GELOOF UITOEFEN

David Wilkerson (1931-2011)

Geloof is ‘n bevel en God reageer op hulle wat dit uitoefen. Die meeste van die geskrewe getuienisse wat ons ontvang in ons kantoor, bevat ook hierdie waarheid.  Elke keer wanneer ‘n gelowige die waarheid van God se Woord uitgeoefen het, het Jesus na daardie persoon gekom. En sy dienende Gees het vir hulle vertroosting gebring en hulle krag vernuwe in hul donker uur.

Natuurlik is dit nie altyd maklik om geloof uit te oefen wanneer ons ly nie. Dikwels het ons net nie die krag wanneer lyding ons oorweldig nie. Gedurende sulke tye kan Christene God se beloftes laat verbyglip.

C.H. Spurgeon, een van die grootste predikers in die geskiedenis, het aan erge depressie gely – gedurende hierdie era het hierdie toestand bekend gestaan as “melancholie.” Wat was Spurgeon se oplossing? Hy het aan die Psalms vasgehou. God se ewigdurende beloftes was vir Spurgeon die enigste ware bron van vertroosting wanneer dit gelyk het asof sy wêreld rondom hom in duie stort. Wanneer hierdie groot prediker nie die krag gehad het om dit self te lees nie, het hy iemand gevra om dit vir hom te lees, omdat hy geweet het dat dit vir hom vertroosting en krag sou bring. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17).

“Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Ek glo hierdie woord is veral bedoel vir gelowiges in hulle tyd van beproewing. Die Here sê, “Ek het ‘n beloning vir jou in jou beproewing. Ek het vir jou ‘n seën van krag bewaar vir hierdie tyd en Ek wil hê jy moet dit hê. Jaag dit na!”

Ons moet onsself versadig met God se Woord – om met sy beloftes bekend te wees, om op sy getrouheid te vertrou en om aan die waarheid vas te hou. Dit is die enigste manier waarop ons die demoniese stemme van die vloedstrome kan stilmaak.

Hoe beter ons die grootheid van ons God verstaan en daarin glo, hoe beter sal ons voorbereid wees vir die dae wat voorlê.