GENADE VIR ‘N LEEFTYD

Gary Wilkerson

Skenk God guns, seën Hy oorvloedig en stort Hy sy genade uit op honger, wagtende harte? Die antwoord is ja – en ons vind dit geïllustreer in die storie van Christus se geboorte.

‘n Engel het aan Maria verskyn om die verstommende gebeurtenis wat op die punt was om in haar lewe te gebeur, aan te kondig: “En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken” (Lukas 1:26-29, kursief myne).

Bybelkenners sê Maria was op daardie stadium baie jonk en waarskynlik ‘n tiener. Verbeel jou hoe vreemd hierdie ontmoeting vir haar moes gewees het. Hier was ‘n eenvoudige meisie van ‘n klein dorpie en familie en ‘n groot, vreesaanjaende engel wat voor haar staan en roep, “Wees gegroet, begenadigde!”

Toe het hy ‘n ongelooflike aankondiging gemaak: “En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word” (Lukas 1:30-32, kursief myne).

Dikwels sidder mense van vrees as ‘n engel aan hulle verskyn, maar Maria was nie bang nie, hoewel sy “baie ontsteld” was oor wat die engel oor genade gesê het. Sy het in ‘n manlik-gedomineerde kultuur geleef en haar lewe het geen ware bewyse van genade gehad nie – maar ‘n verandering was op die punt om plaas te vind in haar lewe en in die wêreld!

Jy wil dalk graag sien dat jou omstandighede verander. Jy mag siekte, ‘n spanningsvolle huwelik, ‘n opstandige kind of ‘n verpletterende finansiële behoefte beleef. Soos Maria, kan jy ook God se genade ontvang en daarvan getuig soos sy in haar loflied, “Ek is geseënd deur die Here omdat Hy my te alle tye sien, in al my omstandighede. Hy kan dinge uitdink waaraan ek nooit eens kon dink nie.”

“En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees” (Lukas 1:50). Dit sluit jou in!