29-30). In Grieks, is die woord vir “beskik” geneem van ‘n stamwoord wat beteken “te kanaliseer.”

Jesus het hiermee ‘n ontsaglike belofte aan sy dissipels gemaak en in wese vir hulle gesê, “Ek gaan my koninkryk deur julle kanaliseer - net soos die Vader My ‘n kanaal van sy heerlikheid gemaak het!” Nie net sou hulle kanale van Christus se heerlikheid wees nie, maar hulle sou ook ‘n sitplek by die Here se tafel gegee word om ‘n leeftyd van intimiteit met Hom te geniet – as prinse wat heers en regeer saam met Hom!

Min het Petrus geweet dat terwyl Jesus hierdie kosbare beloftes aan hulle verkondig het, was Sy hart in biddende pyn oor wat Hy in die onsigbare geestelike wêreld gesien het. Satan was by die Vader se troon, waar hy Petrus aangekla het en toestemming gevra het om sy hande aan hom te slaan, soos hy met Job gedoen het. Sy beskuldiging kon moontlik soos die volgende geklink het: “Die Seun van God noem hierdie man, Petrus, ‘n ‘Rots’ en sê Hy wil hierdie man ‘n fondamentsteen van ‘n nuwe liggaam van gelowiges maak. Ek sê, hy is geen rots van geloof nie – ek sê hy is kaf, onwaardig om ‘n kanaal van U heerlikheid te wees. Laat my toe om hom te skud; laat my hom op die proef stel. Hy het ‘n goddelose sy! Hy sal nie hou nie. Hy sal misluk!”

Satan kan nie ‘n ware gelowige sif sonder toestemming van God nie

Satan vra om slegs diegene te sif wat sy werk bedreig. Maar waarom het Satan begeer om hom nou te sif? Waarom was hy so angstig om hom te toets? Vir drie jaar lank, het Petrus duiwels uitgedryf en siekes gesond gemaak. Satan het gehoor en geweet wat God vir Petrus beplan het. Trouens, daardie afgelope drie jaar was niks in vergelyking met die groter werke wat hy en die ander dissipels later sou doen nie. Satan het gehoor van Jesus se belofte van ‘n ander doop –  hierdie keer met Heilige Gees krag. En hy het gesidder.

Satan se teiken die boom met die potensiaal om vrug te dra. Op een of ander manier, het die duiwel geweet dat die man, Petrus, afgesonder was om baie vrug te dra – dat God hom mag en gesag sou verleen, wat magtig teen sy eie koninkryk van die duisternis gebruik sou word. Nadat hy reeds vir Judas laat val het, het Satan gedink hy sien ook ‘n mate van verdorwenheid in Petrus, waarop hy kon bou om Petrus te laat misluk.

Huidiglik, is sommige van julle in die sif – en jy word geskud en gesif? Waarom jy? Waarom nou?

Eerstens, jy behoort te juig, omdat God jou so ‘n reputasie in die hel gegee het! Satan sou nooit God se toestemming gevra het om jou te sif, tensy jy die gehoorsaamheidslyn gekruis het nie. Waarom anders sou die vyand moeite doen met jou, jou teister, vir jou moeilikheid maak, jou verskrik en  alles wat jy het laat wankel?

Satan sif jou omdat jy ‘n belangrike rol speel in God se kerk in hierdie laaste dae. God gaan weereens ‘n nuwe ding doen in hierdie laaste, groot herlewing. Jy is deur God afgesonder, vrygemaak en voorberei om ‘n kragtige getuie vir baie te wees. Hoe groter jou gawes, hoe groter jou potensiaal, hoe groter hou oorgawe aan die wil van God – die ernstiger sal jou sifting wees.

Petrus het gedink hy was geestelik sterk genoeg om vir Christus te sterf.

Petrus was nie bewus van enige ooglopende swakheid in homself nie. Luister na sy getuienis: “Here! ek is gereed om saam met U te gaan! Ek het drie wonderlike jare van die beste moontlike opleiding in die Woord ontvang. Ek het baie beleef – ek het ondervinding. Ek het duiwels sien vlug. Ek het skares na die Vader gelok. Ek het soveel gegroei – ek is eenvoudig nie meer die man wat ek drie jaar gelede was nie. Prys God! Ek is gereed om die hele pad saam met U te stap!”

