GEEN KOMPLOT TEEN JOU SAL IETS UITRIG NIE

David Wilkerson

Het jy geweet dat Satan soms mense laat saamspan net om jou werk vir God te verhinder? Hulle sal verenig teen jou kom in ‘n poging om jou te ontmoedig en om jou bediening te diskrediteer. Maar as jy op ‘n goddelike sending is – en geroep is om ‘n werk vir die Here te doen – sal niemand se komplotte teen jou iets uitrig nie.

Nehemia was deur God geroep om die mure van Jerusalem te herbou. Die werk het baie goed gevorder, toe Satan ‘n byenes oopgekrap het om dit alles te keer. Vier baie prominente leiers het verenig gekom in ‘n komplot “... om my [Nehemia] kwaad aan te doen” (Nehemia 6:2).

Vier keer het hierdie leiers ‘n strik vir Nehemia gestel en na hom geroep, “Ons dring daarop aan dat jy van jou muur afklim en met ons kom praat!” Maar vier keer het Nehemia gesê, “Ek gaan nie van hierdie muur afklim nie! Ek het werk om te doen omdat God my aangestel het om dit te doen!”

Geliefde, jy kan nie betrokke raak by mense wat net wil argumenteer nie. Dit is alles bedoel om jou aandag af te trek en jy moet voortgaan met God se werk. Begryp dat die rede waarom Satan kom teen jou gebedslewe, jou toewyding aan God en jou wandel met Hom, is nie net om jou te laat val nie. Hy wil ook die bediening wat God vir jou gegee het, ruïneer en enigiets wat jy doen wat eer aan die Vader bring, vernietig.

Hierdie leiers het ‘n reeks gerugte teen Nehemia versprei wat talle bevooroordeeld teenoor hom gemaak het. Al hierdie komplotte was ontwerp om vrees in Nehemia se hart in te boesem, sodat hy moedeloos sou word en vlug.

Maar nie een van hierdie strikke kon die werk van God keer nie! Die Skrif sê: “En die muur is voltooi. . . En toe al ons vyande dit hoor, het al die nasies rondom ons bevrees geword en neerslagtig gevoel, en hulle het erken dat hierdie werk deur ons God gedoen is” (Nehemia 6:15-16).

Wanneer jy standvastig bly, sal die werk van God voortgaan en ander rondom jou sal notisie neem en Hom saam met jou verheerlik.