GENOEG REDE OM TE JUIG

David Wilkerson (1931-2011)

Paulus sê, “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efésiërs 1:3). Paulus sê vir ons in wese, “Almal wat Jesus volg, is geseënd met geestelike seëninge in die hemele, waar Christus is.” Wat ‘n ontsaglike seën.

Paulus het hierdie sendbrief geskryf “aan die gelowiges in Christus Jesus” (1:1) – gelowiges wat seker was van hulle saligheid. Die Efésiërs was goed onderrig in die evangelie van Jesus Christus en in die hoop van die ewige lewe. Hulle het geweet wie hulle in Christus was en hulle was verseker van hulle hemelse posisie in Hom. Hulle het volkome verstaan dat God Jesus uit die dood laat opstaan het en Hom aan die Vader se regterhand laat sit het (1:20); hulle het geweet dat hulle deur God uitverkies was voor die grondlegging van die wêreld (1:4); en hulle het begryp dat hulle aangeneem was deur Jesus Christus vir Homself” (1:5).

Toe die Efésiërs die woord van waarheid gehoor het, het hulle dit geglo en daarop vertrou. Trouens, hulle was gegrond in die waarheid dat hulle gemaak is om saam te sit “in die hemele in Christus Jesus” (2:6). Met ander woorde, hulle was goed onderrig in gesonde lering en hulle het geweet hoe om die blydskap van die beloftes van God in besit te neem. Ek vertrou dat jy soos daardie Efésiërs is: ‘n getroue, goed onderrigte gelowige en jy aanvaar die oorwinning wat deur geloof alleen kom en nie deur werke nie.

Jy mag dalk nie voel jy is in ‘n “hemelse plek” nie, maar die oomblik toe jy jou vertroue in Jesus geplaas het, het Hy gekom en sy woning in jou hart gemaak. Paulus sê vir ons God het ons laat sit saam met Christus, sodat “ Hy...kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in die goedertierenheid oor ons in Christus Jesus” (2:7). Hy beklemtoon dat die effek wat ons in ons daaglikse lewens sal sien, God se liefdevolle, hartlike goedheid is. Daarom kan ons wakker word en roep, “Halleluja! God, Christus en die Heilige Gees wil naby my wees.” Dit is sekerlik ‘n rede om te juig!