GEKLEE MET KRAG

Gary Wilkerson

Die Skrif toon vir ons vier maniere waarop die Gees in ons lewens werk. Eerstens, soos Jesus sê, niemand leer Hom ken nie, tensy hulle deur die Gees weergebore is. Daarom woon God se Gees in elke Christen. Tweedens, ons is geroep om in die Gees te bly en om innig met Hom in gebed te verkeer. Derdens, ons moet voortdurend gevul wees met die Gees, en voortdurend van sy fontein van lewende water drink. Dit beteken nie dat die Gees ons verlaat nie, maar liewer, dat óns ‘n aandeel het in ons verhouding met Hom.

Laastens, is daar ‘n uitstorting van die Gees wat ons vul met krag, iets bokant ons vermoë om op te wek. Jy mag dalk wonder, “As ek deur die Gees gebore is, en die Gees in my bly, en ek voortdurend van die Gees drink, waarom moet die Gees op my uitgestort word?” Omdat dit ons help om ons behoefte vir God te verstaan. Ons sou nooit die werke van sy koninkryk kon doen met ons eie passie of ywer nie. Dit moet van Hom af kom.

Soms verstaan ons dit verkeerd in die Kerk: Ons dink God kies die vurige persoon, die een wat almal aan die brand sal steek vir God. Maar die Here soek nie ‘n vurige hart nie; Hy soek ‘n honger hart – een wat Hy kan vul met sy eie gedagtes, hart en Gees. Dit beteken selfs die mees sagmoedige onder ons kwalifiseer.

Let op die woord wat Jesus gebruik om die uitstorting van die Gees te beskryf:  “Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 2:49). Dit dui op ‘n uitwendige werking van die Gees in ons lewens, iets wat van buite onsself kom. Alle ander werke van die Gees binne-in ons is innerlik – om weergebore te word, inwoning, ons vol drink. Maar hierdie is ‘n daad wat net God vir ons kan doen. Ons is van Hom afhanklik om dit vir ons te gee.