GEEN TYD OM TE BID NIE – REGTIG?

David Wilkerson

In die eerste eeuse kerk in Jerusalem, was die Griekse weduwees afgeskeep in die daaglikse verspreiding van voedsel. Hulle het die hulp ingeroep van die leiers in die kerk, maar húlle het nie gevoel dit is reg om hulle gebedstyd en bestudering van God se Woord prys te gee net om oor hierdie administratiewe takie toesig te hou nie.

Die apostels het die kerkliggaam byeengeroep en gesê, “Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om tafels te bedien nie” (Handelinge 6:2). Die gevolg is dat sewe mans van “goeie getuienis” aangestel was om al die besigheidsake van die kerk te hanteer. In die tussentyd, het die apostels beloof, “Maar ons sal volhard in die gebed en in die bediening van die woord” (Handelinge 6:4). Hierdie reëling het daartoe gelei dat die woord van God toegeneem het en die getal van die dissipels baie vermeerder het” (sien 6:7).

Vandag maak baie min bedienaars hierdie soort opoffering. Een bedienaar het my in die oë gekyk en reguit vir my gesê, “Daar is te veel eise op my tyd dat ek nie tyd het om te bid nie.” ‘n Ander pastoor het teenoor my bely, “Ek het in maande nie gebid nie. Ek mediteer en het vinnige gebede elke nou en dan, maar ek kan myself nie in die dissipline van gebed inbring nie.”

Ek wil nie enige hardwerkende, toegewyde bedienaar van God veroordeel nie, maar sy eie Werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Vandag is talle predikers van die evangelie nie daarvan bewus dat hulle slagoffers geword het van ‘n sataniese komplot van onderbrekings nie. Sommige van hulle is heeltyd besig en gaan gebuk onder ‘n toestroming van pligte en besonderhede.

Ek dank God egter dat ons nooit oorgelaat word aan die Satan en al sy planne nie. Ons kan sy taktiek blootlê, die woord van waarheid spreek, en in Christus se naam elke enkele onderbreking stopsit. Deur die krag van God se Gees binne-in ons, kan ons ons pad na die Here se poorte oopmaak – en met vrymoedigheid na sy troon van genade gaan om hulp te kry in ons tyd van nood. Dit is wat die Here vir ons almal begeer!