Selfs die Here se waarskuwing het nie Petrus se selfvertroue laat wankel nie. Jesus het probeer om hom wakker te skud, om hom bewus te maak van die gevaar wat voorgelê het. Maar dit is asof Petrus nie ‘n woord gehoor het van hierdie skokkende waarskuwing nie. Dit het geen indruk op hom gemaak nie, omdat hy gee onderskeiding gehad het nie.

Petrus was in groot gevaar en enkele ure weg van die ongelooflike sonde wat hy sou pleeg. Tog, het hy vol selfvertroue voortgegaan en geroem. “Ek is gereed! Ek sal nie misluk nie. As enigiemand die hele pad saam met die Here sal stap, is dit ek!”

Sommige van julle wat nou hierdie boodskap lees, is net soos Petrus. God het sy hand op jou – jy het in die Here gegroei, en jy het Hom met jou hele hart lief – maar jy dink jy kan nie val nie. Jy is nie bewus dat Satan op die punt is om jou te sif nie, en dat jy ernstig aangeval gaan word deur die vyand nie.

Een voorbeeld kom tot my gedagtes: dié van ‘n kragtige jong evangelis, wat magtig deur God gebruik is om die siekes te genees. Hy het ‘n kosbare salwing en openbaring in die Woord gehad en God se hand was kragtig op hom. Toe het hy en sy vrou begin om uitmekaar te dryf – en uiteindelik, het hulle van mekaar af weggegaan.

Ongeveer daardie tyd, het hierdie jong evangelis sy oog op ‘n jong vrou gehad, maar wetend dat dit verkeerd sou wees om haar na te jaag, het hy besluit om “net ‘n vriend” te wees. Hy het begin om haar twee of drie keer ‘n dag te bel en elke aand vir ure, “net om oor Jesus te gesels,” het hy gesê. Uiteindelik het hy geskei en die ander vrou getrou. Ja, hy het steeds sy bediening – maar dit is ‘n fraksie van wat dit veronderstel was om te wees. Hy het God se beste misgeloop!

Daardie voorbeeld moes dien as ‘n duidelike waarskuwing vir ons almal om wakker te word. Mag God enige geestelike trots in ons harte uitdryf, en mag ons Sy waarskuwings in die Woord en van die kansel af hoor. Jy sien, binne 24 uur nadat Petrus geroem het, sou hy ‘n morele kreupele word, vloekend, deur lafhartigeid oorval en Christus drie keer verloën – dit was iets so boos en sleg, dat hy nooit gedink het dit was moontlik nie!

Jesus kon nie – en sou nie – die siftingsproses vir Petrus keer nie. Daar was iets binne-in hierdie dissipel wat drie jaar se suiwer lering nie kon aanraak nie; wat wonderwerke, tekens en wonders nie kon uitskud nie; wat Christus se waarskuwings nie kon uithaal nie. Daar was niks anders vir Jesus oor as om Petrus deur die vuur te laat gaan nie – in die hande van Satan in en in die oorweldigende vloedstroom in.

Petrus moes gebreek en verneder word – hy moes die trots sien wat binne-in sy hart gesluimer het. En so is dit met sommige van julle wat hierdie boodskap lees. Jy het dalk so ‘n gebrek aan onderskeiding, so ‘n blindheid teenoor jou selfvertroue, soos by Petrus, dat die enigste alternatief die sifting van Satan is.

Jesus was vir ons ‘n voorbeeld van hoe om ons mede-gelowiges te hanteer wanneer hulle val tydens hulle sifting.

“Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.” As ek na hierdie wonderlike voorbeeld van Christus se liefde kyk, besef ek dat ek amper niks weet van hoe om hulle wat val, lief te hê nie. Verseker is Jesus die “vriend wat sterker aanhang as ‘n broer” (Spreuke 18:24).

Jesus sien beide die goeie en die slegte in Petrus en kom tot die gevolgtrekking, “Hierdie mens is waardig om gered te word! Satan begeer hom, maar Ek begeer hom baie meer.” Judas kon nie gered word nie, want hy het geen hart vir die Here gehad nie. Hy was uitverkoop aan hebsug en gierigheid, en dit was ‘n oop deur vir Satan. Maar Petrus het die Here waarlik liefgehad.

