FLOREER IN ALLE OMSTANDIGHEDE

Gary Wilkerson

“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: verbly julle” (Filippense 4:4).

“Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (4:11-13).

In hierdie brief aan die Filippense, kon Paulus, hierdie geharde krygsman van die kruis wat deur allerhande soorte swaarkry gegaan het, praat met die liggaam van gelowiges wat hy so innig liefgehad het en vir hulle sê, “Broers en susters, ek wil hê julle moet julle in die Here kan verbly soos ek my in die Here verbly!”

Deur sy voorbeeld, het Paulus gewys dat hy geweet het hoe om in enige omstandighede te floreer, omdat hy die geheim geleer het om op die Here te vertrou – en homself selfs te verbly – onafhanklik van sy omstandighede. Interessant genoeg, Paulus skryf aan hulle vanuit ‘n tronk in Rome. Eintlik was dit meer as ‘n tronk; dit was ‘n kerker, ‘n grot, so klam van die kondensasie op die vloer dat wanneer Paulus saans gaan lê het om te slaap, was daar water op sy gesig en lyf. Sulke verskriklike toestande kon hom kwaad gemaak het, maar die Heilige Gees het ‘n sagtheid in hierdie man se karakter ingewerk wat veroorsaak het dat hy in alles dankbaar kon wees. Selfs wanneer daar oorloë rondom hom gewoed het, het hy hom verbly in die goedheid van sy Here.

Werk jy in ‘n spanningsvolle omgewing, saam met mense met kleinlike houdings? Die situasie in jou gesin is moontlik moeilik, vol twis en woede, en selfs jou buurt is dalk in onrus. Paulus leer ons hoe om te reageer op dinge wat ons nie kan oplos nie: trouens, hy was so seker van sy boodskap dat hy dit herhaal het: “Verbly jou! Hou jou hart gefokus op die Here en verbly jou!”