GEBED WAT SATAN SE PLANNE TEËSTAAN

David Wilkerson (1931-2011)

“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Die Bybel sê vir ons baie duidelik dat in hierdie laaste dae, beleef die Kerk van Jesus Christus die toorn van ‘n woedende duiwel. Satan weet sy tyd is kort en hy is vasbeslote om God se kinders te verslind (sien Openbaring 12:12). Op wie rig die duiwel sy toorn? Hy rig dit op gesinne dwarsdeur die wêreld en sy doel is eenvoudig: bring ondergang en verwoesting na elke huis waar hy moontlik kan.

Jesus verwys na hierdie demoniese werk wanneer Hy Satan beskryf en sê, “Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af” (Johannes 8:44). Ons sien inderdaad die vyand se vernietigende plan teen die heel eerste gesin – dit was die duiwel wat Kain ingevaar het en hom oortuig het om sy broer Abel dood te maak.

Daar kom ‘n tyd wanneer sekere lewensituasies verby menslike hoop is en iemand moet by Jesus uitkom! In die evangelie van Johannes, vind ons so ‘n gesin in ‘n krisis: “Daar was ‘n seker koninklike beampte wie se seun in Kapérnaüm siek was” (Johannes 4:46). Dit was ‘n vername gesin, miskien self koninklik, maar ‘n gees van dood het oor hulle huis gehang. Maar iemand in daardie geteisterde huis het geweet wie Jesus was en het gehoor van sy wonderwerkende krag. Uit desperaatheid, het die vader dit op homself geneem om die Here te vind en die Skrif sê vir ons, “Toe hy hoor dat Jesus uit Judéa in Galiléa gekom het, gaan hy na Hom” (4:47).

Hierdie koninklike beampte was vasbeslote en toe hy by Jesus kom, het hy Hom gevra “om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê” (4:47). Wat ‘n wonderlike beeld van voorbidding; hierdie man het alles opsy geskuif om die Here te soek. En toe het Christus ‘n woord met hom gespreek, wat die man geglo het (sien Johannes 4:50) en hy het sy wonderwerk gekry!

Vurige, aggressiewe gebed staan Satan se vernietigende planne teë om jou gesin te vernietig. Bid in geloof en glo dat jy ‘n wonderwerk sal ontvang.