Jesus het gesê, “Ek het vir jou gebid!” nie “Ek sal vir jou bid nie.” Jesus het dit al lankal sien kom. Hy het waarskynlik baie ure met die Vader oor Petrus gepraat – hoe lief Hy hom het, hoe nodig hy was in God se Koninkryk en Hy hom waardeer het as ‘n vriend.

Here, gee ons almal daardie soort liefde! Op daardie manier, wanneer ons sien dat iemand ‘n kompromie maak of op pad is na moeilikheid of ellende, sal ons hulle genoeg liefhê om hulle net so ferm te waarsku as wat Jesus Petrus gewaarsku het. Dan sal ons in staat wees om te sê, “Ek bid vir jou!”

Ons moet dit in liefde sê, nie op ‘n beskuldigende manier, soos, “Jy is so sleg, so gekompromitteerd – jy het al die gebed nodig wat jy kan kry!” nie. Of, “Ek gaan vir jou bid – jy het dit sekerlik nodig!” nie. Nee, ons moet dit in liefde sê – en dit dan doen.

Neem daardie mense na God se troon, pleit vir hulle om deur hulle beproewings te kom met hulle geloof in een stuk. Jesus het nie vir Petrus gepreek nie. Hy het nie vir hom gesê, “Petrus, as jy maar net geluister het. As jy tog net wakker gebly en saam met my gebid het in die tuin. As jy net nie so trots was nie!” Jesus het egter bloot gesê, “Ek bid vir jou.”

Iemand het eens ‘n gerug vertel dat ‘n sekere vals profeet sy kansel weens owerspel moes ontruim. Sonder daarvan seker te maak, het ek die gerug oorgedra. Toe my gewete my gepla het, het ek gedink, “Wel, hy verdien dit – hy het baie lewens so opgemors. Dit sou in elk geval gebeur!” Nie een keer het ek vir hom gebid dat God hom sou terugbring na ‘n ware geloof in Christus nie.

“Ek het vir jou gebid.” In die Grieks is “jou” die meervoud, wat beteken, “julle almal.” Jesus het nie net met Petrus gepraat nie, maar ook met al die dissipels – en met ons vandag: “Ek bid vir hulle; Ek bid vir nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort...Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam die wat U My gegee het...Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:9,11b,15).

Maak nie saak waardeur jy gaan of wat vir jou voorlê nie – as jy ‘n hart vol liefde vir Jesus het, bid Hy vir jou. Jesus het nie gebid dat Petrus bewaar sou word van Satan se siftingsproses nie; liewer, Hy het net gebid dat sy geloof nie sou ophou nie. En dit is Satan se primêre teiken: ons geloof. In slegs ‘n paar kort ure, het die duiwel omstandighede in Petrus se lewe ingebring wat sy geloof en sy liefde vir Jesus ernstig getoets het.

Daar is toetse en beproewings, ja – maar dan is daar ‘n sifting! Ek sien die laaste as een belangrike, volskaalse sataniese aanslag om ons geloof omver te werp. Dit word gewoonlik in ‘n baie kort, maar intense periode van tyd ingedruk. Vir Jesus was dit 40 dae en 40 nagte, terwyl Satan teen Hom gekom het met elke misleiding van die duisternis. Vir Petrus was dit ‘n paar dae. Maar daardie dae sou die mees geloof-skuddende, skokkende en berouvolle dae van sy lewe wees. Tog, deur dit alles heen, het Jesus gebid!

Jesus het die aanslag oorwin met “Daar is geskrywe!”

 “Daar is geskrywe; Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4). “Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie” (Matthéüs 4:7). “Daar is geskrywe; Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Matthéüs 4:10). Toe Jesus gekonfronteer was met die duiwel se planne, het Hy dit oorwin met God se Word.

Vandag, het ons nog ‘n “Daar is geskrywe”: “Ek het vir jou gebid dat jou geloof nie ophou nie.” Ons kan vir die duiwel sê, “Jy mag toestemming hê om my te sif, om te probeer om my geloof af te breek, maar jy moet weet – my Jesus bid vir my!”

