GENEES HIERDIE VERONTRUSTE SIEL

David Wilkerson (1931-2011)

‘n Jong herder het my geskakel, gereed om uit die bediening te bedank. Die Here het hom op ‘n wonderlike manier gebruik, maar nou was hy moedeloos en het waardeloos, nutteloos en nikswerd vir God gevoel. Toe hy my geskakel het, was hy verpletter oor ‘n paar besluite wat hy geneem het en hy het aangedui hy was gereed om op te gee. Hy was kwaad vir God en toe hy met my gepraat het, het ek agtergekom dat hy van my verwag het om ook kwaad te wees vir hom. Maar hy was so gebroke en neerslagtig, dat ek net God se liefde en deernis vir hom gevoel het.

Ek het hierdie jong herder nie geroskam of bestraf nie. In teendeel, ek het stil gebid, “Dierbare Here, wat kan ek vir hierdie man sê wat sy verontruste siel kan genees? Wat het U vir hom? Watter trooswoord van U Gees, U Woord?”

Die Here het my gedring, “Gee vir hom Psalm 17.” Later het ek ontdek dat hierdie psalm die “Ou Testament liefdesfees” genoem word. Dit is een van die mees bemoedigende gedeeltes in die hele Woord van God en dit is bedoel vir diegene wat vergifnis, verlossing, en herstel nodig het. Die laaste vers belowe die leser ‘n begrip van wie God werklik is:

“Wie wys is, laat hom op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenheid van die HERE” (Psalm 107:43).

God sê in wese, “Onderhou, lees, bestudeer hierdie psalm en jy sal ‘n omvattende begrip van my lankmoedigheid en goedertierenheid kry.” Ek glo as jy hierdie hele psalm bestudeer, jy ‘n openbaring van God se groot liefde sal kry, selfs teenoor die opstandiges en ongehoorsames. Jy sien, dit is ‘n belofte – ‘n bewys dat God nooit enige van sy kinders sal verlaat nie, ongeag hoe laag hulle kon gedaal het.

Dink aan hoe lief jy jou eie kind het. Is daar enigiets wat daardie kosbare kind kon doen wat sou veroorsaak dat hy hom verwerp? Hoeveel meer het die hemelse Vader sy eie kinders lief en hou Hy sy liefde en vergifnis vir ons uit! Sy oor is altyd oop vir ons geroep.