GEBEDE VAN GELOOF

David Wilkerson (1931-2011)

Gebed is die geheim van geestelike groei, maar as ons net na die troon toe gaan vir ons eie behoeftes en groei, dan is ons selfsugtig. Die Bybel wys vir ons dat ons nie mag nalaat om ernstig te bid vir die dringende behoeftes rondom ons nie en dit gee vir ons voorbeelde van “helpende gebede” (sien 2 Korinthiërs 1:11).

Mense sê dikwels, “Ek sal vir jou bid,” en hulle sal dalk een of twee keer bid en dan vinnig vergeet van die ander persoon se behoefte. ‘n Ware gebedshelper is een wat sonder ophou bid vir die behoeftes van ander. Hy bid nie net een keer en hou dan op met bid nie. Nee, hy doen voorbidding dag na dag.

Jou gebed hoef nie lank te wees nie. Stel bloot jou versoek en vertrou God om jou te verhoor.

Dit was eenkeer vir my geïllustreer toe ek siek in die bed was. Een van my kleinseuns het ingekom en aangekondig, “Oupa, ek gaan vir jou bid.” My helpertjie het sy hande op my hoof gelê en gebid, “Jesus, maak hom heeltemal gesond.”

Ek het geglimlag en hom bedank. Maar hy het aangehou om na my te kyk. Uiteindelik het hy gesê, “Jy is gesond. Staan op!” So, ek het opgestaan – en ek was gesond. Sy gebed van geloof het my weer op die been gebring.

Magtige verlossings vind plaas wanneer God se heiliges Hom ywerig met kinderlike geloof soek vir ander se behoeftes. Ons kan na die Skrifte kyk en sien hoe God kragtig gewerk het as gevolg van gebed en daardeur aangemoedig word om helpers in gebed te wees. Kyk hoe Paulus ‘n roerende getuienis hiervan gee:

“Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; want ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos, terwyl julle ook vir ons saamwerk deur gebed, sodat daar vir die genadegawe aan ons deur baie persone op baie maniere vir ons gedank mag word” (2 Korinthiërs 1:9-11).