Petrus se geloof was beproef en geskud – en as gevolg van sy trots, het hy gestruikel. Maar in antwoord op die Meester se gebed, was die wortels van Petrus se geloof nie vernietig nie. So op die ou end, het sy geloof nie opgehou nie. Net wanneer Satan skreeu van blydskap en dit lyk asof die Here ‘n vriend en ‘n gesalfde verloor het – het Petrus met net een kyk in die oë van Jesus vermurwe! “En die Here het Hom omgedraai en het Petrus aangekyk...En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween” (Lukas 22:61-62).

“Bitterlik geween” in Grieks beteken in werklikheid “’n deurdringende, geweldige uitroep.” “Petrus het die woord van die Here onthou wat Hy vir hom gesê het...jy [sal] My drie maal verloën” (Lukas 22:61). Ek stel my voor die dissipel loop na die Judese heuwels, val op sy aangesig met sy hande uitgestrek en roep uit, “O Vader, Hy was heeltemal reg! Ek het nie geluister nie. Hy het my gewaarsku dat Satan sou probeer om my geloof te vernietig. Ek is nie gereed nie! Sterf vir Jesus? Wat, ek kon nie eers staande bly teen ‘n jong diensmeisie nie. Vergewe my! Ek het Hom lief – na wie toe sal ek gaan?”

Ek glo Petrus se geloof het aan iets anders vasgegryp wat Jesus gesê het: “En as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” (Lukas 22:32). Hoeveel keer het Petrus dit oor en oor in sy verstand en hart bepeins en gewonder, “Het Jesus gesê ‘bekeerd,’ teruggebring?” Het Hy nie gesê dat ek steeds ‘n bediening sal hê nie? Ek kan dit net nie nou sien verwesenlik nie. Na dit wat ek gedoen het, is ek veronderstel om ander te help?”

Die Vader het sy Seun se gebed verhoor. Ek kan sien hoe Petrus van die grond af opgestaan het met die Gees van God wat deur Hom vloei, sy arms na die hemel uitgestrek, sê, “Satan, wyk! Ek het Hom teleurgestel, maar ek het Hom steeds lief. Hy het belowe –trouens, Hy het geprofeteer – ek sal terugkom en ander versterk. Ek gaan nou terug na my broers en susters!”

Petrus was by die ander tien dissipels toe Jesus in hulle midde verskyn het. Hy was daar in aanbidding toe Jesus opgevaar het na die hemel. Hy was die eerste dissipel wat na die graf gehardloop het, toe daar vertel is dat Hy opgestaan het. Dit was Petrus, wat as God se woordvoerder opgestaan het op Pinksterdag – en wat ‘n preek het hy gepreek!

Glo my, sal daar ‘n oorvloed van nuwe bekeerlinge kom, beide Jode en Heidene, sowel as baie afvalliges. Waar sal hulle die krag kry in die moeilike tye wat voorlê? By bekeerde, gesifte heiliges – wat met gesag kan sê, “Moenie op jouself vertrou nie. ‘Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie’” (1 Korinthiërs 10:12).

Is daar ‘n verleidelike lokmiddel in jou lewe? Is daar een of ander soort moeilikheid aan die broei? Luister liewer na die woorde van Jesus en besef dat Satan moontlik toestemming gegee is om jou te sif. Moenie dit ligtelik opneem nie!

Geliefde, jy hoef nie te misluk soos Petrus nie. Trouens, ons moet hierdie storie lees en daardeur gewaarsku word. Maar as jy misluk het, as jy die Here Jesus bedroef het – kyk dan in Sy gesig soos Petrus en onthou dat Hy vir jou bid. Bekeer jou, draai terug en deel jou belewenis met andere wat ook gesif word.

Ek vra die Here om my dieselfde soort woord van hoop te gee vir gevalle broers as wat Jesus het. Hy het nie gesê, “As jy terugkom of as jy bekeerd is nie.’” Hy het gesê, “Wanneer jy bekeerd is!” Ek wil in staat wees om na ons huilende, gebroke, skape wat misluk te kyk en met hoop en vertroue te sê. “Wanneer hierdie siftingsproses verby is – wanneer jou geloof sterker is – wanneer jy terugkom, sal God jou gebruik!”

Ek wil nie moed opgee met die wat val nie. Onthou, Satan sou nie teen jou gekom het nie, tensy hy ‘n stukkie heiligheid en gehoorsaamheid in jou hart gesien het!