GENADE GENOEG VIR JOU

David Wilkerson (1931-2011)

Die Skrif sê van Moses se tyd: “En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie . . . en hulle het . . . weelderig gelewe deur u grote goedheid” (Nehemia 9:21,25).

Ek vra jou, verheug jy jou in die Here se goedheid teenoor jou? Miskien is jy meer geneig om in jou hart te fluister, “God was nie goed vir my nie. So baie dinge in my lewe is nie afgehandel nie. My gebede word nie verhoor nie.”

As God driemiljoen Israeliete veilig deur die woestyn kon lei, twyfel jy dat Hy vir jou kan sorg? Jy mag jou verwonder oor hoe Hy vir Israel beskerm en voorsien het, maar as jy na jou eie lewe kyk, sê jy, “Arme ekke.”

Israel was nooit oortuig dat al hulle behoeftes voorsien sou word deur volkome op God te vertrou nie. In daardie opsig, was hulle nie ‘n heilige volk nie. Inteendeel, hulle was ongehoorsaam, astrant en afgodies. Eenkeer het Moses selfs vir hulle gesê, “Sedert ek julle ken, is julle geneig om afvallig te word.”

Tog, wanneer dieselfde Israeliete tot God uitgeroep het, het Hy hulle verhoor. Hy was hulle genadig. Sê vir my, sal die Here nie des te meer die uitroepe hoor van hulle wat Hom vandag liefhet nie? Sal Hy ons, wat ons afgodery verlaat het en Hom passievol najaag, nie verhoor nie?

Miskien is dit vir jou moeilik om te glo. Diep binne is jy nie oortuig dat God alles het wat jy nodig het en dit sal voorsien nie. Jy beskuldig Hom van ‘n ongeskikte Vader. Jy beskuldig Hom dat Hy al die mag en gesag het om vir jou te voorsien, maar dat Hy dit vir jou wegsteek.

Dit maak nie saak wat jou probleem is, of hoe verwarrend die doolhof is waardeur jy tans moet navigeer nie. As jy getrou op Jesus wag, sal Hy jou wysheid, kennis en genade gee wat genoeg is vir jou beproewing. Hy het nog altyd ‘n weg gemaak vir hulle wat volkome op Hom vertrou. En Hy sal dit vir jou ook doen.