GELOOF GROEI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het ‘n vraag gevra in Lukas 18:8: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” Ek het nog altyd gewonder oor hierdie vraag. Wat sou die Here daarmee bedoel? As ek vandag na die Kerk kyk, dink ek geen ander geslag was so gefokus op geloof as ons s’n nie.

Almal blyk oor geloof te praat; seminare en konferensies oor geloof word oral in die land gehou; boeke oor die onderwerp vul die rakke van Christen boekwinkels. Ons het geloofspredikers, geloofsleraars, geloofsbewegings, selfs geloofskerke. Dit is jammer dat dit wat die meeste mense vandag as geloof beskou, glad nie geloof is nie en God sal baie van wat as geloof genoem en beoefen word, verwerp. Hy sal dit eenvoudig nie aanvaar nie. Waarom nie? Omdat dit verdorwe geloof is.

Vandag vermenslik baie predikers die onderwerp van geloof, en beskryf dit asof dit bestaan slegs vir persoonlike wins of om selfsugtige behoeftes te bevredig. “As jy dit kan droom, kan jy dit besit.” Dit is aardsgebonde, materialisties en gewortel in hierdie wêreld.

My boodskap aan diegene wat Jesus waarlik liefhet en deur geloof wil lewe op ‘n manier wat Hom behaag, is dit: Alle ware geloof word gebore uit intimiteit met Christus. Trouens, as jou geloof nie uit sulke intimiteit kom nie, is dit glad nie geloof in sy oë nie.

“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang” (Hebreërs 11:1-2).

Verskeie helde van geloof word in Hebreërs 11 genoem en ons vind iets wat ooreenstem in hulle almal se lewens. Almal het ‘n persoonlike, intieme verhouding met die Here gehad. Ons sien Abel (11:4); Henog (11:5), Noag (11:7); en Abraham (11:8). Al hierdie manne het met geloof gesterf – die wêreld was bloot nie hulle tuiste nie.

Smag jou hart na ‘n nouer wandel met die Here? Is daar ‘n toemende ontevredenheid binne-in jou met die dinge van hierdie wêreld? Soek dan die Here self! Bring tyd deur in sy teenwoordigheid en jou geloof sal groei.